Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Konvokasie: Oop gesprekke belangrik
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 09/11/2018
Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) het Donderdag die waarde van oop gesprekke beklemtoon in sy toespraak aan Konvokasie-lede by die jaarlikse Konvokasievergadering.

Tydens hierdie vergadering is die Konvokasie-president, advokaat Jan Heunis en sekretaris, Bernard Pieters, ook onbestrede vir 'n tweede termyn verkies.

"Vir die Universiteit Stellenbosch is dit 'n belangrike doelwit om op 'n sinvolle manier betrokke te raak by ons verskeie belanghebbendes en Konvokasie is 'n belangrike belanghebber vir ons, bestaande uit alle Stellenbosse gegradueerdes en voltydse akademiese personeellede. Daarom verwelkom ons hierdie geleentheid," het prof De Villiers gesê.

In sy verslag aan die Konvokasie het prof De Villiers gesê die US gaan voort om akademiese uitnemendheid én diversiteit te bevorder asook toegang met sukses te verbreed. Hy het voorts ook die vele hoogtepunte wat die Universiteit die afgelope jaar bereik het, met lede van die Konvokasie gedeel. Onder hierdie suksesse tel weereens rekordgetalle kwalifikasies wat die afgelope akademiese jaar toegeken is – dit sluit in 1 620 meestersgrade en 305 PhD's. Volgens Prof De Villiers produseer die US sowat 10% van die hele land se doktorsgrade.

Prof De Villiers het ook gesê dat die US erkenning op die wêreld verhoog geniet. Die US het sy posisie onder die wêreld se voorste universiteite verstewig, soos blyk uit die jongste Times Higher Education (THE) World University Rankings. Vir 2019 is die US in posisies 301 en 350 geplaas - 'n kategoriesprong van 50 plekke.

'Kom pad toe'​ 

In sy toespraak getiteld "Kom pad toe", het Jeremy Vearey, generaal-majoor in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en hoofspreker by die geleentheid, sy stuiwer in die armbeurs van die voortgesette US-taaldebat gegooi, terwyl hy ook die gees van die oop gesprek beklemtoon het. Vearey, wat die boek "Jeremy vannie Elsies" geskryf het, is tans die Wes-Kaapse adjunk-kommissaris van misdaadopsporing sowel as die hoof van die anti-bende-eenheid van die SAPD.

Wie se variëteit van Afrikaans moet beskerm word? het hy gevra. "Afrikaans leef werklik in al sy bokkem-en-biltong variëteit​e volwaardig daar in die werkersklas lewensruimtes van onse platteland- en agterstraatkind. Wat ook al sy taal of omgangsvariteit, dis daar waar sy moedertaalstem op skool as voertaal moet geld. Teen sy ouers se wanpersepsies oor Engels se meerderwaardigheid. En veral teen ons middelklas meerderwaardige drogredenasies oor soegenaamde standaard Afrikaans," het Vearey laat hoor. 

Hy het ook almal uitgedaag om "buite jou djaart of kamp te beweeg".

"Soos my Ma en Anties in Elsies Rivier en Tiervlei in die tyd van sinkkrale en stofstrate daarmee bedoel het, was dit ‘n uitnodiging om buite jou djaart of kamp te beweeg na die middelgrond om ‘n probleem aan te spreek. En nie verskans van binne kampe nie. 

"In hierdie konteks anders gestel, kom uit jou parogiale Universiteit Stellenbosch djaart van die kleiner ons, en sluit aan by die groter ons op die breër pad. Tyd om te mobiliseer daar waar dit saak maak, onder die werkersklas in stad en platteland wat met al hul tale en varieteite, ons durf nie deur taalerosie laat ontstem nie. Kom pad toe."

Volledige toespraak:

Foto: Advokaat Jan Heunis, generaal-majoor Jeremy Vearey en prof Wim de Villiers by die jaarlikse Konvokasievergadering. (Fotograaf: Henk Oets)