Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 26 September 2018)
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 28/09/2018

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het op Woensdag 26 September 2018 vir hulle derde geskeduleerde vergadering van die jaar byeengekom.

Die Raad het die Universiteit se halfjaarlikse finansiële verslag goedgekeur en kennis geneem van die voorgestelde aanpassings in vergoeding en studentegeld vir 2019. Ons het ook terugvoering ontvang oor vordering met die Fakulteitsvernuwingsplan en die hersiening van die Statuut.

Daarbenewens het ons 'n nuwe Onderrig- en Leerbeleid vir die Universiteit goedgekeur. Die beleid beoog om 'n instaatstellende omgewing te skep wat personeellede en studente se potensiaal uitbou, doeltreffende onderrig en leer aanmoedig, en gepaste voorsiening maak vir die ondersteuning van die US se diverse studentekorps en die professionele ontwikkeling van akademici vir hulle onderrigrol. Die Universiteit is reeds 'n internasionaal erkende hoëronderwysinstelling wat die afgelope drie jaar op die ranglyste van vyf internasionale hoëronderwysgraderingsagentskappe verskyn het. Hierdie nuwe beleid sal ons statuur net verder versterk.

Die Raad is ingenome daarmee dat die Universiteit goed vaar, soos wat blyk uit die verslae wat ons van die Rektor en Visekanselier (klik hier), die Viserektor: Strategie en Intern​asionalisering sowel as die Bedryfshoof ontvang het.

Lees gerus verder vir meer besonderhede.

Vriendelike groete

George Steyn
Voorsitter: US Raad

Halfjaarlikse finansiële verslag

Die Raad het die US se halfjaarlikse finansiële verslag vir indiening by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) goedgekeur. Dit handel oor die Universiteit se finansiële prestasie vir die tydperk 1 Januarie tot 30 Junie 2018.

Die verslag toon dat die begroting vir 2018 suksesvol oor dié tyd bestuur is. Die instelling is finansieel gesond en het sy beskikbare bronne en netto batewaarde verhoog. Privaat skenkings vir die tydperk het alle verwagtinge oortref en beleggings het betreklik goed gevaar, gedagtig aan die oorwegend swak markomstandighede.

Nietemin moet sekere risiko's in aanmerking geneem word, soos die onbekende uitwerking van die verwagte wysiging in die staatsubsidieformule op die Universiteit se eerste geldstroom, die impak van wêreldwye en plaaslike ekonomiese vooruitsigte, sowel as druk op studentefinansiering.

Die Raad het kennis geneem van die Universiteit se voortgesette verbintenis tot goeie finansiële beplanning en bestuur gemik daarop om die instelling op lang termyn finansieel volhoubaar te maak.

Voorgestelde vergoedingsaanpassings

Die Raad het 'n verslag van sy Vergoedingskomitee oor vergoedingsaanpassings vir 2019 ontvang.

  • Die verslag beveel 'n algemene, inflasiegekoppelde aanpassing van 6,3% aan vir alle personeellede wat in die 2018-beoordelingsiklus'n prestasiepunt van 3 of hoër behaal het.

Die komitee het ook verslag gedoen oor basiese vergoedingsvlakke (BVV's) by die US:

  • Die voorgestelde BVV's vir 2019 – buiten dié vir posvlak 19 en 18 – is aanvaar.
  • So ook 'n nuwe model vir gedifferensieerde vergoedingsaanpassings. Dit impliseer dat die vorige twee in plaas van drie jaar se prestasiepunte oorweeg sal word om te bepaal of 'n werknemer daarvoor in aanmerking kom om tot 100% van die betrokke BVV te vorder.
  • Boonop word daar voorgestel dat die vergoeding van alle werknemers wat tans onder 90% van hulle BVV vergoed word, tot 90% verhoog word, onderhewig aan prestasie, en dat 90% as die nuwe minimum aanstellingsvlak vir alle finansieringstrome in werking gestel word.

Finale besluite in hierdie verband is onderworpe aan goedkeuring van die US se begroting vir 2019 by die laaste Raadsvergadering van die jaar op 26 November, sowel as die finale subsidietoekenning van die staat.

