Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die uitwissing van ongelykhede in Suid-Afrikaanse gesondheidsdienste
Outeur: Florence de Vries
Gepubliseer: 22/11/2018

“Regverdigheid strek verder as howe, prokureurs en regters. Alles wat jy doen, het nagevolge."

Professor Thuli Madonsela het tydens die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) se Dekaan se lesingreeks vir Uitgelese Leiers aan die gehoor – onder wie praktiserende en aspirant-gesondheidslui, besoekers, akademiese en administratiewe personeel – gevra hoe hulle kan saamwerk om te bou aan verbeterde stelsels, prosesse en beleide wat in die toekoms gesondheidsorg in Suid-Afrika kan verbeter.

Madonsela, bekleër van die Regsfakulteittrust Leerstoel vir Sosiale Geregtigheid in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch, het in 2016 'n sewe jaar lange termyn as Suid-Afrika se Openbare Beskermer voltooi. In haar praatjie – Social Justice and Ethical Leadership – het sy verwys na 'n paar sake en insidente waarby sy as die Openbare Beskermer betrokke was, wat as geregtig voorgekom het, maar inderwaarheid onbillik was.

Sy het genoem dat Suid-Afrika reeds ver gekom het in die twee dekades van demokrasie, maar dat sosio-ekonomiese verskille en blatante diskriminasie op die gebiede van gesondheid, opvoeding, behuising en ander regte wat in die Grondwet belowe is, steeds behoorlike strukturele verandering belemmer.

Madonsela het verwys na 'n gesin wat hulle siek pa na 'n hospitaal geneem het toe hy siek word. Drie dae nadat hy opgeneem is, het die gesin – wat op die platteland woon – hom besoek. Hy was egter nêrens te vind nie. Die hospitaal het later die oorskot van 'n mens agter die hospitaalgebou gevind. Teen die tyd dat die gestorwene se vrou die saak in 2016 by die kantoor van die Openbare Beskermer aangemeld het,  was die DNS-toetse van die saak reeds 10 jaar lankr van  uitstaande.

“Sou dit gebeur het as dié man 'n Oppenheimer was? Gesondheidsorg is waar geld is. Julle sal dus met my saamstem dat daar 'n verband is tussen armoede en gesondheid. Gaan na enige township in Suid-Afrika – daar is geen private hospitale nie. In baie gevalle is daar ook nie vervoer of geld om by 'n openbare hospitaal uit te kom nie. Dit is hoekom ons die Staat moet toerus om wette in te stel wat armoede en ongelykhede kan verminder," het sy gesê.

Madonsela, wat betrokke is by verskeie programme wat strukturele ongelykheid in Suid-Afrika aanspreek, het onlangs gasvrou gespeel vir die eerste Social Justice M-Plan Expert Roundtable in Stellenbosch. Die M-plan (Mosa-plan) voer aan me. Palesa Mosa, wie se arrestasie as 'n 13-jarige leerder op 16 Junie 1976, gevolg deur marteling en aanhouding sonder verhoor, beteken dat sy 'n opvoeding geweier is, asook die vermoë om haar volle potensiaal te bereik.

Onder die US-sprekers wat die praatjie bygewoon het, is professor Jimmy Volmink, dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Die M-plan poog om die katalisator te wees vir die beëindiging van armoede en om teen 2030 gelyke lewensgeleenthede aan almal te bied soos voorgestel deur die Nasionale Ontwikkelingsplan.

“Wanneer ons vandag hierdie kamer verlaat, vra ek dat jy hieraan dink: Wie dien jy? Dink mooi oor alles wat jy elke dag doen en onthou: Sosiale geregtigheid raak ons almal op maniere wat ons nie eens besef nie. Ons moet elkeen leierskapbevoegdhede ontwikkel om ongelykheid te beveg. Andersins is Ubuntu net 'n filosofie om menslike oorlewing te vergroot.

Onderskrif: Prof Thuli Madonsela vergader met die FGGW dekaan, prof Jimmy Volmink, en ander gaste tydens die Dekaan se lesingsreeks vir Uitgelese Leiers.