Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente, personeel en alumni steun #Move4Food-veldtog
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 25/09/2018

Hulle het fietsgery, aan 'n 24-uur spin-a-thon deelgeneem, gestap en gehardloop... Studente, personeel en alumni van die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs hul volle steun aan die student-geïnspireerde #Move4Food-veldtog toegesê - en tot op hede sowat een miljoen rand in kontant en donasies ingesamel.

Hierdie inisiatief mik hoog met 'n insamelingsteiken van R10 miljoen in 100 dae (kontant en goedere) om te sorg dat geen US-student vir die volgende drie jaar op 'n leë maag hoef te studeer nie.

"Die reaksie is fenomenaal," sê Karen Bruns, Senior Direkteur van Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge aan die US. "Ons is so dankbaar vir almal wat besluit het om te #Move4Food en ons moedig ander aan om die uitdaging te aanvaar en ons studente te help om hul doelwit van R10 miljoen te bereik."

Prof Wim de Villiers, US Rektor en Visekanselier, het self ook sy steun vir hierdie veldtog getoon deur die afgelope naweek die volle Sanlam Kaapstadse marathon van 42,2 km binne 'n tyd van 4:16:16 te hardloop. Prof De Villiers, wat tot dusver R128 000 ingesamel het, is een van 110 personeellede, alumni, studente en vriende van die US wat as deel van die #Move4Food-veldtog aan verskillende wedlope onder die vaandel van die Sanlam Kaapstad-marathon deelgeneem het.

"Ons is trots om gelei te word deur 'n persoon wat 42,2km en meer aandurf om geld vir honger studente in te samel," sê Bruns.

Terwyl sommige die marathon aangepak het, het ander hul steun op verskillende maniere gewys sedert die bekendstelling van hierdie veldtog op 20 Augustus. Alumnus, Folkers Tullki-Williams, wat deesdae in Helsinki woon, het die 375km oor Estland gestap om R10 000 vir #Move4Food in te samel. Hy is toe ook die eerste Suid-Afrikaner om hierdie staptog te voltooi.

Personeellid Desmond Thompson het aan die Coast2Karoo Cycle Race deelgeneem en dit in 5:23 voltooi.  Na afloop van die fietswedren het Thompson gesê hy is dankbaar dat hy nie geval of 'n pap wiel gekry het nie.

Verlede week het studente 'n 24-uur spin-a-thon op 12 stilstaande fietse in die Neelsie Studentesentrum aangebied. Hulle het die hele dag en nag meer as 8 000 kilometer met behulp van musiek, energie en passie afgelê. Hierdie geleentheid het aandag gevestig op die reuse-kosblik wat die studentevereniging, Engineers Without Borders Maties, gebou het.

Altesaam 15 095 nie-bederfbare kos items is oor die 24 uur in die kosblik geplaas wat die teiken van 15 000 oorskry het. 'n Groot bydrae van 10 800 maaltye van die PPS-stigting, tesame met 'n  beduidende bydrae van produkte deur die Spar in die Neelsie, het gesorg vir 'n groot hupstoot.

Volgens Cheryl Benadie, Skenker-betrekkinge bestuurder aan die US, skep die #Move4Food-beweging 'n eenheid onder studente. "Soos wat hierdie veldtog ontwikkel, is dit inspirerend om te sien hoe Maties 'n beter begrip kry van die stille stryd wat mede-studente ervaar - en hul toewyding en passie om iets daaraan te doen, is aansteeklik."

Benadie sê die kosprodukte sal deur die maatskaplike werkers op ons Stellenbosch- en Tygerbergkampusse versprei word. "Dit is 'n welkome verligting aangesien beperkte NSFAS-fondse geneig is om aan die begin van die vierde kwartaal op te droog. 'n Tekort aan fondse lei dan tot swak eksamenprestasie en dra ook daartoe by dat studente dalk opskop."

Op 22 September, het die Maties Perdry-klub deur Stellenbosch gery, pamflette uitgedeel en bewustheid oor #Move4Food geskep. Hulle gaan ook groente verbou deur hul energie en onuitputlike toevoer van kunsmis gebruik om hul bydrae vir hierdie verdienstelike saak te maak.

'n Koshuis Rugby Derby en koshuis LevelUp Dance4Food-video-uitdagings was verdere aktiwiteite as deel van die #Move4Food-veldtog.

"Ons studente het maande spandeer om hierdie veldtog 'n realiteit te maak en ek is trots daarop dat die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge hulle daarin kon ondersteun," sê Bruns.

"Die fondsinsamelingsuitdaging is nou daar, ons eerste miljoen rand in kontant en in donasies is ingesamel. Ons wil graag nege miljoen meer insamel!"

Bruns sê alumni in Asië, Europa, die Verenigde Koninkryk en Amerika is ook reeds uitgedaag om hul deel te doen. "Ons het steeds 'n baie ambisieuse teiken om te bereik, so ondersteun ons asseblief! Of jy nou hardloop, spin, dans, die branders aandurf of jou middagete geld skenk, jy kan nog steeds #Move4Food."

Die # Move4Food-veldtog eindig op Internasionale Skenkingsdag op 27 November 2018.