Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kaalvoetkinders het beter balans, spring ook verder
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 16/10/2018

ʼn Studie deur Suid-Afrikaanse- en Duitse navorsers het bevind dat kinders wat kaalvoet loop, beter balans het en ook verder kan spring as kinders wat skoene dra.

“Ons navorsing het getoon dat gereelde fisiese aktiwiteite sonder skoene voordelig kan wees vir die ontwikkeling van spring- en balansvaardighede, veral in die ouderdomskategorie 6-10 jaar," sê prof Ranel Venter van die Departement Sportwetenskap in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Venter en kollega dr Elbé de Villiers het saam met navorsers van die Universiteit van Jena en die Universiteit van Hamburg gewerk. Hul studie, wat tussen Maart 2015 en Junie 2016 in Suid-Afrika en Duitsland gedoen is, is onlangs in die vakjoernaal Frontiers in Pediatrics gepubliseer.

Venter sê die doel van die navorsing was om vir die eerste keer die verband tussen kinders wat kaalvoet groot word of skoene dra en die ontwikkeling van motoriese vaardighede gedurende die kinderjare en adolessensie te evalueer. “Sover ons weet het geen studie nog die moontlike verhouding tussen gereelde aktiwiteite wat kaalvoet uitgevoer word en motoriese vaardighede ondersoek nie."

Driehonderd vyf-en-tagtig kinders wat gereeld kaalvoet loop en 425 kinders wat skoene dra, is in skole in landelike en stedelike gebiede in die Wes-Kaap, Suid-Afrika, en Noord-Duitsland gewerf. Die kinders was tussen 6 en 18 jaar oud.

Venter sê die twee groepe is gekies vanweë hul verskillende skoeiselgewoontes.

“Waar Suid-Afrikaanse kinders gewoonlik gedurende die dag kaalvoet loop, dra byna alle Duitse kinders skoene gedurende skooltyd en tydens die meeste ontspanningsaktiwiteite."

Slegs dié wat op skool en by die huis of tydens sport-en ontspanningsaktiwiteite kaalvoet was is as gereelde kaalvoetlopende kinders beskou. Albei groepe moes vir ten minste 120 akkumulatiewe minute per week aan fisieke aktiwiteite deelneem en hulle moes nie enige ortopediese, neurologiese of neuromuskulêre toestande wat die motoriese prestasie kan beïnvloed hê nie.

Venter sê al die kinders het balans- (agteruitloop in 'n selfgekose, gemaklike spoed oor drie balansbalke van 6, 4.5, en 3 cm breedte), staande verspring- en 20 m naellooptoetse gedoen.

“Die uitslae van hierdie toetse toon dat kaalvoetkinders in Suid-Afrika se laerskole beter presteer in balanstoetse as hul Duitse eweknieë wat nooit kaalvoet loop nie. Dit kan verband hou met die feit dat die voete van Suid-Afrika se kinders wyer en meer vervormbaar is."

“Kaalvoetkinders kon ook verder spring vanuit 'n staande posisie as Duitse kinders. Dit kan moontlik verband hou met die feit dat die voetbrûe van Suid-Afrikaanse kinders goed ontwikkel is.

Kinders wat gereeld kaalvoet loop, se voetbrûe is hoër as dié wat nooit kaalvoet loop nie. Hul voete is ook meer buigsaam en nie so plat nie."

Venter sê wat die uitslae van die springtoetse betref, is beduidende effekte vir die ouderdomsgroepe 6-10 en 15-18 jaar gevind is.

Sy wys ook daarop dat minder verskille tydens adolessensie waargeneem word, hoewel individue wat gereeld kaalvoet loop se springafstand groter en naellooptye stadiger was.

“Ons resultate toon dat motoriese vaardighede van kinders wat skoene dra en dié wat kaalvoet loop anders kan ontwikkel gedurende die kinderjare en adolessensie. Waar kaalvoetkinders tussen die ouderdomme van 6 en 10 jaar beter gevaar het in die agteruitloop-balanstoets as kinders met skoene, is daar geen verskille in adolessente gevind nie. Die vroeë kinderjare is kernbelangrik vir die ontwikkeling van balans, en vinnige verbeterings kan waargeneem word tot en met die ouderdom 9-10 jaar."

“ ʼn Waarskynlike verklaring is dat skoeiselgewoontes die voet se spier-skelet-struktuur beïnvloed wat op sy beurt met motoriese prestasie geassosieer kan word."

Venter sê die resultate van hul studie beklemtoon die invloed en belangrikheid van skoeiselgewoontes vir die ontwikkeling van voete en motoriese vaardighede gedurende die kinderjare en adolessensie.

  • Bron: Hollander, K et al 2018. Motor skills of children and adolescent are influenced by growing up barefoot or shod. Frontiers in Pediatrics Vol.6: 1-6.

Foto met vergunning van Pixabay.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Ranel Venter

Departement Sportwetenskap

Fakulteit Opvoedkunde

Universiteit Stellenbosch

Tel: 027 21 808 4721

E-pos: rev@sun.ac.za   

      UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za