Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kenners vra: Is wêrelddemokrasie in gevaar?
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 27/09/2018

Is wêrelddemokrasie in gevaar? In die nuwe boek Democracy under Threat: A Crisis of Legitimacy?worstel 'n aantal toonaangewende navorsers uit verskillende wêrelddele, insluitend Suid-Afrika, met dié vraag. Môre

Prof Ursula van Beek, die stigter en direkteur van die Eenheid vir Transformasienavorsing (beter bekend in Engels as die Transformation Research Unit, TRU) in die Departement Politieke Wetenskap van die Universiteit Stellenbosch, is die samesteller en ook 'n medeskrywer van die boek. TRU spits hom toe op die studie van die Suid-Afrikaanse demokrasie vergeleke met ander demokrasieë in die Suider-Afrikaanse streek en die res van die wêreld uit 'n politieke, ekonomiese en maatskaplike oogpunt. Die volume is die jongste in 'n reeks van vier boeke oor demokrasie wat TRU die lig laat sien het. 

“Ons het die afgelope twee jaar aan hierdie boek gewerk," sê Van Beek, “en ons navorsing toon dat demokrasie deur 'n aantal faktore bedreig word, waaronder globalisasie. Demokratiese nasiestate is nie meer ten volle in beheer van hulle eie ekonomieë nie omdat hulle onlosmaaklik verbind is aan – en afhanklik is van – die wêreldwye ekonomiese stelsel. Daarbenewens stel globalisasie burgers in individuele lande aan groter ekonomiese en maatskaplike risiko's bloot. In die arbeidsmark impliseer dít dat maatskaplike beskermingstelsels in inhoud én omvang krimp. 

“Terselfdertyd vereis internasionale tegnologiese vooruitgang hoogs geskoolde individue. Hulle is meer mobiel en oor die algemeen ook finansieel beter daaraan toe as hulle minder geskoolde medeburgers, wat minder werksgeleenthede het en wie se verdienste nie juis veel groei toon nie. Hierdie ongelykheid veroorsaak wrewel, wat tot populisme kan lei. 

“Die toename in populisme is boonop 'n reaksie op die toenemende instroming van migrante en vlugtelinge as gevolg van die oop grense van demokratiese nasiestate. Die populistiese neigings het selfs na die mees gevestigde demokrasieë oorgespoel – die verkiesing van Donald Trump as Amerikaanse president is 'n goeie voorbeeld van mense wat gemarginaliseer voel en dus nie huiwer om 'n populistiese kandidaat te ondersteun wat hulle 'n beter lewe beloof nie."

Nietemin is dit belangrik om te verstaan dat populiste nie anti-demokrate is nie, sê Van Beek. Populistiese politieke partye in die meeste demokrasieë funksioneer steeds binne die struktuur van 'n demokratiese bestel. 

“Die skade wat populiste aanrig, is dat hulle die liberale waardes van demokrasie verwater met hulle retoriek en pogings om liberale instellings te ondergrawe om hulle eie planne te bevorder."

Die krake in die fondasie van demokrasie is al sedert 2008 sigbaar toe lande oraloor getref is deur die finansiële krisis wat met die ineenstorting van die beleggingsbank Lehman Brothers in die Verenigde State begin het. 

“Tot in daardie stadium was demokrasie dié simbool van menslike welstand. Die finansiële krisis het mense wêreldwyd se verwagtinge verydel dat demokrasie 'n beter lewensgehalte vir almal sou bring, veral vir diegene in die globale Suide." 

Soos die skrywers van die boek opmerk: “Die ekonomiese nagevolge van die finansiële krisis, soos hardnekkig hoë werkloosheidsyfers tesame met stagnasie en selfs resessie, besuinigingsmaatreëls, swakker inkomsteverdeling en toenemende armoede, om slegs 'n paar te noem, is maar alte bekend. Naas die wêreldwye ekonomiese verlangsaming, het sekere politieke ontwikkelings nie net die oë laat rek nie, maar bowenal ook vrees oor die welstand van gekonsolideerde demokrasieë laat posvat."

Soos die vorige volumes in die reeks oor demokrasie, konsentreer die jongste boek op vyf jonger demokrasieë (Suid-Afrika, Suid-Korea, Chili, Pole en Turkye) en die gevestigde demokrasieë van Duitsland en Swede.      

Die skrywers het hierdie lande oor nagenoeg 20 jaar bestudeer, en bevind dat drie van die vyf jonger demokrasieë glad nie goed vaar nie. Turkye het 'n gesagstaat geword, Pole het 'n populistiese leier, en Suid-Afrika “trek swaar in die nadraai van voormalige president Jacob Zuma se verwoestende bewind".

“Demokrasie in dié drie lande het 'n terugslag beleef. Daarmee saam het Suid-Afrika tussen 1995 en 2013 ook 'n toename in radikalisme ervaar: Steun vir demokratiese regering is aan die afneem, terwyl steun vir nie-demokratiese regering groei."

Van Beek sê die boek bespreek ook die impak van “die wêreldwye skermkultuur van televisie en die internet", en hoe sosiale media demokratiese stemme beïnvloed. 

“Een van die lesse uit hierdie studie," voeg Van Beek by, “is dat demokrasie iets kan leer by diplomasie, waar hóé jy kommunikeer deurslaggewend is. In plaas daarvan om op mekaar te gil, moet ons oor hierdie reuseverdelings heen met mekaar begin kommunikeer."

​Ofskoon die boek kommer uitspreek oor die huidige bedreigings vir demokrasie in lande oor die hele wêreld, sê Van Beek dit is steeds “meer optimisties as ander boeke oor demokrasie wat die afgelope tyd verskyn het". 

“Sommige data en ander studies dui daarop dat die jeug in die Verenigde State en Wes-Europa vere voel vir demokrasie; dat hulle onbetrokke is. Ons data toon weer die jeug is nog ten gunste van én stel belang in demokrasie. En hoewel ons data toon dat die situasie ernstig is, is dit nie geheel en al hopeloos nie."

Foto: Lynne Rippenaar-Moses