Voorgestelde studentegeldaanpassings

In pas met die Raad se versoek in 2017 vir 'n aanduiding van beplande aanpassings in studentegeld voordat finale begrotingsvoorstelle ingedien word, is uitgangspunte in dié verband Woensdag ter tafel gelê. Geen finale besluite is nog geneem nie, want die begroting vir 2019 word eers op 26 November by die Raad ingedien.

Hoewel die US dit op prys stel dat die regering aansienlik meer finansiering vir hoër onderwys beskikbaar gestel het, word nie al die Universiteit se kostes gedek nie. Inflasiegekoppelde verhogings in studentegeld is noodsaaklik om die instelling se finansiële volhoubaarheid op lang termyn, akademiese kwalifikasies en navorsingsuitsette van wêreldgehalte sowel as 'n beduidende positiewe impak op die samelewing te verseker.

Met die hoëronderwysprysindeks (HOPI) as riglyn stel die US ʼn verhoging van 7% in klasgeld vir 2019 voor. Die voorgestelde styging sal deur die bank sonder enige differensiasie geld. ʼn Soortgelyke benadering sal vir huisvestingsfooie gevolg word, maar aangesien die begroting reële koste moet weerspieël, mag dit nodig wees om vir 'n groter styging in huisvestingsfooie te motiveer.

Die Raad het die versekering ontvang dat die US steeds daartoe verbind is om akademies verdienstelike studente in finansiële nood te ondersteun, en dat die Universiteit se beurse in pas met stygings in studentegeld verhoog sal word.

Hierdie uitgangspunte is by 'n gesamentlike vergadering aan fakulteite en studenteverteenwoordigers oorgedra, sowel as aan die Studenteraad (SR). Gereelde kommunikasie met verskillende belanghebbendes sal voortduur in die aanloop tot die finale begrotingsvoorlegging aan die Raad by sy laaste vergadering van die jaar.

Fakulteitsvernuwingsplan

Die Raad het terugvoering ontvang oor die Fakulteitsvernuwingsplan, wat beoog om die fakulteite Opvoedkunde sowel as Lettere en Sosiale Wetenskappe meer sistemies volhoubaar te help maak.

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, staan aan die stuur van die proses. Sy het die Raad verseker dat die Universiteit groot agting het vir albei fakulteite, nie net vir die groot kundigheid wat hulle bevat nie, maar ook omdat hulle van die hoogste navorsingsuitsette aan die US lewer.

Maandelikse beheerkomiteevergaderings vind die afgelope ruk in die twee fakulteite plaas, waar taakgroepe aan aspekte soos akademiese programvernuwing, studenteinskrywings en -graduering, navorsingsuitsette, akademiese en personeelsake sowel as finansies werk. Verskeie aanbevelings is reeds met goeie gevolge in werking gestel.

Finale voorstelle sal by die volgende Raadsvergadering op 26 November ter tafel gelê word.

Nuwe Onderrig- en Leerbeleid

Die Raad het 'n nuwe Onderrig- en Leerbeleid vir die Universiteit goedgekeur, met inbegrip van wysigings wat sy Uitvoerende Komitee, Sosiale en Besigheidsetiekkomitee en die Institusionele Forum voorgestel het. Ook die Senaat het aanbeveel dat die beleid goedgekeur word.

Die beleid beoog om 'n instaatstellende institusionele omgewing te bevorder waar onderrig en leer van gehalte kan floreer. Dit berus op die begrip dat onderrig en leer 'n gemeenskaplike onderneming is met onderlinge verantwoordelikhede tussen studente, akademiese personeellede, steundienste en bestuursliggame.

Die beleid berus voorts op die beginsel dat onderrig en leer van gehalte deur akademieskap gerig behoort te word, en maak voorsiening vir die professionalisering en voortgesette ontwikkeling van akademici in hulle onderrigrol deur verskeie leergeleenthede. Dit bevestig ook dat die US groot waarde heg aan die erkenning en beloning van vakkundige onderrig.

