Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe gene-ontdekking versterk samewerking tussen die US en KU Leuven
Outeur: Dr B Loedolff
Gepubliseer: 05/11/2018

Dr Bianke Loedolff, 'n na-doktorale navorsingsgenoot van die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB), het onlangs teruggekeer van 'n twee maande lange navorsingsbesoek aan die Katolieke Universiteit Leuven (KU Leuven, België). Sy was een van drie kandidate vanuit Sub-Sahara Afrika wat 'n Coimbra-toekenning ontvang het vir mobiliteit. Haar reise het aanleiding gegee tot 'n nuwe samewerking tussen die IPB en prof. Wim Van Den Ende (Instituut vir Plantkunde en Mikrobiologie, Fakulteit Natuurwetenskappe), 'n internasionaal erkende naam op die gebied van fruktan-navorsing. Dr Loedolff het navorsing gedoen in hierdie laboratorium wat haar ontdekking van 'n heeltemal nuwe geen-volgorde bevestig het. Hierdie ontdekking is dalk 'n nuwe ensiem wat die vermoë het om 'n suikerpolimeer uit raffinose te produseer ('n komplekse suiker met pre-biotiese funksies). Tydens haar verblyf was sy blootgestel aan die werking van “high performance liquid chromatography" (HPLC) en het sy baie ure angstig "piek-waking" op 'n rekenaarskerm bestudeer. Binne hierdie kort tydperk was haar ontdekking bevestig en daar was opwinding van alle betrokke belanghebbendes. Die uitkoms van die besoek het gelei tot die vestiging van 'n stewige fondament tussen twee laboratoriums aan die SU en KU Leuven, waarby talle gesamentlike toekomstige projekte oor die wetenskapsgrens uitgevoer sal word. Die IPB sien uit na die finalisering van die eksperimente rondom die ontdekking tussen die twee navorsingsomgewings.

Behalwe vir die navorsing, het Dr. Loedolff ook 'n verskeidenheid kulinêre lekkernye geniet (en dan praat ons nie eens van 'craft' brouerye nie....), uniek aan België, met twee van haar gunstelinge die luukse Belgiese wafel en gerookte rivierpaling. Leuven, 'n lewendige dorpie met baie aktiwiteite gedurende die somer, het 'n onvergeetlike en prettige ervaring gebied met opelugmarkte, vuurwerke en selfs 'n karnaval om die kinderlike-gees te laat herleef.