Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fisiologie-studente spog met 6 uit 8 toekennings
Outeur: Media and communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 22/10/2018

Nagraadse studente in die Departement Fisiologiese Wetenskappe het die botoon gevier toe hulle weggeloop het met ses uit die agt pryse wat tydens die eerste CoBNeST-konferensie in Oktober 2018 toegeken is.

US studente het die eerste drie plekke in die PSSA Johnny van der Walt plakkaat-kompetisie verower. Yigael Powrie, 'n PhD-student in prof. Carine Smith se navorsingsgroep, het die eerste plek verower. Yigael ondersoek die moontlikheid om die produksie van sekere hormone in die brein op te reguleer ten einde kroniese inflammasie tydens neurodegenerasie te verlig.

MSc-student Daleen Conradie, wat onder prof. Anna-Mart Engelbrecht studeer, het tweede plek verower met haar plakkaat, terwyl PhD-student Tracey Ollewagen en MSc-stduent Carla Fourie die derde plek gedeel het. Hul studieleiers is onderskeidelik profs. Kathy Myburgh en Engelbrecht.

Die beste algemene plakkaat deur 'n nie-student het gegaan aan dr. Ayodeji Oyenihi, 'n posdoktorale genoot in prof. Smith se navorsingsgroep. Hy werk op metodes wat oksidatiewe stressbeserings in chroniese siektes kan teenwerk.

Cameron Sugden, 'n MSc-student in prof. Myburgh se navorsingsgroep, het die derde plek verower in die Wyndham-kompetisie vir die beste mondelinge aanbieding. Cameron het 'n lesing gelewer oor die aktivering van spierstamselle in reaksie op hoë-intensiteit oefening.

Die CoBNeST-konferensie is die eerste van sy soort en het daarin geslaag om 'n verskeidenheid van verenigings met dieselfde belangstelling in basiese en kliniese biomediese en farmaseutiese wetenskappe bymekaar te bring. Dié konferensie sal voortaan op 'n jaarlikse basis plaasvind. Teenwoordig by die konferensie was die Fisiologie-vereniging van Suid-Afrika (PSSA), die Akademie van Farmaseutiese Wetenskappe, die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Laboratorium-proefdierwetenskap, die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Basiese en Kliniese Farmakologie, die Suider-Afrikaans Neurowetenskappe-vereniging, en die Toksikologie-vereniging van Suid-Afrika.

Prof. Smith sê die Departement Fisiologiese Wetenskappe is baie trots op hul studente: “By hierdie en vorige konferensies het ons fisiologie studente die toekennings gedomineer. Dit bevestig ons departement se prominente rol in fisiologie-navorsing in Suid-Afrika."

small_group_PSSAawards2018 005.jpg 

Bo, nagraadse studente dr. Ayodeji Oyenihi, Yigael Powrie, Daleen Conradie, Tracey Ollewagen en Carla fourie. Cameron Sugden was afwesig toe die foto geneem is. Voor hulle is hul studieleiers, profs. Carine Smith, Kathy Myburgh en Anna-Mart Engelbrecht. Foto: Wiida Fourie-Basson 
​​