Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Só kan ons geweld en verkragtig stop, sê US-werknemers en studente
Outeur: Jacobie M. Helena
Gepubliseer: 12/02/2019

Ter ondersteuning van die Wêreldraad van Kerke (WRK) se wêreldwye Thursdays in Black-beweging het die Gender-eenheid van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch op 7 Februarie hul eie Thursdays in Black-veldtog geloods. Die protesbeweging teen álle vorme van geweld en verkragting vereis dat mense op Donderdae swart dra in solidariteit met slagoffers van geweld en verkragting. 'n Paar US-werknemers het die vraag oor hoe húlle dink geweld en verkragting uitgewis kan word, geantwoord.

“As mense volgens die leuse “Don't do to others that you wouldn't do to yourself!" leef," sê me Estelle Muller.  

“Verkragting, seksuele misbruik en teistering sal uitgewis wees wanneer mans vroue waarlik en volkome as hulle gelykes beskou, en as hulle hul mag nie meer gebruik om die ander te oorheers, beheer en manipuleer nie. Daar was 'n ruk gelede 'n veldtog: Real men do not rape. Ware mans verwond nie vroue in liggaam en gees nie," sê prof Julie Claassens.

“Deur krities om te gaan met die gender-verwagtinge en genderrolle wat ons so dikwels as vanselfsprekend aanvaar in ons gemeenskappe – dit wat die basis vorm van gewelddadige optrede en patriargale gedrag," sê dr Nina Müller van Velden  

“Die geweld teen vroue en kinders kan slegs uitgewis word deur 'n kollektiewe poging aan te wend. Dit beteken vir kerke om raak te sien dat geweld op verskillende maniere ons lewens vorm omdat geweld genormaliseer geword het. Ons taak is om te werk vir 'n samelewing waar vroue en kinders die lewe ten volle kan geniet. Ons moet ons tyd só inrig dat vroue prioriteit is," is mnr Ashwin Thyssen se mening.

“Geweld en verkragting kan uitgewis word as daar nie 'n blinde oog op die misdade gedraai word nie. Indien jy nie direk betrokke wil raak nie, is daar noodnommers wat jy kan skakel en dit anoniem aanmeld. Dis belangrik dat as daar kinders betrokke is, dat die misdaad by 'n maatskaplike- of gemeenskapswerker aangemeld word," meen me Mienie Philander.  

“Om geweld teenoor alle mense te stop, sal die lewensbedreigende mans, wat in meeste gevalle vir geweld en verkragting verantwoordelik is, deur die bank hul aandeel in alle vorme van geweld moet erken en daarvoor verantwoordelikheid moet neem," sê mnr Stefan de Klerk.


 

Hooffoto: Van links voor is Julia Claassens, Estelle Muller en Mienie Philander. Agter staan  Ashwin Thyssen, Stefan de Klerk en Nina Muller van Velden.

Fotograaf: Jacobie Helena