Die nuwe beleid verbind die Universiteit tot die skep van instaatstellende fisiese en virtuele leeromgewings wat onderrig van gehalte en doeltreffende leer op sowel voor- as nagraadse vlak ondersteun en aanmoedig.

Dit maak voorsiening vir die voortgesette vernuwing van akademiese programme om tred te hou met die veranderende arbeidswêreld, die groter maatskaplike konteks sowel as die US se graduandi-kenmerke. Dít sal graduandi se bydrae tot die samelewing – plaaslik én internasionaal – en hulle potensiaal as beroepslui versterk.

Die eienaar van die beleid is die Viserektor: Leer en Onderrig, en die kurator die Senior Direkteur: Leer- en Onderrigverryking. Die Senaat sal die toepassing van die beleid moniteer. Die dokument sal so gou moontlik op die US-webtuiste geplaas word om personeellede en studente innoverende leeromgewings te help skep.

Die US op wêrelduniversiteitsranglyste

Die Raad het dit verwelkom dat die US op die jongste weergawe van die Times Higher Education- (THE-)wêrelduniversiteitsranglys sy plek onder die voorste universiteite ter wêreld verstewig het. Prof Hester Klopper het aangekondig dat die US gestyg het tot die kategorie 301-350 op die ranglys van 2019, wat toevallig in Londen vrygestel is terwyl die Raadsvergadering aan die gang was. Dit is 'n verbetering op verlede jaar en plaas die US nou onder die beste 1% van alle universiteite wêreldwyd. Altesaam 1 258 instellings van oor die hele wêreld verskyn op die THE-ranglys vir 2019. Hulle is op grond van onderrig, navorsing, sitate, internasionalisering en bedryfsinkomste beoordeel.

Die Rektoraat het op 19 September 'n verslag oor ranglyste aanvaar. Die US verskyn sedert 2015 op die ranglyste van vyf internasionale hoëronderwysgraderingsagentskappe: THE, die Sjanghai-wêreld-akademiese ranglys van universiteite, die QS-wêrelduniversiteitsranglys, die QS BRICS-universiteitsranglys en die CWTS Leiden-ranglys.

Ondanks hulle tekortkominge en beperkings, dien ranglyste steeds as 'n belangrike prestasieaanwyser. Daarbenewens bring dit studente en akademici van oor die hele wêreld na die US en word doeltreffende samewerking met ander universiteite, instellings en organisasies bevorder. Die US handhaaf 'n genuanseerde benadering tot universiteitsranglyste in die algemeen – in die lig van die huidige realiteite van die instelling, ons land en ons vasteland, sowel as die metodologie van die verskillende ranglyste, waaroor daar goed gedokumenteerde meningsverskille bestaan. Nietemin sal die Universiteit voortgaan om alles moontlik te doen om uitgesoekte graderingsagentskappe van akkurate inligting te voorsien.

Inskrywings vir 2018

Volgens die jaarlikse Junie-sensus staan die US se totale studentetal nou op 31 765, van wie 'n derde nagraadse inskrywings is. Inskrywings deur bruin, swart, Indiër- en Asiërstudente het nou tot 13 182, of 41,5% van die totaal, gestyg. Vergeleke met 2017 het die getal bruin studente met 0,7% toegeneem, swart Afrikaanstudente met 5,9%, en Indiër-/Asiërstudente met 10,2%.

Hersiening van US se Statuut

Die Raad het 'n vorderingsverslag ontvang oor die hersiening van die Statuut van die Universiteit, wat in Augustus 2017 'n aanvang geneem het. 'n Taakgroep onder leiding van die Registrateur, dr Ronel Retief, werk aan 'n nuwe dokument in samewerking met deskundiges en op grond van bydraes wat deur middel van oorlegpleging met belanghebbendes sowel as openbare deelname ontvang is. Benewens 12 werksessies tot dusver, is kommentaar ook van Universiteitstrukture soos fakulteitsrade, die Senaat, die SR, die IF sowel as die Raad en sy leeskomitee ingewin. 'n Finale konsep sal in November deur die tersaaklike US-strukture by die Raad ingedien word, waarna die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding dit vir goedkeuring sal ontvang.

