Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US eredoktorsgrade aan uitstaande individue
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 11/12/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) verleen elke jaar eredoktorsgrade aan uitstaande individue van Suid-Afrika en internasionaal. Die eregrade erken en beloon uitnemendheid in 'n verskeidenheid terreine en identifiseer dié individue as rolmodelle vir die universiteitsgemeenskap.

Onder die bekendste ontvangers van eregrade in die geskiedenis van die US is Nelson Mandela, Thabo Mbeki, Bill Gates, Antjie Krog, Helen Suzman, Athol Fugard, Tito Mboweni, Naledi Pandor, David Kramer, Thuli Madonsela, Edwin Cameron en Mervyn King.

Vier eredoktorsgrade sal tydens die Desember-gradeplegtighede van 2018 verleen word. Die ontvangers is prof Homi K Bhabha, prof dame Glynis Breakwell, dr Lesetja Kganyago en regter Zak Yacoob.

Dr Lesetja Kganyago

Kganyago ontvang die graad Doktor in die Handel (DCom), honoris causa, tydens die gradeplegtigheid van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurwetenskappe op Maandag, 10 Desember om 17:30.

 

Mense met selfone kan hier​ klik om video te sien.

Kganyago is die tiende goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) en is in Januarie vanjaar as voorsitter van die Internasionale Monetêre en Finansiële Komitee aangewys. Hy is die eerste sentrale bank president uit Afrika suid van die Sahara om hierdie amp te beklee.

Lesetja Kganyago.jpeg

​In sy voorstelling het prof Stan du Plessis, die US se Uitvoerende Bedryfshoof, Kganyago aangeprys vir sy formidabele intellektuele leierskap op beleidsterreine soos prys en finansiële stabiliteit, en vir sy rol as een van die begaafste ekonomiese beleidspraktisyns in die land.

In sy aanvaardingstoespraak het Kganyago sy vrou en kinders bedank vir hulle voortgesette ondersteuning en dat hulle as morele kompas hom gehelp het om koers te hou in soms moeilike tye as Goewerneur van die SARB. Hy het ook die uitdaging aan die US gestel om sy taak voort te sit wat betref transformasie in sy geledere.

“Gegewe die geskiedenis van hierdie land, is dit belangrik dat dié instelling sy strewe na transformasie, waarmee hy enkele jare begin het, op lewenskragtige wyse deurvoer, bou op die suksesse daarvan en leer uit die tekortkominge.  Ons kan nie hierdie transformasie-reis bloot meemaak deur metafories in ons truspieël te kyk nie. Dit is nodig dat ons uitspel hoe die instelling wat ons in gedagte het in die toekoms daar moet uitsien.  'n Instelling wat diversiteit ken, nie net bloot in terme van die demografie nie, maar as een wat diversiteit van denke bevorder," het Kganyago gesê.

Kganyago het die gegradueerders ook aan die belangrikheid herinner om akademiese vryheid nie sommer as vanselfsprekend te aanvaar nie.

“Vandag mag ons akademiese vryheid moontlik as vanselfsprekend aanvaar omdat die grondwet dit waarborg, maar akademiese vryheid is die gevolg van 'n dapper stryd deur manne en vroue wat bereid was om hulle lewens neer te lê om transformasie in ons land te sien.  Ons moet nie akademiese vryheid as vanselfsprekend aanvaar nie. Ons moet dit nie net aangryp nie, maar ook verdedig, indien dit ooit weer bedreig word. Dié eer gaan nie vandag net oor my nie, maar oor die goeie manne en vroue van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, en dat u die puik werk wat ons vir ons land verrig die nodige erkenning gee."

 Regter Zakeria (“Zak") Yacoob

Die graad Doktor in die Regsgeleerdheid (LLD) honoris causa, is op 13 Desember aan Zakeria (Zak) Yacoob tydens die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe se gradeplegtigheidseremonie oorhandig vir sy uitnemende bydrae as regsgeleerde op die gebied van menseregte en staatsreg, vir sy unieke, genuanseerde en internasionaal inspirerende benadering tot die beregting van sosio-ekonomiese regte, en vir sy rol as gerekende kampvegter vir sosiale geregtigheid en die welsyn en regte van persone met gestremdhede.

 

Mense met selfone kan hier klik om video te sien.

Yacoob het as uitsonderlike regsgeleerde Suid-Afrika na demokrasie help lei, en deur mylpaaluitsprake tot 'n regsraamwerk bygedra wat Suid-Afrika se diepgewortelde sosio-ekonomiese nalatenskap van apartheid help hanteer het.yacoob.jpeg

Yacoob het in sy aanvaardingstoespraak gesê dat hy dankbaar is teenoor die hele Suid-Afrika, veral sy familie, studente, aktiviste en kollegas in die Konstitusionele Hof wat hom deur sy lewe ondersteun het. “Sonder hulle sou ek nie hier gewees het nie. Ek is baie dankbaar, want ek is  geleenthede gegee wat ek kon aangryp."

