Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW pediater verkies tot invloedryke akademie
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 16/10/2018

Dr Amy Slogrove, 'n senior dosent in die Department Pediatrie en Kindergesondheid aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, is onlangs gekies as 'n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie van Jong Wetenskaplikes.

Die akademie – wat in 2011 gestig is – is 'n inisiatief van die Departement van Wetenskap en Tegnologie en is daarop gemik om jong wetenskaplikes uit 'n verskeidenheid wetenskaplike dissiplines bymekaar te bring om saam te beraadslaag oor moontlike oplossings vir gemeenskapsprobleme in Suid-Afrika. Dit is ook daarop gemik om jong wetenskaplikes die geleentheid te gee om nasionale beleid te beïnvloed.

Tien nuwe lede word elke jaar deur die akademie aangestel vir 'n dienstydperk van twee jaar.

Slogrove se navorsing fokus op die uitwerking van vroeë blootstellings tydens swangerskap en vroeë kinderjare en die lang-termyn impak hiervan op die verloop van gesondheid in kinders. Haar spesifieke fokus is op die evaluering van in utero MIV en anti-retrovirale middel-blootstelling onder kinders van MIV-positiewe ma's, waar die kinders nie self MIV-positief is by geboorte nie. Sy is gebaseer by die Universiteit Stellenbosch se kampus in Worcester.

“Dit was onverwags, maar so 'n groot eer om beskou te word as een van die tien voorste jong wetenskaplikes, en om deel te wees van so 'n wye groep is 'n geweldige groot geleentheid. Ek is opgewonde daaroor om met mense uit soveel verskillende wetenskaplike dissiplines te werk en om te kan luister na hulle perspektiewe oor hoe ons die uitdagings waarmee ons in ons land gekonfronteer word, kan aanpak," sê Slogrove.

Sy voeg by dat die feit dat sy in Worcester gebaseer is, beteken sy kan die landelike perspektief gee in verband met gesondheid en ontwikkeling. “Ons sien sulke ongelykhede in dienste en uitkomste vir mense. Ek bepleit nie net die saak van die kinders nie, maar ook altyd dié van landelike en afgeleë bevolkings.

“Ons besef meer en meer hoe die dinge wat jy vroeg in jou lewe ervaar 'n enorme inpak het op waar jy jou as volwassene bevind. Dit word dikwels vergeet wanneer groor sosiale probleme aangepak word. Ek beywer my vir belegging vroeg in kinders se lewens, sodat hulle hulle potensiaal kan bereik.

“As 'n baie bevoorregte jong Suid-Afrikaanse vrou, hoop ek om iets te kan bydra…deur lidmaatskap van die akademie tot die vermindering van die ongelykhede in Suid-Afrika – of deur middel van die samewerking met ander wetenskaplikes om oplossings te probeer vind vir knellende gemeenskapsprobleme, of deur middel van mentorskap van die volgende generasie van jong wetenskaplikes," sê Slogrove ten slotte.