Verslag oor Strategie en Internasionalisering

Die Raad het 'n jaarverslag (klik hier​) van die Viserektor: Strategie en Internasionalisering, prof Hester Klopper, ontvang, wat oor die afdelings Strategiese Inisiatiewe, US Internasionaal en Inligtingsoorsigbestuur handel. Hoogtepunte sluit die volgende in:

Strategiese Inisiatiewe (SI)

  • Die Afdeling SI het die meeste van die US se Eeufeesgeleenthede wat vir 2018 beplan is, suksesvol uitgevoer.
  • SI het die twee jaar lange proses gekoördineer vir die ontwikkeling van die Universiteit se nuwe visie en strategiese raamwerk, wat die Raad in Junie goedgekeur het.
  • Die Afdeling het in samewerking met die Vervoerdepartement 'n geïntegreerde vervoerplan vir die Universiteit opgestel.

Internasionalisering

  • 'n Institusionele Advieskomitee oor Internasionalisering is die afgelope jaar by die US op die been gebring met verteenwoordigers van alle fakulteite en tersaaklike steunomgewings.
  • US Internasionaal vier vanjaar 25 jaar van internasionale betrekkinge.
  • Die Afrikasentrum vir Akademieskap het vyf doktorale en akademieskapontwikkelingskole gefasiliteer.
  • Die Global Education Centre het die eerste kohort derdejaarstudente in die program BCom (Internasionale Besigheid) voorberei vir hulle verpligte internasionale semester by vennootinstellings, wat in Augustus 2018 'n aanvang geneem het.
  • As 'n aktiewe deelnemer aan die Alliansie van Afrikanavorsingsuniversiteite (ARUA), is die US as gasheer vir die ARUA Sentrum van Uitnemendheid in Energie aangewys. Die sekretariaat sal in die Sentrum vir Samewerking in Afrika geleë wees.

Inligtingsoorsigbestuur

  • 'n Tegnologie- en Inligtingskomitee is ingestel om institusionele koördinering van hierdie belangrike gebiede by die Universiteit te fasiliteer.
  • Die SUN-i bedryfsintelligensiestelsel word tans uitgebrei om holistiese bestuursinligting ter ondersteuning van besluitneming op hoofsaaklik middel- tot senior bestuursvlak te voorsien.
  • Die US is deel van 'n taakgroep van Universiteite Suid-Afrika (USAf) wat daarvoor verantwoordelik is om 'n gedragskode in verband met die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) vir alle Suid-Afrikaanse universiteite op te stel.

Verslag van die Bedryfshoof

Die Raad het 'n jaarverslag (klik hier​) van die Bedryfshoof, prof Stan du Plessis, ontvang. Hy bestuur die verantwoordelikheidsentrum Bedryf en Finansies, wat uit die afdelings Finansies, Fasiliteitsbestuur, Informasietegnologie (IT), Innovus en Maties Sport bestaan. Hoogtepunte sluit die volgende in:

Finansies

Die Afdeling Finansies bestuur die US se begroting van R6 miljard en vyf geldstrome met welslae. 'n Eksterne beoordelaarspaneel het die Afdeling vroeër vanjaar lof toegeswaai vir die Universiteit se gesonde finansiële posisie ondanks erge druk op die finansiële lewensvatbaarheid van openbare universiteite in Suid-Afrika.

Lewensvatbare kontraktering

Die US se model vir lewensvatbare kontraktering handhaaf 'n gesonde balans tussen die voorsiening van menswaardige werk enersyds en finansiële volhoubaarheid andersyds. Sewe kontrakte is in 2017 suksesvol aan eksterne maatskappye toegeken – onderworpe aan die US se gedragskode – en drie tot dusver vanjaar. In sommige gevalle het die streng tenderproses interne diensteafdelings as voorkeuropsie geïdentifiseer.

