Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit vereer topdosente
Outeur: Belinda Jackson, Die Burger
Gepubliseer: 15/10/2018

Die volgende berig met die titel Twee vroue onder die topdrie in vanjaar se Topdosent-kompetisie​​ het op Saterdag, 13 Oktober 2018 in Die Burger verskyn. Dit is deur Belinda Jackson van Die Burger geskryf. Die foto's is deur Anton Jordaan.


Die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe het gisteraand vir Sophia Brink (35) aangewys as die algehele wenner in hul jaarlikse Topdosentkompetisie, wat deur Die Burger geborg is.

Sophia, 'n geoktrooieerde rekenmeester, is 'n dosent in finansiele rekeningkunde en is ook die topdosent van die skool vir rekeningkunde.

Dié slim ma van twee beskou dié erkenning as 'n groot eer. Sy glo enige vorm van erkenning is 'n groot bron van motivering, wat moraal onder personeel bou. Vir haar is 'n topdosent iemand wat seker maak haar student verstaan die relevansie van die kennis wat hulle in die lesinglokaal opdoen.

“Ek glo 'n dosent moet toeganklik vir studente wees en oor die vermoë beskik om moeilike konsepte op 'n eenvoudige manier te verduidelik. Ek besef ook die verantwoordelikheid wat ek het om 'n verskil in studente se lewens te maak. As student het ek nooit verstaan hoe ek dit wat ek swot, eendag gaan toepas nie. Ek probeer dus om soveel moontlik vir student voorbeelde uit die praktyk te gee om juis die relevansie van wat hulle leer, te beklemtoon," sê sy.

'n Dosent behoort ook altyd entoesiasties en beslis goed voorbereid te wees. “Jy moet passievol oor en lief wees vir jou vakgebied en daardie liefde en passie aan studente oordra. Ek geniet die interaksie met studente, veral op individuele vlak. Finansiële rekeningkunde word as 'n moeilike vak beskou. Dis vir my wonderlik om te kan sien hoe die spreekwoordelike liggie aangaan en die student dan verstaan," meen sy.

Vanjaar se algehele naaswenner is prof. Sarel Steel van die department statistiek en aktuariële wetenskap. Hy is ook die topdosent van sy departement. Die derde algehele wenner is Eloise de Jager van die skool vir rekeningkunde – ook 'n geoktrooieerde rekenmeester – wat verlede jaar gekies is as algehele wenner. Prysgeld vir die algehele wenners is onderskeidelik R30 000, R25 000 en R20 000.

Vanjaar is 'n Alumni-topdosent by die kompetisie ingesluit ter viering van die US se eeufees. Die meerderheid van sowat 500 alumni het wyle prof. Sampie Terreblanche as hul topdosent aangewys. 'n Kort huldeblyk is aan prof. Sampie by die funksie gelewer.

Die Topdosent-kompetisie is vanjaar vir die agste keer gehou, waarin student hul beste dosent in hul departmente kies. Verreweg die meeste student het aangedui dat hul topdosent oor uitstekende onderrigvermoë beskik, en die tweede grootste groep beskou toeganklikheid van hul topdosent as die belangrikste eienskap.

Die ander ses departementele wenners is:

  • Heinri Freiboth (departement logistiek)
  • Tendai Mariri (departement bedryfsielkunde)
  • Phumlani Nkontwana (skool vir publieke leierskap)
  • Prof. André Roux (US Bestuurskool)
  • Dr. Debra Shepherd (department ekonomie)
  • Prof. Edwin Theron (department ondernemingsbestuur).

Hulle het elk prysgeld van R20 000 ontvang. Tien studente wat aan die stemproses deelgeneem het, het ook elk R1 500 ontvang en 'n student wat die topdosentfunksie bygewoon het, het 'n slimfoon ontvang.

“Hierdie funksie beteken vir ons dosente geweldig baie, veral omdat dit die studente is wat erkenning gee aan uitnemendheid in die onderrig van hul dosente. Die impak hiervan is insiggewend," sê prof. Ronel du Preez, visedekaan: leer en onderrig van die fakulteit, ook die akademiese hoof van die kompetisie.

  • Hooff​oto: V.l.n.r.: Mnr Justin Langeveld (hoofbestuurder van Die Burger); prof Rachel Jafta (voorsitter van Media24); prof Sarel Steel (naaswenner van die topdosentkompetisie); mev Sophia Brink (algehele wenner van die 2018 topdosentkompetisie); mev Eloise de Jager (3de plek in die topdosentkompetisie); en mnr Willem Jordaan, redakteur van Die Burger. Dié dagblad borg die topdosentkompetisie van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by US reeds die afgelope agt jaar.
  • Foto regs: Me Maryam Rhode, een van die studente wat in die kompetisie vir haar topdosent gestem het, het 'n slimfoon in 'n gelukstrekking gewen. Dit is deur mnr Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, aan haar oorhandig.
    Selfoonwenner.jpg