Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties-tennisspeler gekies om Federasiebeker-debuut te maak
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 28/01/2019

Maties Sport se Sinazo Solani (20) sal vandeesweek na Europa vertrek om Suid-Afrika van 6-9 Februarie in sy Federasiebeker-stryd by die Nasionale Tennissentrum in Esch-sur-Alzette, Luxembourg, te verteenwoordig.

Suid-Afrika is verlede jaar na groep II van die Euro-Afrika-sone bevorder en sal nou in 'n kompetisie teen sewe ander lande deelneem om hul posisie in hierdie groep te versterk.

Sinazo, 'n lid van die Maties-tennisklub en 'n BA Internasionale Studies-student by die Universiteit Stellenbosch (US), sal haar debuut by hierdie geleentheid maak.

“Ek is baie opgewonde en trots om my land te verteenwoordig. Dit is my hoogste tennisprestasie tot dusver," het sy gesê.

Sinazo, wat in die Strand grootgeword het en aan die Hoër Meisieskool Rhenish in Stellenbosch gematrikuleer het, sal graag tennis haar loopbaan wil maak en sien uit daarna om ervaring in die internasionale sfeer op te doen. Sy is positief dat sy baie sal leer en dat haar insluiting by hierdie span vir haar sal deure oopmaak in die toekoms.

Die Suid-Afrikaanse Federasiebeker-span bestaan uit Sinazo, Chanel Simmonds, Imaan Hassim, Theresa van Zyl, Madrie le Roux en Zani Barnard.

Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, het Sinazo gelukgewens met hierdie prestasie.

“Ons is baie trots op Sinazo se insluiting by die Federasiebeker-span en wens haar en haar spanmaats alles van die beste toe. Tennis is onlangs by Maties Sport se lys hoëprestasie-sportkodes ingesluit en ons doelwit is om tennis in Suid-Afrika te ondersteun en te bevorder, in samewerking met Tennis Suid-Afrika (TSA)."

Maties Sport se hoëprestasieprogram beoog om topatlete en -afrigters te lok en te behou in 'n inklusiewe en elite-oefenomgewing wat vir hulle die geleentheid bied om op nasionale en internasionale vlak te presteer.

Sinazo is baie positief oor hierdie skuif en glo dat Maties-tennisspelers daarby sal baat.