Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Museum wen toerisme-toekenning
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 02/10/2018

Die Universiteit Stellenbosch (US) Museum het onlangs vir die eerste keer die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se Burgermeester-toekenning vir Toerisme gewen. Dit is nog 'n pluimpie vir die Museum nadat dit vroeër vanjaar 'n toekenning van die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport as die beste museum vir sosiale insluiting ontvang het.

Die jaarlikse Burgermeester-toekenning vir Toerisme vier die prestasies van rolspelers in die Kaapse Wynland-toerismebedryf en stel die beste toerisme-entiteite, produkte, uitnemendheid en die mense agter dit bekend. Dié toekenning erken die entiteite, produkte en mense wat uitgeblink het en voortgaan om die verwagtinge binne die Kaapse Wynlandse toerisme-bedryf te oortref.

In reaksie op die Museum se mees onlangse prestasie het Mnr Bongani Mgijima, Direkteur van die US Museum, gesê: “Die Burgermeester se Toerisme-toekenning vir Volhoubare Ontwikkeling vul ons met nederigheid. Hierdie simboliese gebaar wys dat die werk van die Universiteitsmuseum opgemerk word. Die toekenning erken ook die universiteitsmuseum as 'n belangrike kulturele en toerisme-bestemming in die streek."

“Volhoubaarheid is 'n kernpilaar van die Universiteit se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019-2014. Ons is baie dankbaar dat ons Museum op 'n geringe wyse bydra tot die bereiking van hierdie groter visie," het hy bygevoeg.

Mgijima het gesê die US Museum wil 'n leidende museum van die 21ste eeu wees wat verbind is tot ekonomiese, omgewings- en sosiale volhoubaarheid, terwyl sy programme 'n bewys is van sy verbintenis om effektiewe volhoubare toerismepraktyke te bevorder en te demonstreer.

Een voorbeeld hiervan is die Museum se Access to Visual Arts-program wat benadeelde leerders in die Kaapse Wynland-distrik en dié binne 'n radius van 120 km van Stellenbosch die geleentheid bied om die Museum, die US-kampus en die botaniese tuin te besoek.

“Die Burgermeester-toekenning vir Toerisme vorm deel van die groeiende aantal toekennings en erkennings wat die US Museum oor die afgelope jaar ontvang het. Dit bevestig die posisie van die museum as 'n ruimte vir betrokkenheid, dialoog, die deel van geskiedenis (en ons stories), en inderdaad as ʼn ruimte waar kuns lewendig word. Dit is net so waar vir die breër universiteitsgemeenskap en in ons hele dorp," het dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur vir Sosiale Impak en Transformasie by die US, gesê.

Die US Museum is ʼn belangrike trekpleister vir internasionale, nasionale en plaaslike toeriste en bied sosiale geleenthede en konferensies aan wat inwoners, toeriste en studente bymekaarbring en sosiale kapitaal bou. Verder bied dit jaarliks vir alle geregistreerde toergidse in die Wes-Kaap ʼn middagete aan wat ook as ʼn netwerkgeleeentheid dien.

  • ​Hooffoto: Personeellede by die US Museum spog met die Toerisme-toekenning.
  • Fotograaf: Ulrich Wolff