Hy het dit ook beklemtoon dat duisende mense deel was van die vryheidstryd, maar nooit erkenning gekry het vir die rol wat hulle gespeel het nie. Yacoob het afgesluit deur 'n beroep op mense te doen om in hulself  'n sosiale rewolusie te begin en hulself te vra of hulle werklik nie rassiste of seksiste is nie. "Ons het die visie om 'n nie-rassistiese en nie-seksistiese land te wees, maar ons kan dit net bereik, indien ons die verandering in ons eie harte het."​

Prof Homi K. Bhabha
Die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil), honoris causa, is Donderdagaand, 13 Desember aan Homi K. Bhabha by die gradeplegtigheidseremonie van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe toegeken vir sy uitsonderlike vermoë as die wêreld se voorste postkoloniale literêre teoretikus wat die geesteswetenskappe in nuwe rigtings stuur. Prof Bhabha word ook vereer vir sy invloed op internasionale organisasies om die rol van die geesteswetenskappe in vrede, ekonomiese aktiwiteit en kultuur en om die studie van die geesteswetenskappe  te bevorder.

Prof Arnold Schoonwinkel (Viserektor: Leer en Onderrig) het tydens die inleiding gesê:  "Vir sy pionierswerk om 'n nuwe manier van interdissiplinêre betrokkenheid te vestig, wil die Universiteit Stellenbosch prof Homi Bhabha eer. As 'n geleerde het hy die studie van die geesteswetenskappe in die huidige tyd toepaslik gemaak en het hy voortgegaan om globale praktyke te verskuif." 
WhatsApp Image 2018-12-13 at 17.13.50.jpeg

Tydens sy aanvaardingstoespraak het Bhabha gesê die Universiteit  het 'n unieke geleentheid om oor sy eeufees te besin en vir ware transformasie te werk. "Die  transformasietaak verg institusionele- en regeringsintegriteit en streng intellektuele ondersoek. So sal die gevare van die verlede nie die hede terug lei na die verlede nie. Herinnerings van die verlede dien as maatstawwe van wat bereik en misbruik is en wat nog gedoen moet word. "

Hy het ook die aand se gegradueerdes gelukgewens en gesê hierdie prestasie gaan nie net oor hulle nie, maar  behoort ook aan hulle families, vriende en gemeenskappe, wie hulle ondersteun en gekoester het.

Prof Dame Glynis Breakwell
Die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil), honoris causa, is aan prof Dame Glynis Breakwell toegeken vir haar uitstaande bydrae tot sosiale sielkunde wêreldwyd en waar Suid-Afrika staan teenoor post-apartheidsveranderinge. Breakwell is vereer tydens die gradeplegtiheidseremonie van die Fakulteite Lettere en Sosiale Wetenskappe, AgriWetenskappe en Regsgeleerdheid op 13 Decmeber 2018.

Tydens haar aanvaardingstoespraak het Breakwell gesê: "Ek gee my hartlike dank vir die eer vanaf so 'n groot universiteit met 'n merkwaardige verlede en so 'n enorme potensiaal vir die toekoms. Ek wil alle gegradueerdes vandag gelukwens, julle moet trots wees op jul prestasies. "
WhatsApp Image 2018-12-13 at 17.13.50 (1).jpeg

Sy het bygevoeg dat sy ook graag die families en vriende van studente wil gelukwens, want hulle het die studente ondersteun. "Jou sukses hang wel af van die hoë gehalte akademiese sorg wat jy hier gekry het, maar is ook beïnvloed deur die aanmoediging van jou familie en vriende," het sy gesê.

Sy het gesê in 'n samelewing wat met soveel onsekerhede gekonfronteer word, sal die Lettere en Sosiale Wetenskappe-studente belangrik wees om aan te dui hoe verandering beter in die toekoms bestuur kan word.

"Oplossings vir ons probleme mag vereis dat innovasie in groot wetenskap, ingenieurswese en medisyne moet plaasvind.  Sulke oplossings werk selde, mits die gemeenskap die oplossings aanvaar en aanneem.  Praktisyns en beleidmakers moet verstaan hoe mense sal werk tydens die tegnologiese verandering, hulle moet die vaardigheid en kennis hê wat julle nou by​​ die Universiteit Stellenbosch verwerf het."

Sy het afgesluit deur te sê: "Ek wens julle baie geluk en sukses toe vir die toekoms, maar ek vra dat julle jul kennis sover moontlik gebruik, sodat julle 'n persoonlike verskil in die wêreld kan maak. Dit is vir my 'n eer om vandag saam met julle te wees.

​​Vir meer besonderhede oor al die ontvangers van eregrade klik hier.

__________________________________________________________________________________