Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US student wen internasionale prys vir innovasie
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 01/10/2018

Die mediese student, Keaton Harris, was opgetoë toe hy vroeër vanjaar gekies is om deel te neem aan die Young Sustainable Impact (YSI) Innovasie-program.

Maar toe hy onlangs gehoor het dat hy en sy span hierdie globale kompetisie gewen het vir hulle ontwerp van ʼn prototipe wat daarop gemik is om gesondheidsprobleme op te los, was die gevoel “onwerklik"! 

Nadat Harris en sy span vir maande lank afgeleë met mekaar geskakel het, het hulle uiteindelik in Augustus hul prototipe by ʼn kongres in Noorweë aangebied, en is hulle as die wenners van die kompetisie aangewys vir hulle platform, InforMED, wat poog om taalhindernisse binne die gesondheidsektor te oorkom.

Vroeër vanjaar het Harris, ʼn eerstejaar mediese student wat ook ʼn Honneursgraad in Aptekerswese van UWK (summa cum laude) het, een van sleg 21 mense in die wêreld – en die enigste Suid-Afrikaner – geword wat gekies is om deel te neem aan die YSI-program.

YSI, wat al sedert 2016 aan die gang is, poog om oplossings te vind wat sal help om die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (VOD) te bereik.

Die kandidate is gekies uit 8560 aansoeke op grond daarvan dat hulle “mal genoeg is om te dink dat hulle die wêreld kan verander, en dapper genoeg is om dit wel te doen."

Nadat hulle gekies is, is hulle in groepe verdeel en is hulle afgerig oor hoe om hul eie prototipes te ontwerp wat sal help om een van die VODs op te los. Harris en sy span het VOD 3 gekies wat verband hou met “Goeie Gesondheid en Welstand."

Die span het vir vyf maande lank deur middel van ʼn aanlyn-program vanaf regoor die wêreld saamgewerk aan die prototipe.

“Die idee was dat ons na vyf maande ʼn prototipe op die been sal hê, wat ons gedoen het. Daarna het die span in Oslo, Noorweë, byeen gekom vanaf 12 tot 26 Augustus, om ons besigheidsplan te verfyn en ons handelsmerk, naam en logo te ontwikkel. Ons het ook met ʼn reeks mense om gegaan," het Harris gesê.

“Om op VOD 3 te werk was perfek vir my, aangesien ek in die mediese veld is. Aanvanklik was daar net drie spanlede – ek, iemand van Kanada en iemand van Brasilië. Ons het begin deur ʼn analise te doen van die afsonderlike aspekte van gesondheid wat verbetering benodig.

“Ons het besluit om daaraan te werk om taalhindernisse in die mediese praktyk te oorbrug. In Suid-Afrika is taalhindernisse ʼn probleem. Byvoorbeeld, as ʼn Engels- of Afrikaanssprekende dokter in KwaZulu-Natal gaan werk, waar die meeste mense Zulu-sprekend is, kan daar ʼn taalhindernis ontstaan.

“Ons span het ʼn mobiele vertalingstoep ontwerp wat van lyn af werk wat sal help om die taalhindernisse tussen gesondheidswerkers en pasiënte te oorbrug.

“Toe het ons ʼn vierde persoon van Indië ingekry wat ʼn kenner is in kunsmatige intelligensie. Ons het die toep gekodeer en die inligting vasgekodeer. Ons het algemene frases van dokters gekry, soos 'hoe voel jy?'. Die toep kan dit vertaal om kommunikasie te vergemaklik. 

“Die voorlopige koppelvlak stel dokters en gesondheidsorgpraktisyns in staat om hul voorkeurtaal te kies, en vir die pasiënt om dieselfde te doen. 

“Ons het dit as ʼn prediagnose toestel ontwikkel, sodat die praktisyn reeds ʼn idee kan kry van wat dalk met die pasiënt mag fout wees voordat daar eens ʼn fisiese ondersoek op die pasiënt gedoen word, sodat hulle weet waarop om te fokus tydens die ondersoek om sodoende ʼn beter diagnose te kan maak.

“Daarna het ons na die kongres gegaan, waar ons drie minute gekry het om ons idee aan te bied. Ek is gekies om die aanbieding namens die span te doen. Dit was ʼn groot geleentheid. Daarna is daar gestem oor watter prototipe die meeste voordeel vir die publiek inhou, gegrond op spesifieke innovasiekriteria. Toe kondig hulle aan dat ons gewen het! Ons het dit glad nie verwag nie!" 

Volgens Harris sal hulle die 20 000 Noorweegse krone (ongeveer R45 000) wat sy span gewen het, terugploeg in die besigheidsidee om die produk verder te ontwikkel.



ʼn Oorstelpte Harris het gesê: “As jy vyfjaar gelede vir my gesê het dat ek ʼn geleentheid sou hê om die wêreld te verander, sou ek gesê het jy lieg. Maar nou het ek hierdie geleentheid! Dit is onwerklik om iets te skep wat nog nooit bestaan het nie. Dit is ook motiverend aangesien dit mens wys waartoe jy in staat is en watse impak jy kan maak as jy jouself omring met individue wat dieselfde as jy dink."

Harris het gesê dat seder hulle oorwinning, die span saam met Dokters Sonder Grense asook ander gesondheidspraktisyns begin saamwerk het om vertalings vir ander tale te verkry.

“Ons het goeie terugvoering gekry. Ons het onlangs van ʼn Pakistanse dokter gehoor wat bereid is om Engelse/Urdu-vertalings vir ons te doen. Ons het ook ʼn Instagram-blad geskep in Noorweë en het ook goeie terugvoer daarvoor ontvang. Mense reik uit na ons en toon aan dat hulle saam met ons wil werk. Dit motiveer ons om vorentoe te gaan."

Onderskrifte: Keaton Harris tydens die YSI-kongres in Noorweë.