Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Landbou-ekonoom verwerf gesogte Kanselierstoekenning
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 13/12/2018

​​Twee dekades van voortreflike navorsing het aan prof Nicholas (Nick) Vink die gesogte Kanselierstoekenning vir gemeenskapsinteraksie en navorsing van die Universiteit Stellenbosch (US) besorg.

Hy is die voorsitter van die Departement Landbou-ekonomie in die Fakulteit AgriWetenskappe van die universiteit.

Vink word beloon vir sy volgehoue uitmuntende prestasie en navorsingsuitsette oor die jare. Hy is onder andere die outeur van 167 publikasies, insluitende 11 boeke as redakteur of mede-redakteur, en meer as 50 artikels en boekhoofstukke in internasionale publikasies. Vink is ook nou betrokke by beide die Afrika- en Internasionale Verenigings vir Landbou-ekonome (IAAE). Hy is tans president van laasgenoemde vereniging.

Vink, wat in 1996 as dosent in die departement aangestel is, het ’n lang verbintenis met die universiteit. “Ek was in die begin van 1979 nog ’n ingeskrewe student op Stellenbosch toe ek ’n pos aanvaar het as dosent aan die destydse Universiteit van die Noorde (nou Limpopo) of ‘Turfloop’ soos daarna verwys is,” vertel hy. “Ek kan goed onthou die dag wat ek my motor volgepak het en departement toe gekom het om prof (Eckard) Kassier, my studieleier, te kom groet. Ek was van plan om terug te kom na Stellenbosch, my geboortedorp, maar het nie geweet hoe of wanneer nie. Na sewe jaar in die verre noorde van die land het ek eers ’n ​draai by die Ontwikkelingsbank in Johannesburg gemaak, en toe ná 17 jaar teruggekom Matieland toe.

“Ek is my lewe lank ’n navorser en beleidsanalis, maar wat my eintlik akademie toe gelok het, was klasgee. As departementele voorsitter gee ek nou nog vir ons nuwelingstudente klas, want ek dink dis belangrik dat hulle die senior dosente eerstehands ervaar en so vroeg in hul (akademiese)​ program as moontlik. En ek gee ook in hulle finale jaar weer vir hulle klas, want teen daardie tyd het hulle al mens geword, en is die taak net soveel makliker!”


Vink sê benewens die geleentheid om klas te gee bied Maties hom (akademiese) vryheid, “veel meer as aan die meeste ander universiteite in die land”. “Dit het my toegelaat om my eie navorsingsbelangstellings te volg en publikasies te laat verskyn. Ek kon ook meer as 60 keer die afgelope 18 jaar oorsee reis, insluitend na omtrent elke uithoek​​ van Afrika, om konferensies by te woon.” Dit was in die proses ook moontlik om leidende rolle te speel by bogenoemde verenigings asook om diens te doen as nie-uitvoerende direkteur van Rooibos Beperk en die Suid-Afrikaanse Reserwebank.


“Hierdie toekenning kom naby aan die einde van my loopbaan, maar ek sien dit nie as ‘dankie vir jou lang diens’ nie, eerder as ’n aansporing om in hierdie laat skof nog al die voordele en voorregte van my alma mater te geniet, en hopelik in die proses darem iets nuttigs vir die nuwe oes studente te leer!”​


Vink se navorsing is bekend daarvoor dat dit nuwe perspektiewe bring oor sy vakgebied, altyd die historiese invloede uitlig en die fisieke omgewing in ag neem, het prof Danie Brink, dekaan van die fakulteit, gesê.


Vink het gedien as voorsitter van die Raad van die Elsenburg-landboukollege (2000 tot 2004) en as raadslid daarvan (2012 tot 2016). Hy het oor die jare verskeie redaksionele pligte vir wetenskaplike tydskrifte vervul, onder andere as die redakteur van die African Journal of Agricultural and Resource Economics en as redaksielid van Development Southern Africa en die Journal of Wine Economics.


Brink sê Vink het homself oor die jare bowenal onderskei as ’n toegewyde leermeester. Hy gee steeds klas vir beide voorgraadse en nagraadse studente. Hy is onder andere verantwoordelik vir drie voorgraadse en twee nagraadse modules. Vink het reeds meer as 50 nagraadse studente opgelei.


“Sy loopbaan word gekenmerk deur volgehoue uitnemend,” som Brink op. “Hy is ’n rolmodel vir alle toekomstige landbou-ekonome.”


Onderskrif: Prof Nick Vink het die gesogte Kanselierstoekenning vir gemeenskapsinteraksie en navorsing ontvang.