Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vereer Mama Albertina Sisulu
Outeur: Asiphe Nombewu/ Corporate Communication
Gepubliseer: 09/11/2018

Die nalatenskap van Mama Albertina Sisulu is dié van 'n ikoon wat haar lewe lank Suid-Afrikaners geïnspireer het om beter te doen, méér by te dra en in mekaar te belê. Die herdenking van haar geboortejaar, 100 jaar gelede, val saam met die Universiteit Stellenbosch (US) sowel as voormalige president Nelson Mandela se honderdjarige vieringe.

'n Groot banier van Mama Albertina Sisulu is vandeesweek (7 November) aangebring aan die kant van die Admin A-gebou wat oor die Rooiplein uitkyk. Aan die ander kant van die Rooiplein, by die ingang van die Neelsie-studentesentrum, pryk die banier van Mandela steeds.

Die Rooiplein was een van die eerste ruimtes waar die Universiteit se Eeufeeshandelsmerk te sien was toe dit in Maart vanjaar op die brug tussen die Admin A- en Admin B-gebou aangebring is. Daarna is die Mandela-banier in Julie geïnstalleer, en nou die installasie ter ere van Mama Sisulu.

“Op dié manier toon die Universiteit dat ons Eeufees nie in isolasie plaasvind nie, maar met ander eeufeeste in ons land verband hou," sê dr Barbara Pool, senior direkteur van Strategiese Inisiatiewe en die oorhoofse bestuurder van die US se Eeufeesinisiatiewe.

Die gedagte om Mama Sisulu te vereer het by prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, begin. “Dit herinner ons aan die rol wat vroue in die bou van ons nasie gespeel het, en voortgaan om te speel," sê prof Klopper. “Hoewel hulle nie altyd die hardste praat of in die openbare oog is nie, moet 'n mens nooit onderskat oor hoeveel mag vroue beskik en hoe hulle op verskillende maniere hulle stemme laat opklink nie. Deur Mama Sisulu te vereer, vereer ons alle vroue." 

IMG_4954.JPG

​Die Universiteit wou iets betekenisvol op die Rooiplein aanbring, waar baie studente en personeellede daagliks deurbeweeg. Die keuse het op die banier geval omdat dit die nuuskierigheid sou prikkel en voetgangers sou aanspoor om vrae te vra en oor Mama Sisulu se lewe te gaan nalees.

Verbygangers sal ook inspirasie put uit een van Sisulu se bekende aanhalings wat op die banier verskyn: “We are each required to walk our own road and then stop, assess what you have learned and share it with others."

Pool hoop die banier sal gesprek aanmoedig, veral onder studente. Vir sowel die Mandela- as die Sisulu-installasie is daar op aanhalings besluit wat vir almal inspirasie bied, maar wat veral ook op studente afgestem is. Die gedagte is dat dit as 'n bron van aansporing sal dien vir studente wanneer hulle verbystap.

  • Albertina Nontsikelelo Thethiwe se werk as verpleegster, vroedvrou en gemeenskapsaktivis was lofwaardig. Haar politieke loopbaan van ses dekades het haar die respek en bewondering besorg van almal wat sowel plaaslik as internasionaal by die apartheidstryd betrokke was.

Sy is op 21 Oktober 1918 op die dorp Camama in die Tsomo-distrik van Transkei gebore, en was deel van 'n baie groot familie. Mama Sisulu het haar in 1940 by die ANC Vroueliga aangesluit en uit eie reg as politieke leier naam gemaak. Sy was een van die organiseerders van die historiese vroueoptog na die Uniegebou in Pretoria op 9 Augustus 1956. In dié optog het 20 000 vroue betoog teen die voorgestelde wysigings aan die Stadsgebiedewet, waarmee die regering dit verpligtend wou maak vir alle Afrikavroue om 'n pasboek met hulle saam te dra.

Mama Sisulu is op 2 Junie 2011 in die ouderdom van 92 oorlede. 


 

Foto: Sandra Mulder