Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerstejaarstudente begin ʼn ‘transformerende reis’
Outeur: Florence de Vries
Gepubliseer: 31/01/2019

“Verwag om ʼn lewensveranderende ervaring te hê." Met hierdie woorde het professor Jimmy Volmink, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) by die Universiteit Stellenbosch ongeveer 477 nuwe eerstejaar geneeskunde- en gesondheidswetenskappe studente verwelkom tydens die fakulteit se jaarlikse verwelkomingsgeleentheid wat onlangs by die universiteit se Tygerberg-kampus gehou is.

“Deur by hierdie vlagskip-fakulteit aan te sluit, begin jy ʼn lewensveranderende reis wat sal voorgaan lank nadat jy jou studies afgehandel het." Volmink het beklemtoon dat studente kan verwag om gevra te word om na te dink oor wie hulle is, en wat hulle kan word. “Jy kan verwag om deurlopend uitgedaag te word om te dink oor hoe jy meer positief kan omgaan met jou eweknieë en die wêreld om jou, en wat jy kan doen om die wêreld ʼn beter plek te maak," het hy gesê.

Die FGGW het die Baccalaureus in Verpleegkunde amptelik in 2019 heringevoer, en 55 verpleegkundestudente sluit dié jaar by die fakulteit aan. “Dit is 15 jaar sedert ons voorgraadse verpleegsters by die Universiteit Stellenbosch opgelei het, en dit is baie spesiaal vir ons om die program terug by die fakulteit te hê – ons is baie ingenome daaroor," het Volmink gesê.

Ongeveer 254 nuwe studente het ingeskryf vir die MB,ChB (mediese) program, terwyl 52 studente met hul BSc in Fisioterapie begin. ʼn Verdere 26 begin met hul BSc in Dieetkunde, 54 studente is ingeskryf vir die Baccalaureus in Arbeidsterapie, en 36 begin met hul Baccalaureus in Spraak-Taal- en Gehoorterapie.

Die Departement Sportwetenskappe (voorheen gesetel in die Fakulteit Opvoedkunde) en die Instituut vir Lewensgang Gesondheidsnavorsing (voorheen deel van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe) het ook vanjaar deel geword van die FGGW.

Volmink het ook vir studente en hul ouers vertel van die fakulteit se baanbrekers besluit om die eerste Rook- en Tabakvrye-kampus in Suid-Afrika te word, en is gegroet met entoesiastiese applous. “Ons het besluit om dit te doen aangesien tabak een van die voorste oorsake van voortydige dood in Suid-Afrika en die wêreld is. As ons ons pasiënte gaan adviseer om op te hou rook, behoort ons die regte gedrag te toon deur self nie te rook nie."

Hy het nuwe studente daaraan herinner om 'groot te droom en pret te hê, maar gefokus te bly'. “Dit is baie belangrik om uit te reik as jy hulp nodig het. Ons bied ondersteuning vir akademiese, sielkundige, finansiële en ander behoeftes. Ons sien uit daarna om jou by te staan tydens jou reis."

Me Ntsako Mtileni, adjunkvoorsitter van die Tygerberg Studenteraad, wat namens die voorsitter, mnr John Kachoko gepraat het, het nuwelinge aangespoor om getrou te wees aan hulleself en om te doen wat hulle gelukkig maak. “As jy daarvan hou om vroegoggend te draf, gim toe te gaan, wetenskapsfiksie te lees, ʼn musiekinstrument te speel of te verf, doen dit. Jou geestesgesondheid kan somtyds oorsien word, en ʼn gesonde geestestoestand is ʼn gesogte kommoditeit terwyl jy besig is om graad te vang."

Dr Therese Fish, Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak by die FGGW, het die fakulteit se geneeskunde- en gesondheidswetenskappe onderneming aan studente en hulle families bekendgestel. Hierdie onderneming is vir die eerste keer in 2018 bekendgestel en is ʼn aanvangseed vir voornemende gesondheidsberoepslui. Die eed is in al 11 amptelike landstale, insluitend gebaretaal, gelees.