Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Engelssprekende, nie-Engelssprekende Graad Rs het dieselfde korttermyn-geheuevaardighede
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 29/01/2019

Graad R-leerders wie se moedertaal nie Engels is nie, vaar net so goed soos hul Engelssprekende maatjies wanneer dit kom by die stoor en verwerking van klein hoeveelhede inligting wat nodig is vir onder meer leer, probleemoplossing en berekeninge. Wat hulle wel kniehalter, is hul gebrek aan Engelse vaardighede, maar 'n paar ekstra lesse behoort hul Engelse taalontwikkeling sowel as hul akademiese prestasie te verbeter.

“Net die nodige Engelse vaardighede ontbreek by hierdie kinders om akademies goed te kan vaar, want hul werkende geheue of korttermyn-geheuevaardighede om inligting wat gou verwerk kan word, te behou, is op dieselfde vlak as hul maatjies s'n," sê dr Michelle White, 'n deeltydse dosent by die Departement Algemene Taalwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy het onlangs haar doktorsgraad in Algemene Taalwetenskap aan die US verwerf.

White wou uitvind wat die kognitiewe en taalkundige ontwikkeling van 'n tipiese graad R-leerder behels wat besig is om Engels aan te leer deur middel van Engelse onderrig – die voorkeur-onderrig- en leertaal in baie van ons skole.

“Talle Suid-Afrikaanse kinders leer in Engels hoewel hulle nie eintlik Engels magtig is wanneer hulle begin skoolgaan nie. Hulle word dus in 'n taal onderrig wat vir hulle feitlik heeltemal vreemd is."

As deel van haar studie, het White die ontwikkeling van graad R-leerders se Engelse taalvaardighede en die kognitiewe prosesse onderliggend hieraan in 'n multikulturele klaskamer in 'n Engels-medium skool ondersoek. Michelle White.jpg

Vier-en-dertig graad R-leerders by 'n skool in die groter-Kaapstad gebied met leerders uit verskeie kulturele en taalagtergronde het aan die studie deelgeneem. Een groep se huistaal was Engels, terwyl die ander groep nege verskillende huistale gehad het en glad nie vlot in Engels was nie. Hierdie leerders is drie keer oor die verloop van een skooljaar getoets met behulp van 'n volledige Engelse taalassessering, 'n Engelse woordeskattoets en vier werkende geheue-toetse.

“Die werkende geheue-toetse was veral deurslaggewend omdat hierdie deel van ons korttermyngeheue nie net in ons alledaagse lewe baie belangrik is nie, maar ook 'n sleutel-kognitiewe proses is wat grondliggend vir die aanleer van taal en skoolprestasie in onder meer wiskunde en lees is," sê White.  

Volgens White moes die leerders onder meer opdragte uitvoer wat van hulle verwag het om blokvolgordes te onthou. 'n Blokvolgorde is 'n rekenaar-gebaseerde taak waarin leerders blokke sien wat in verskeie volgordes verlig word; wanneer die volgorde voltooi is, moet die kind die volgorde weergee deur na die blokke te wys. Ander opdragte was om die plasing van sekere vorme uit te ken en te onthou en om opgemaakte woorde te herhaal.

Bykomend tot die taalassesserings en toetse, het White ook onderhoude met die leerders se ouers gevoer om meer oor hul taalgewoontes tuis uit te vind.

“My studie toon dat leerders met Engels as huistaal deur die loop van die jaar omtrent dieselfde in die werkende geheue-toetse gevaar het as hul tweedetaal-maats. Dit beteken dat hul werkende geheue-vermoë onafhanklik is van hoeveel hulle van Engels weet.

“Al het die Engelse eerstetaalsprekers beter gevaar in al die Engelse toetse soos die taal- en woordeskattoets, het diegene met ander huistale goed bygekom – soveel so dat sommige van die kinders teen die einde van die jaar die Engelse eerstetaalsprekers feitlik heeltemal ingehaal het.

“Soos verwag kon word, het die Engelse kinders deurlopend deur die hele jaar beter as hul maats in alle taalmetings gevaar. Hulle het 'n groter woordeskat gehad en hul begrip en gebruik van Engels was ook beter."

White wys egter daarop dat die patroon waarop beide groepe se Engelse en werkende geheuevaardighede deur die jaar ontwikkel het, dieselfde was.

“Dit beteken dat nie-Engelssprekende kinders se kognitiewe en taalontwikkeling dieselfde roete of baan as dié van hul Engelse eentalige maats volg, ongeag van wat hul aanvangskennis was," voeg sy by.

Volgens White het die bestudering van die werkende geheue vir hulle waardevolle insig gebied, aangesien dit blykbaar nie deur die hoeveelheid kennis wat 'n kind het beïnvloed word nie. Sy meen ons moet daarom ag slaan op 'n kind wie se werkende geheue-tellings laag is, en dit oorweeg om so 'n kind vir 'n moontlik vertraging of afwyking te laat toets.

“Noudat ons weet dat kognitiewe en taalontwikkeling se baan in albei groepe dieselfde lyk, kan ons vasstel of hulle sonder die teenwoordigheid van 'n leerafwyking ontwikkel. Indien dit lyk of daar 'n afwyking is, sal ons weet om hulle na 'n kundige te stuur vir behoorlike toetsing.

“Ons behoort ook hierdie kinders te toets indien hulle akademies agter raak om die moontlikheid van 'n leer- of taalafwyking uit te skakel."

White reken ouers of versorgers kan ook werkende geheue-take en -oefeninge met die kind doen.

Gegewe hoe belangrik vroeë ingryping vir akademiese sukses is, is dit belangrik dat graad R-leerders wat nie Engels tuis praat nie, meer aan die taal by die skool blootgestel word, meen sy.

  • Hooffoto: Graad R-leerlinge in 'n klaskamer (Krediet: Pixabay)
  • Foto 1: Dr Michelle White

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Michelle White

Departement Algemene Taalwetenskap

Universiteit Stellenbosch

E-pos: m.white40@gmail.com

         UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.ac