Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studie bekyk die bitter smaak van heuningbostee
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 30/11/2018

Hoekom smaak sekere heuningbostee bitter en ander nie?

​Dit is die onderwerp van Lara Alexander se PhD-studie. Alexander is ’n student in die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit van AgriWetenskappe in die Departement  Voedselwetenskap. Sy ontvang in Desember haar doktorsgraad hieroor.

Alexander het die fenolitiese verbindings in groen (“ongefermenteerde” en gefermenteerde heuningbostee ondersoek as moontlike aanduiders van bitterheid. Hierdie (natuurlike) fenolitiese verbindings is verantwoordelik vir die kleur van heuningbostee en ander soorte kruietee. Dit word verbind met die gesondheidsvoordele verbonde daaraan om dit te drink en is ook die smaakprofiel daarvan.  

Haar proefskrif is ook die eerste studie in sy soort wat ondersoek instel na om die intensiteit van bitterheid wat volg op fermentasie in ekstrakte van heuningbostee te verminder.

“Bitterheid is onaanvaarbaar in heuningbostee wat bekend is vir die kenmerkende aangename soet smaak daarvan en as sulks bemark word,” skryf Alexander in haar tesis. Sommige produksielotte van Cyclopia genistoides (“kustee”) het ’n bitter smaakprofiel. “Bitter smake is nog meer opvallend in ongefermenteerde kruietee,” het sy daarin verduidelik. “Nogtans is daar ’n groot variasie hiervan tussen verskillende ekstrakte. Die verbindings wat hierdie (smaakverskil veroorsaak, is tot nou nog nie geïdentifiseer nie.”

Alexander is sedert 2013 gemoeid met navorsing oor heuningbostee onder mentorskap van Prof Lizette Joubert (haar studieleier). Sy het aanvanklik ’n tydelike pos as navorsingsassistent beklee en later haar meestersgraad en PhD in Joubert se laboratorium voltooi. Joubert is ’n spesialis-navorser gemoeid met bio-aktiewe verbindings en inheemse teesoorte by die Landbounavorsingsraad (LNR). “Dit was die ideale pos vir my omdat ek in ’n professionele omgewing met kundiges in hierdie vakgebied gewerk het,” het Alexander gesê. “Die onderwerp en interdissiplinêre aard van die werk het my belangstelling geprikkel.”

Verskillende navorsingsmetodes is ingespan in hierdie studie, waaronder ’n sensoriese ontleding van warmwater-ekstrakte en (heuningbostee)fraksies waarby fenolitiese verbindings soos bensofenone, xantone en flavanone gevoeg is. Hierdie warmwater-ekstrakte is voorberei van plantmateriaal afkomstig van twee van die 23 bekende heuningbosspesies in Suid-Afrika. Beide spesies (C. genistoides en C. longifolia) het hoë vlakke van xantone en bensofenone wat bitter verbindings oplewer. Alexander het ook ’n statistiese model ontwikkel wat gebruik kan word om plantmateriaal te kies vir toekomstige plantteelt. 

Die twee spesies verskil wat betref hul bitter smaak, fenolitiese verbindings en hoe dit op fermentasie gereageer het, blyk uit haar navorsing. Verskillende genotipes van dieselfde spesies het ook verbindings opgelewer wat verskil in terme van hul fenolitiese samestellings en dbitterheid. C. genistoides het ook bitter ekstrakte opgelewer ná fermentasie, terwyl bitterheid in ekstrakte van C. longifolia deur fermentasie verminder is.

“Die resultate dui daarop dat die teefraksie ryk aan bensofenone nie bitter was nie. Hierteenoor was die fraksie wat ryk was aan flavonone ietwat bitter en die fraksies ryk aan xanthone duidelik bitter,” het Alexander aangedui. “Fermentasie het bitterheid meer doeltreffend  in C.longifolia as in C. genistoides verminder. Dit benadruk die probleem van wisselvallige produksielotte waarmee die (heuningbostee)bedryf sukkel.”

Aangesien talle fenolitiese veranderings die konsentrasie van verbindings tydens fermentasie bëinvloed, moet sorg volgens Alexander aan die dag gelê word wanneer plantmateriaal vir plantteling en aanplanting gekies word. 

Tans oorskry die vraag na heuningbostee die aanbod daarvan. Die meeste heuningbostee (ongeveer 80%) word in die veld geoes en die res word verbou. Pogings om die bedryf te laat groei, noodsaak die kweek van plantmateriaal wat hoër opbrengste asook goeie en konstante gehalte (produksielotte) lewer. Die LNR se heuningbos-teelprogram ondersoek tans onder meer heuningbos-genotipes wat opbrengste en oesgehalte kan verbeter.

“Heuningbostee is inheems aan Suid-Afrika. Ons hoop dat kan later net so gewild word soos die meer bekende rooibosteebedryf,” het Alexander ten slotte gesê. “Ons hoop om die plaaslike ekonomie te versterk deur hierdie bedryf te steun.” 

Die LNR (DWT-NNS) professionele ontwikkelingsprogram en die NNS se Sweeds-Suid-Afrika navorsingsprogram (SSAJRP) het die navorsing gefinansier. Prof Daleen de Beer en Nina Muller was haar ander studieleiers.

Meer oor heuningbostee

Hoewel historiese rekords toon dat heuningbostee al teen 1830 deur Kaapse nedersetters vir medisinale doeleindes gebruik is, is die heuningbosbedryf nog in sy kinderskoene. 

Heuningbostee (soos rooibostee) is ’n unieke Suid-Afrikaanse kruietee wat endemies is aan die fynbosstreek. Dit word gemaak van die blare en stingels van die inheemse Cyclopia-struik wat groei vanaf Piketberg (in die Wes-Kaap) tot Port Elizabeth (in die Oos-Kaap). Elkeen van die 23 heuningbosspesies wat aan die genus Cyclopia behoort het ’n kenmerkende verspreidingsgebied. Party spesies verkies sanderige kusgebiede terwyl ander floreer in koue en teen nat berghange. 

Beide groen en gefermenteerde heuningbostee word vir die internasionale mark gelewer. Verbruikers stel toenemend belang in heuningbostee vanweë die unieke smaakprofiel daarvan en die gesondheidsvoordele wat dit inhou. Heuningbos kan ook gebruik word om waarde toe te voeg by kosprodukte, in dieetaanvullings en in skoonheidsmiddels. 

Medianavrae:

Lara Alexander
Kontak: 082 722 7388

Prof Lizette Joubert
Kontak: 021 809 3444 of journbertl@arc.agric.za