Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verhit water op regte tyd om elektrisiteit te bespaar
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 05/10/2018

Met elektrisiteitspryse wat moontlik in die volgende drie jaar drasties kan styg, sal Suid-Afrikaners slim te werk moet gaan om krag te bespaar. Een van die maniere om dit reg te kry, is om minder elektristiteit te gebruik om jou water vir daardie daaglikse stort of bad te verhit.

ʼn Studie aan die Universiteit Stellenbosch (US) het bevind dat indien jy jou waterverhitter korrek stel volgens die hoeveelheid warm water wat jy gebruik, kan jy meer koste op waterverhitting bespaar as wanneer jy 'n termiese kombers gebruik of die temperatuur van jou geiser verlaag.

“Die beste manier om op huishoudelike elektriese waterverhitting te bespaar, is om twee uur voor jy gaan stort of bad die water te verhit en dan die verhitting te stop net voordat jy in die stort of bad klim," sê prof Thinus Booysen van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die US. Hy het die navorsing saam met kollegas Philip Nel (Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese) en Brink van der Merwe (Departement Rekenaarwetenskap) gedoen. Hulle het 'n antwoord probeer vind op die eeue-oue vraag oor wat die beste manier is om elektrisiteit wat vir huishoudelike waterverhitting gebruik word te bespaar.

Die bevindinge van hul studie is onlangs in die verrigtinge van die IEEE International Conference on Innovative Smart Grid Technologies gepubliseer.

Booysen sê weens die ondoeltreffendheid en koste van huishoudelike waterverhitting, wat verantwoordelik is vir soveel as 32% van die huishoudelike elektrisiteitsverbruik waar elektriese waterverhitters gebruik word, het hulle besluit om die impak van verskeie energiebesparingsmaatreëls vir waterverhitters te evalueer. Dit sluit onder meer in die verlaging van die temperatuur waarop die termostaat gestel is, die vermindering van die volume wat verbruik word, die gebruik van 'n termiese kombers oor die tenk en pype, en die gebruik van ʼn geoptimaliseerde skedule om verhitting te beheer.

Booysen voeg by dat mense dikwels sukkel om sin te maak van hierdie besparingsmetodes en om die regte een vir die regte gebruik te kies.

Om uit te vind watter van hierdie metodes die koste-effektiefste is, het die navorsers hulle met agt tipiese huishoudelike gebruike (bv. 'n persoon wat alleen in ʼn woonstel woon en stort tot vier mense in huis wat bad) vergelyk. Hulle het ook die impak van omgewingsfaktore vergelyk, soos die temperatuur rondom die waterverhitting en die temperatuur van die koue watertoevoer.

Booysen sê hulle het 'n twee-nodale fisiese model van 'n elektriese waterverhitter gebruik om die energieverbruik van 'n individuele elektriese waterverhitter na te boots en dit getoets deur verbruiksdata van werklike huishoudelike waterverhitters te ontleed.

Effektiewe skedule

“Ons resultate toon dat skedulebeheer oor die algemeen die grootste besparing tot gevolg het, met  besparings van 9% tot 18%. Die grootste besparings, soos verwag, was in gevalle waar slegs byvoorbeeld een keer per dag gestort word."

“Ons het bevind dat skedulebeheer ʼn besparing van sowat 18% vir huishoudings waar een keer per dag gebad of gestort word, en gemiddeld 12% vir all die ander gebruike wat geëvalueer is tot gevolg het."

“Huishoudings waar twee keer per dag gebad word (een keer in die oggend en een keer in die aand) kan 10% bespaar en dié waar twee keer per dag gestort word (een keer in die oggend en een keer in die aand) kan 9% bespaar."

Booysen voeg by dat skedulebeheer doeltreffend is omdat dit nie enige vorm van gedragsverandering benodig indien dit korrek geïmplementeer word nie.

“ ʼn Effektiewe skedule sal warm water op aanvraag kan lewer terwyl die staande verliese (termiese energie wat aan die omgewing verloor word) van die elektriese waterverhitting verminder word. Staande verliese is die gevolg van die verskil in die temperatuur van die water in die verhittingstenk en dié van die omgewing."

Hy sê skedulebeheer het ook die grootste impak op die staande verliese van waterverhitters vir beide enkelpersone én drie mense wat saam woon.

Booysen wys daarop dat die tweede doeltreffendste besparing verkry word deur die isolasie van die pype en die tenk, met besparings wat wissel van 5% tot 12%.

“Termiese isolasie spaar soveel as 12% vir lae-volume ongereelde gebruik, en 'n gemiddeld van byna 9% oor profiele."

Hy noem dat die implementering van skedulebeheer, isolasie van pype en 'n termiese kombers saam  'n totale gemiddelde verlaging in energie van 25,1% en 14,7% vir onderskeidelik ʼn enkelpersoon en drie mense in ʼn woning tot gevolg sal hê.

Booysen sê dit is ook belangrik om aandag te skenk aan die koue inlaatwater en om die regte temperatuur vir die waterverhittingstenk te stel, veral vir 'n persoon wat alleen woon.

“Die resultate toon dat die temperatuur van die koue inlaatwater 'n beduidende impak op die energieverbruik het, met 'n 5°C toename wat 'n gemiddelde besparing van 13%, in vergelyking met slegs 5% vir dieselfde verandering in omgewingstemperatuur tot gevolg het."

“Deur eenvoudig die gestelde temperatuur van die waterverhitter met 5°C [tot 60°C] te verlaag, kan 'n persoon wat alleen woon 'n soortgelyke totale energieverlaging in verhitting verkry as wanneer hy/sy hom/haar warm waterverbruik met 20% te verminder. Dieselfde vermindering is moontlik deur die installering van 'n termiese kombers en die isolasie van pype," sê Booysen.

  • Bron: Nel, PJC; Booysen, MJ; Van der Merwe, B. IEEE International Conference on Innovative Smart Grid Technologies.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Prof Thinus Booysen

Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4013

E-pos: mjbooysen@sun.ac.za

        UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za