Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ingenieurswese sterk, dinamies, aktief en groeiend sê dekaan
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 09/10/2018

"Ons is trots en gelukkig om so 'n goeie opkoms van alumni en hul metgeselle te hê. Ek kan julle verseker ons is 'n sterk, dinamiese, aktiewe en groeiende fakulteit," het prof Wikus van Niekerk (dekaan: Ingenieurswese) aan Matie ingenieurs gesê tydens 'n skemerkelk-geleentheid wat 4 Oktober 2018 by die Radisson Blu-Hotel in die Kaapse Waterkant gehou is. "Ons het heelwat jong akademici. Dit is vir keurkomitees verblydend om die hoë kaliber van aansoeke vir akademiese poste te sien. Ons het tans baie goeie personeel."

Hy het bygevoeg: "Dit is nie die berge en die wyn wat die taak van ons akademiese en administratiewe personeel makliker maak nie, maar die gehalte van die studente."

Prof Van Niekerk het die 4de industriële rewolusie aangeraak wat om inligtingwetenskap, diep-leer, ensovoorts wentel. Hy het genoem dat die hersaamgestelde Adviesraad van die Fakulteit tydens hul eerste vergadering in Mei vanjaar beklemtoon het dat die Fakulteit die jonger geslag moet voorberei om te kan werk 'n stortvloed van data. Die instelling van 'n BIng in Datawetenskap is ook in die pyplyn," het hy bekendgemaak.

Hy het aanbeweeg na die groot konstruksieprojekte by die Fakulteit wat die afgelope drie jaar aan die orde van die dag was: "Nóg 'n opwindende belegging in die volgende sewe tot agt jaar, is bykans 'n miljard rand wat bestee sal word om die Ingenieursgebouekompleks op te knap en te vernuwe. Die Departement Bedryfsingenieurswese het onlangs die ou Informastiegegnologie-gebou betrek nadat die hele gebou vernuwe en heringerig is. Die Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese gebou is volgende aan die beurt, met die geboue van Proses (Chemiese) Ingenieurswese, Siviele Ingenieurswese en Elektriese en Elektroniese ingenieurswese wat in die tou staan. 'n Splinternuwe Plaveiselingenieurswese-laboratorium sal ook binnekort gebou word. As julle ons gedurende die volgende paar jaar besoek, sal julle 'n groot bouterrein sien."

Die Dekaan het toe die gehoor bewus gemaak van dat die Fakulteit Ingenieurswese se 75ste herdenking in 2019. Hy het hulle uitgenooi om deel te neem aan die vieringe en aangemoedig om interessante staaltjies oor hul tyd by hul alma mater in te stuur.

Ongeveer 150 mense het die funksie bygewoon. Die meeste alumni wat bygewoon het, is tussen 1980 en 1995 gebore. Die meeste gaste het die afgelope tien jaar gradueer.

Klik HIER om die foto's van die geleentheid te sien.

Foto: Die dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, prof Wikus van Niekerk, spreek Matie ingenieurs en hul metgeselle toe.