Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Besoek versterk Leipzig en US se samewerking
Outeur: Prof Jan Botha
Gepubliseer: 05/12/2018

ʼn Groep akademici en steundienspersoneel van die Universiteit van Leipzig in Duitsland het onlangs die Universiteit Stellenbosch (US) besoek om die bestaande vennootskap in ʼn aantal akademiese studievelde te versterk. Daarmee saam was die doel van die besoek, van 19 tot 22 November, ook om deel te neem aan ʼn gesamentlike Leipzig-Stellenbosch-seminaar met die tema “Knowledge production and knowledge societies: Africa in its transregional entanglements".

Leipzig is een van die US se oudste institusionele vennote, met ʼn verhouding wat reeds in die vroeë 1990's gevestig is. Trouens, die verhouding strek verder terug, omdat ʼn groep Stellenbosse professors in die vroeë dekades van die US se bestaan hul doktorsgrade in Leipzig, een van Duitsland se oudste en bekendste universiteite, verwerf het.

Die Leipzig-Stellenbosch-seminaar was uniek in die sin dat so ʼn groot groep akademici van twee universiteite daaraan deelgeneem en referate gelewer het rakende ʼn spesifieke tema. Prof Heidi Prozesky (CREST, US) het ʼn hoofaanbieding gelewer oor ʼn nuwe boek wat CREST onlangs gepubliseer het, The Next Generation of Scientists in Africa.

Van Stellenbosch het proff Jan Botha, Scarlett Cornelissen, Cherryl Walker, Sandra Swart, Pieter Fourie en drr Handri Walters en Davide Chinigo deelgeneem deur referate en repliek te lewer op die Leipzig-aanbiedings. Van Leipzig het proff Ulf Engel, Matthias Middell, Dmitri van den Bersselaar, Marian Burchardt en Katja Werthmann referate en repliek op Stellenbosch-aanbiedings gelewer.

ʼn Wye verskeidenheid onderwerpe is aangespreek, waaronder die Square Kilometre Array (SKA) en nuwe kennisgrense in Afrika-wetenskap, multinasionale ondernemings in Wes-Afrika voor die koms van die kennisgemeenskap, kennisproduksie in Afrika deur vrede en sekuriteitsdinkskrums, navorsing oor hoër onderwys in Afrika, ʼn vergelyking van die suksesse van die werk van NRO's en sending-protestantisme in Afrika suid van die Sahara, die geskiedenis van antropologie en rassestudies tydens die vroeë 20ste eeu aan die US, asook ʼn studie oor die verstrengelheid van die historiese bonatuurlike bobbejaan met die “tabloid tokoloshe" in Suider-Afrika.

Verskillende dimensies van kennisproduksie in Afrika is verken en interessante aansluitende temas het na vore gekom wat verder deur hierdie groep ondersoek sal word.

Bykomend tot die akademiese werk het die Leipzig-afvaardiging ook amptenare van verskeie steundienste ingesluit wat met hul eweknieë by Stellenbosch vergader het.

Dr Svend Poller, Direkteur van die Internasionale Sentrum van Leipzig wat die afvaardiging gelei het, meen dat met hierdie besoek wou hulle ook deel in die US se Eeufeesvierings en die inter-institusionele verhoudings versterk met die oog op voorgesette samewerking.

Foto-onderskrif: Die afgevaardigers van die Universiteit van Leipzig en die US.