Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PPS-stigting skenk 10 800 kospakkies vir #Move4Food
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 21/09/2018

Die PPS-stigting, een van die Universiteit Stellenbosch (US) se gereelde skenkers, het by die US se eerste 24-uur Kampus Skenkingsdag aangesluit om 50 bokse nie-bederfbare voedselitems te skenk. Hierdie 50 bokse bevat elk 36 kospakkies en elke kospakkie kan tot 6 volwassenes voed.

Skenkingsdag maak deel uit van die student-geïnspireerde #Move4Food-veldtog wat onlangs geloods is. Die veldtog is daarop gemik om voedselbanke op ons Stellenbosch- en Tygerberg-kampusse te skep. Die projek mik hoog met 'n insamelingsteiken van R10 miljoen in 100 dae (kontant en goedere) om te sorg dat geen US-student vir die volgende drie jaar 'n leë maag hoef te ervaar nie.

Vuyo Kobokoane, uitvoerende hoof van die PPS-stigting, sê die organisasie is bewus van voedselskaarste wat deur tersiêre studente ervaar word en deur vennootskappe met verskeie universiteite is hulle blootgestel aan 'n magdom kwessies wat studente ondervind. As gevolg hiervan kon die Stigting fokus op voedselonsekerheid, bo en behalwe hul ander intervensies.

Die PPS-stigting het met Rise Against Hunger Africa (RAHA) saamgewerk om by te dra tot die vermindering van voedselonsekerheid wat studente by verskeie akademiese instellings ervaar. Tydens 'n geleentheid by hul hoofkantoor in Parktown, Johannesburg, het PPS-werknemers 25 000 kospakke verpak as deel van hul Werknemersvrywilligheidsprogram. 


 

Wil jy help om te #Move4Food?

 

Skenkingsdag het op Donderdag 20 September om 13:00 afgeskop en kom tot 'n einde op Vrydag 21 September om 13:00 op ons Stellenbosch-kampus. Aktiwiteite sluit in 'n 24-uur-spin-a-thon in die Neelsie Studentesentrum en 'n Koshuis Rugby Derby op Vrydag. Sommige koshuise is ook gedurende hierdie week by 'n teleton betrokke om hul koshuis se alumni te vra om hierdie veldtog te ondersteun. Dan het die US ook kragte saamgesnoer met die Sanlam Kaapstad-marathon, wat op 22 en 23 September plaasvind, om personeellede, studente, alumni en vriende van die Universiteit aan te spoor om te #Move4Food.

Prof Wim de Villiers, US Rektor en Visekanselier, wat vroeër vanjaar die Kaapstad-fietstoer voltooi het om geld vir studiebeurse in te samel, gaan die naweek weer vir 'n verdienstelike saak sweet – wanneer hy die volle marathon (42,2km) aandurf om voedseltekorte onder studente op ons kampusse te bekamp.