Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Deborah Blaine verkies tot president van SAIMegI
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 05/10/2018

Prof Deborah Blaine is onlangs verkies tot president van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Meganiese Ingenieurswese (SAIMegI). Prof Blaine is 'n medeprofessor in die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch.

Sy is sedert 2008 betrokke by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Meganiese Ingenieurswese en was voorsitter van die Wes-Kaapse tak tussen 2011 en 2013.

Oor haar aanstelling as president van SAIMegI sê sy: "In 2018 was daar 'n paar ontstellende openbare kommentare oor die plek van vroue in wetenskap en tegnologie. Ek is baie bly dat SAIMegI besluit het om my te verkies om ons lede in hierdie tyd te verteenwoordig – dit weerspieël my ondervinding oor die afgelope 10 jaar van interaksie met die instelling, waar ek altyd deur my meganiese ingenieurskollegas verwelkom, aangemoedig, ondersteun en erken is. Ons weet almal dat die vorm van die samelewing in 'n oogwink verander. SAIMechI ontvang deurlopend versoeke van ons ingenieurstudentelede en jong gegradueerde ingenieurs vir geleenthede om met meer ervare ingenieurs, veral dié gekwalifiseerde professionele persone (PrIng, PrTech), betrokke te raak, sodat hulle voordeel kan trek uit mentorskap en insig in die beroep bekom. Ek hoop dat ons hierdie geleenthede kan skep om ingenieurs van regoor die spektrum op dinamiese en interessante maniere te verbind.

Prof Blaine se belangstelling in ingenieurswese is vroeg geprikkel toe sy haar vader se fabriek besoek het. "Ek het daarvan gehou om te sien hoe dinge vervaardig word en die doeltreffendheid van die produksielyn waar te neem," sê sy. "Ek het meganiese ingenieurswese gekies omdat dit die wydste van die dissiplines is en omdat dit die dissipline is waar meganiese strukture, materiale en wetenskap ontmoet."

Nadat sy haar BIng (Meganies) in 1996 aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het, het sy haar belangstelling in materiaalingenieurswese nagestreef deur 'n PhD in Ingenieurswetenskap en Meganika aan die Pennsylvania State University in die VSA te volg en het in 2004 haar doktorsgraad verwerf. "Ek het hier in my presiese belangstellingsveld, naamlik gesinterde produkte, gewerk. Ek was deel van 'n sterk navorsingsgroep onder leiding van prof Rand German, 'n wêreldbekende deskundige. Ek het die geleentheid gehad om van sy klasse te doseer toe hy met sabbatsverlof was.

"Ek het gedink dat dit sal goed wees om ondervinding in die bedryf op te doen en by Bleistahl Produktion in Duitsland aangesluit wat die nommer een vervaardiger van klepringe in die Europese Unie is," voeg sy by. "Ek het in die kantoor vir materiaalnavorsing en ontwikkeling gewerk en gehelp om 'n nuwe materiaal te ontwikkel."

In 2007 het sy by die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch aangesluit en is in Januarie 2017 as die eerste vroue medeprofessor in die Departement aangestel. 

Prof Blaine het 'n passie vir onderrig en was 'n medestigter van die SA Vereniging vir Ingenieursopleiding. "Ek geniet navorsing, maar veral onderrig. Terwyl ek 'n paar van prof Rand se klasse by Penn State waargeneem het, het ek besef hoe graag ek dinge aan mense verduidelik. Ek geniet die uitdaging om nuwe maniere te vind om inligting te verduidelik en aan te bied wanneer sommige studente dit nie begryp nie. Ek dink dit is die rede waarom ek 'n dosent geword het. Om mense te help om inligting te verwerk en te snap en só hul kennis bou, bring my groot genoegdoening. Ek voel dat ek 'n verskil kan maak."

Foto: Prof Deborah Blaine.