Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteitsdorpkonferensie – 'n eerste vir Suid-Afrika
Outeur: Corporate Communications
Gepubliseer: 10/12/2018

Die verhale van die Universiteit Stellenbosch (US) en die dorp Stellenbosch is ten nouste verweef. Die US is sedert sy totstandkoming in 1918 'n prominente teenwoordigheid op die dorp en is deesdae een van die ankerinstellings op Stellenbosch. Dít was die boodskap van prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, by 'n universiteitsdorpkonferensie wat die Universiteit van 28 tot 30 November aangebied het.

Die konferensie – 'n eerste vir Suid-Afrika – het universiteite van klein stede en dorpe soortgelyk aan Stellenbosch byeengebring om kwessies met betrekking tot sinvolle kampus-stad-vennootskappe te bespreek. Die oogmerk van die geleentheid, wat deel uitgemaak het van die US se Eeufeesaktiwiteite, was om die unieke interafhanklikheid te verken tussen die personeellede, studente, fakulteite en afdelings van universiteite, en die mense, sakeondernemings en beheerstrukture van die dorpe en stede waarin hulle geleë is.

Deelnemers het ingesluit die universiteite van Bath, Coventry en Durham in Engeland; die Universiteit van St Andrews in Skotland; die Queen's-universiteit in Belfast, Noord-Ierland; die Universiteit van Lund in Swede; die Universiteit van Göttingen in Duitsland; die Queen's-universiteit in Kanada; KU Leuven in België; Pennsilvanië-staatsuniversiteit in die Verenigde State, en Rhodes-universiteit en die Universiteit van Fort Hare in Suid-Afrika. Advokaat Gesie van Deventer, uitvoerende burgemeester van Stellenbosch, sowel as die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, het hulle by die afgevaardigdes aangesluit.

Prof De Villiers het in sy verwelkomingsrede besin oor die US se 100-jarige bestaan en vertel van sy grootwordjare op Stellenbosch, die spanning tussen universiteit en dorp, verhoudings tussen die US en die dorpenaars, en waarheen die Universiteit op pad is.

“Ons het vroeër vanjaar die grondslag vir die tweede eeu van die Universiteit se bestaan gelê deur 'n nuwe visie en strategiese raamwerk te aanvaar. Daarin onderneem ons onder meer om die gemeenskappe wat ons bedien te omarm om sodoende maatskaplike, kulturele, omgewings- en ekonomiese ontwikkeling en verandering teweeg te bring."

Prof De Villiers het gemeenskapskakelingsinisiatiewe soos die Vlakte-beursfonds uitgelig en die gehoor vertel hoe inwoners van die Stellenbosse buurt Die Vlakte gedurende apartheid gedwing is om elders te hervestig. “Wat toe gebeur het, was 'n onreg – so ek is bly dat die Universiteit later sy bydrae tot die onreg van die verlede erken het en hom terselfdertyd tot regstelling en ontwikkeling verbind het." 

Advokaat Van Deventer het op haar beurt oor die samewerking tussen die US en Stellenbosch Munisipaliteit gepraat, en hoe die twee instellings mekaar ondersteun. In 'n skriftelike boodskap aan afgevaardigdes het sy uitgewei oor die Burgemeester-Rektor-forum, wat gereeld topbestuurslede van die twee instellings byeenbring. Dit dien as 'n platform om inligting uit te ruil, aan projekte saam te werk, en enige uitdagings wat hulle albei raak te hanteer.

​“Stellenbosch Munisipaliteit en die Universiteit Stellenbosch het die afgelope honderd jaar sinoniem geraak met mekaar. Dis byna onmoontlik om die een van die ander te skei, en nie een van die instellings sou suksesvol gewees het sonder die ander se ondersteuning en bestaan nie."  

Afgevaardiges by die universiteitsdorpkonferensie wat deur Universiteit Stellenbosch aangebied is.

Foto: Anton Jordaan