Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste kohort deelnemers voltooi die verlengde onderwyspraktisynsopleidingsprogram
Outeur: Dr Leslie van Rooi, Senior Director: Social Impact and Transformation
Gepubliseer: 30/01/2019

Drie en vyftig deelnemers aan die verlengde onderwyspraktisynsopleidingsprogram (Extended Education Practitioner Training Programme, EEPTP) het Saterdag 23 Januarie 2019 hul kortkursussertifikate by hul kursusgradeplegtigheid by die Adam Small Teaterkompleks, Universiteit Stellenbosch (US), ontvang. Die kortkursus, gekoördineer deur die US se Sentrum vir Pedagogie, is ontwikkel in vennootskap met verskeie bedryfsvennote, insluitende die Wes-Kaapse departemente van Kultuursake en Sport, en Onderwys, die Wes-Kaapse Gemeenskapskas, Rutgers Universiteit en die US.
 
Die kortkursus is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en daar word voorsien dat dit groot verandering in die naskoolse omgewing teweeg sal bring, aangesien dit die programontwikkeling, evaluering, assessering en uitkomsgebaseerde vaardighede van naskoolse praktisyns verbeter.
 
In haar programrede wat as deel van die seremonie gelewer is, het die US se prof Nuraan Davids die rol wat alle Suid-Afrikaners in die bevordering van ons onderwysstelsel moet speel, bevestig: “Gegewe die uitdagings in verskeie gemeenskappe, moet die Naskoolse Program in die Wes-Kaap as volledig deel van die opvoeding van ons leerders beskou word. Dit moet dus fokus op die skep van burgers wat ons land se toekoms kan vorm."

Die gradeplegtigheid is bygewoon deur amptenare van die genoemde Wes-Kaapse regeringsdepartemente, insluitende die minister van onderwys, Debby Schäfer, asook verteenwoordigers van die Wes-Kaapse Gemeenskapskas en die US.

Die dag het egter aan die groep deelnemers behoort wat ʼn vyftienmaand-opleidingskursus suksesvol voltooi het en wat nou die verworwe vaardighede in hul gemeenskappe gaan belê. Die fokusareas van die kursus sluit onder meer in persoonlike leierskap, bestuur in ʼn komplekse omgewing, die skep van bane vir ons jongmense en die bou van doeltreffende naskoolse programme, en die finale module is afgesluit met ʼn fokus op die bou van vennootskappe en verhoudings met belanghebbendes.

Janelle Fielies, ʼn deelnemer wat die NRO Go for Gold verteenwoordig, het gesê:
“Die EEPTP-kursus het my nie net met uiters waardevolle vaardighede en hulpmiddele toegerus nie, maar dit het my ook op ʼn diepgaande reis van selfontdekking en groei geneem, verder as wat ek my ooit sou kon indink. Die gradeplegtigheid was ʼn hoogtepunt in my lewe en was baie spesiaal […] Ek is geseën met ʼn buitengewone geleentheid en voel geëerd om deel van hierdie beweging te wees."

Die praktisyns is op grond van hul ervaring in en betrokkenheid by die naskoolse ruimte gekies en is deur hul onderskeie organisasies onderskryf. Die vaardighede wat hulle in die kursus verwerf het, sal nie net aan die deelnemers die geleentheid gee om hul naskoolse programme te verbeter nie, maar ook voorsiening maak vir die ontwikkeling van ʼn kritieke massa praktisyns in die omgewing wat gesamentlik in die kurrikulum, beplanning, implementering en evaluering van naskoolse programme kan belê.

Die tweede kohort naskoolse praktisyns begin in Februarie 2019 met hul kursus. As verteenwoordigers van hul onderskeie organisasies sal hulle geleentheid kry om hul residensieperiode aan praktiese betrokkenheid in verskeie gemeenskappe in die Wes-Kaap te koppel.

Die US sal die program deur die Afdeling Sosiale Impak koördineer. Die kortkursus sal verder bevorder word deur ʼn dinktenk van onderwyskundiges asook ʼn beheerkomitee bestaande uit bedryfsvennote, akademici en praktisyns.

Press Release.jpg