Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US gasheer vir eerste nadoktorale konferensie in Suider-Afrika
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 02/10/2018

Die eerste nadoktorale konferensie in Suider-Afrika vind vanaf Woensdag 3 Oktober tot Vrydag 5 Oktober 2018 by die Universiteit Stellenbosch (US) plaas. Die geleentheid, wat deur die US se Vereniging vir Nadoktorale Genote gereël word, word by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing aangebied. Die konferensie, wat amptelik Donderdag 09H00 begin, word voorafgegaan deur 'n verwelkomingsfunksie Woensdagaand by Stellenbrau in Stellenbosch.

Dit vorm deel van die US se Eeufees en vier 100 jaar van opvoeding by die instelling. Die tema van die konferensie is 100 years into the future. Dit bring nadoktorale navorsers van regoor Suid-Afrika en ander dele van die vasteland byeen om oor hul werk te praat. Die doel is om 'n interdissiplinêre forum te skep en die belangrikheid van nadoktorale genote te beklemtoon om navorsing vir die volgende 100 jaar te bestuur. Twee interdissiplinêre werkswinkels, 57 mondelinge aanbiedings en nege plakkate van regoor Suid-Afrika en elders maak deel uit van die konferensie.

Aanbiedings sal op 'n wye verskeidenheid kwessies in onder meer Afrika-geskiedenis, Onderwys, Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Tegnologie, Biologie en Landbou fokus.

Van die onderwerpe wat bespreek sal word, sluit in die dekolonisasie van onderrig oor maatskaplike werk; skoolgebaseerde kubersekerheid; oorsake van sterftes onder pasgebore babas; geslagsgelykheid in opvoedkundige leierskap; biomolekules en nanotegnologie; die bestuur van werknemers se welwees; werksonsekerheid in Suid-Afrika se hoër onderwys-omgewing, en die belangrikheid van sosiale innovasiestelsels vir volhoubare ontwikkeling.

Dr Natasha Mothapo, voorsitter van die Vereniging vir Nadoktorale Genote en lid van die reëlingskomitee, sê die konferensie is belangrik omdat “nadoktorale genote ʼn kernrol in navorsing by universiteite speel, en navorsingsuitsette en innovasied ryf. Ons glo dat byeenkomste soos hierdie baie belangrik is om saam te werk vir die toekoms, aangesien ons die akademici van die toekoms binne universiteite is."

“Die storie van navorsing in Afrika is besig om te verander, so ook die gesig van navorsing en die impak daarvan op ons gemeenskappe. Vir die volgende 100 jaar, watter rigting moet navorsing in Afrika inslaan? Waarop moet ons fokus? Wat kan ons doen om Afrika globaal in ʼn leiersposisie te plaas?"

Mothapo sê hulle hoop dat hierdie enkele van die besprekings is wat op die konferensie ter sprake sal kom.

Die aantal nadoktorale navorsingsgenote aan die US het met 40% verhoog sedert 2015, met meer as 350 geregistreerd in 2017, en `n ongeveer 50% verdeling tussen nasionale en internasionale genote.

  • Vir meer inligting oor die konferensie of om die geleentheid by te woon, skakel asseblief met dr Natasha Mothapo by tel 021 808 43 87 of e-pos mothapo@sun.ac.za.