Fasiliteitsbestuur

Die Afdeling Fasiliteitsbestuur bestuur die geboue, infrastruktuur, sportvelde en verbandhoudende dienste op alle US-kampusse. Die Afdeling het 215 werknemers en bestuur 477 geboue met 775 000 m2 bruikbare ruimte deur 'n bedryfsmodel van interne en gekontrakteerde diensverskaffing. Die portefeulje sluit in koshuise, kantoorgeboue, kommersiële ruimtes, klaskamerfasiliteite, laboratoriums, navorsingsgeriewe, en ontspannings- en sportlokale.

Kampussekuriteit

Ofskoon sekuriteit op alle US-kampusse 'n risiko bly, was aangemelde misdaadvoorvalle in die tweede kwartaal van 2018 die laagste tot nog toe. Kampussekuriteit het die leiding geneem met sigbare sekuriteit, verbetering in infrastruktuur, vennootskappe en bewusmaking.

Innovus

Innovus is verantwoordelik vir die US se intellektuele-eiendom- en handelsmerkportefeulje, en ondersteun US-navorsers, -personeellede en -studente om hulle kundigheid en navorsing te kommersialiseer om voordele vir die Universiteit sowel as die samelewing te skep. Die inkomste uit intellektuele-eiendomstransaksies in 2017 was R7,2 miljoen, terwyl die getal US-afwentelmaatskappye tot 24 en hulle totale werkerskorps tot 267 aangegroei het.

IT

Die Afdeling IT is hard aan die werk om die US 'n slim, tegnologiegesteunde instelling te maak. Vir dié doel implementeer hulle 'n diensskakelingsmodel om werkvloeisigbaarheid en -bestuur te verbeter.

Maties Sport

Vir die US het sport strategiese waarde. Een van die vele onlangse prestasies van Maties Sport was Maties Rugby se Varsitybekersege in die US se Eeufeesjaar. Ook prysenswaardig is die feit dat Maties Sport se hoëprestasiestudenteatlete in 2017 'n eerstejaardeursetsyfer van 84% behaal het, wat met die US-gemiddeld strook.

Raadslede

Die Raad het prof Johan Fourie vir die tydperk 1 September 2018 tot 31 Augustus 2020 verwelkom nadat permanente akademiese personeellede hom opnuut in die kategorie vir nie-Senaatslede verkies het. Prof Fourie is ook by die vergadering verkies tot lid van die Universiteit se Beleggingskomitee, wat as 'n subkomitee van die Raad dien.

Boonop het die Raad me Gwen Ngwenya as 'n nuwe lid verwelkom. SSR3.jpgSy is vir die tydperk 1 Augustus 2018 tot 31 Julie 2022 deur die Wes-Kaapse premier as plaasvervanger vir mnr Andricus van der Westhuizen aangestel. Me Ngwenya het 'n MSc in Finansies aan die Universiteit van Londen en 'n magistergraad in Internasionale Ekonomie aan die Universiteit van Parys verwerf. Sy dien as 'n lid van die Parlement en is 'n voormalige SR-voorsitter van die Universiteit van Kaapstad.

Laastens het die Raad ook die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, gelukgewens met sy 59ste verjaardag, wat saamgeval het met Woensdag se vergadering. Hy en die Registrateur, Dr Ronel Retief, is ook gelukgewens met hul deelname aan die Kaapstadse Marathon in die stryd teen studentehonger as deel van die US se #Move4Food-veldtog.

Volgende vergadering

Die volgende Raadsvergadering vind plaas op Maandag 26 November 2018, wat die laaste vir die jaar sal wees.

FOTO'S, HENNIE RUDMAN:

HEEL BO: US Raadslede by die vergadering op 26 September 2018, van links (agter), mnre Wayde Davidse en Charl Cillié, proff Eugene Cloete en Johan Fourie, mnre Lwando Nkamisa en Jannie Durand, prof Nico Koopman, die ondervoorsitter mnr Ainsley Moos, proff André Coetzee, Aslam Fataar en Usuf Chikte, en adv Jean Meiring; (voor) proff Joan Hambidge, Arnold Schoonwinkel, Stan du Plessis en Wim de Villiers, die voorsitter mnr George Steyn, me Khungeka Njobe, prof Amanda Gouws en me Gwen Ngwenya.

BO: Nuwe US Raadslid me Gwen Ngwenya.