Die verskaffing
van bekostigbare behuising is noodsaaklik vir die verbetering van lewensgehalte
en versekering dat huishoudings ʼn beveiligde bate het om ʼn beter toekoms te
verseker.
Die realiteit is
dikwels egter anders weens die suboptimale gehalte van huise wat aan
begunstigdes oorhandig word. Die gehalte van huise is dikwels so onvoldoende
dat die munisipaliteit nie grondbriewe kan uitreik nie, wat beteken dat die
huise nie wetlik as oordraagbare bates erken word nie.
Ten einde hierdie
kwessie aan te pak, is ʼn samewerkende inisiatief tussen die Universiteit
Stellenbosch se Fakulteit Ingenieurswese en Fakulteit Ekonomiese en
Bestuurswetenskappe, die University of Bath in die VK, die Wes-Kaapse
Departement van Menslike Nedersettings, die plaaslike munisipaliteit,
boukontrakteurs en die Rooidakke-gemeenskap van stapel gestuur.
Die doel van die
inisiatief was om ʼn aanspreeklikheidsinstervensie in die bou van gesubsidieerde
staatsbehuising bekend te stel om die gehalte van die huise wat gebou word, te
verbeter.
ʼn Loodsprojek is
in Rooidakke, ʼn gemeenskap net buite Grabouw, begin, op grond van die hipotese
dat bykomende toesighouding die gehalte van die huise kan verbeter, waardeur
tevredenheid en ʼn gevoel van eienaarskap vir die begunstigdes verbeter kan word.
Die ekonomie van
die situasie is ʼn moeilike taak. Weens die hoë vraag na huise is daar ʼn
ernstige agterstand ten opsigte van huise wat voltooi moet word. Inflasie en
onvoldoende behuisingsubsidies beteken dat laegehalte-arbeiders uit die
gemeenskap gebruik word, wat min of geen vaardighede het nie. Die boumaatskappy
moet dan hierdie vaardighede aan die arbeiders leer, wat gevolglik werk met
beter betaling elders gaan soek. Dit beteken dat halfgeskoolde arbeiders
ongeskoolde werkers moet oplei, wat tot gehalteprobleme lei en op lang termyn
meebring dat meer hulpbronne benodig word om hierdie kwessies reg te stel.
Maar wie is
verantwoordelik en kan enigiemand verantwoordbaar gehou word? Is dit die
regering, die boumaatskappye, die arbeiders, begrotingsbeperkings of staatswaardeerders?
Studente van die
Departement Siviele Ingenieurswese het die bouterreine weekliks besoek om
inspeksies te doen. Die studente het dan hul bevinding aan die kontrakteurs
oorgedra, sodat die kwessies reggestel kan word en terugvoering in aanmerking
geneem kan word. Veldwerkers wat uit die Rooidakke-gemeenskap gewerf is, is ook
opgelei om hulle te bemagtig om die gemeenskap by te staan deur terugvoering te
gee.
Hierna is ʼn
opname gedoen om die tevredenheid van die begunstigdes te bepaal, wat ʼn baie
hoër vlak van algemene tevredenheid met hul nuwe huise aangetoon het. Die
begunstigdes is ook toegerus met die nodig kennis om self terugvoering te gee
wanneer kwessies opduik.
“Die samewerking deur
die studente was grondliggend om al die belanghebbendes bymekaar te bring om
probleme te bespreek en saam aan oplossings te werk, waardeur werkverhoudings
verbeter is en gehaltekwessies hanteer kon word wanneer dit opduik, eerder as
ná die tyd. Die studente het ook insig in werklike probleme in ʼn werksomgewing verkry,”
sê Marisa von Fintel, dosent in die Departement Ekonomie in die Fakulteit
Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.
Die volgende
stappe vir die inisiatief is om die omvang van die projek te vergroot deur die
ontwikkeling van ʼn app om reëletyd-inspeksies vas te lê en die bekendstelling
van werkswinkels vir alle betrokke partye.