Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Onderwysnavorsing in die kollig by konferensie
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 12/09/2018

Drie internasionale gaste en ongeveer 120 deelnemers, onder andere onderwysnavorsers, beleidmakers en PhD-studente, het op 6 en 7 September die vierde jaarlikse konferensie oor Kwantitatiewe Onderwysnavorsing in Stellenbosch bygewoon.

Die konferensie is georganiseer deur ReSEP, 'n navorsingsgroep wat fokus op sosio-ekonomiese beleid en gesetel is in die Departement Ekonomie by die Universiteit Stellenbosch (US). Die konferensie se oogmerk is om onderwysbeleid deur 'n kwantitatiewe lens te beskou, om die uitdagings waardeur die onderwyssektor in Suid-Afrika in die gesig gestaar word, te oorweeg, en om deel te neem aan navorsing en debatte rondom hierdie kwessies met die doel om praktiese oplossings te identifiseer.

Sommige van die onderwerpe wat aangebied en bespreek is, was: “Leadership and Literacy: Exploring linkages in rural and township school in South Africa", “Can we meaningfully measure school leadership and management in South Africa" en “Quantitative research on early grade reading in African languages".

Die drie internasionale sprekers was prof. Paul Glewwe van die Universiteit van Minnesota, met die onderwerp “What explains Vietnam's exceptional performance in education relative to other countries?", dr. Abhijeet Singh van die Stockholm Skool vir Ekonomie, met die onderwerp “Evaluating reforms for system-level change in education: Evidence from multiple Indian states" en Justin Sandefur van die Sentrum vir Globale Ontwikkeling in Washington DC, met die onderwerp “Internationally comparable mathematics scores for fourteen African countries".

Op Vrydag was daar twee gelyklopende sessies waar PhD-studente hul PhD-voorleggings en voortgesette navorsing kon aanbied en terugvoering van deelnemers kon kry.

Prof Servaas van der Berg, hoofnavorser by ReSEP en die houer van die Navorsingstoel in die ekonomie van sosiale beleid by die US, het die konferensie geopen met 'n oorsig oor skooldeurvloeikoerse in Suidelike Afrika – met 'n fokus op Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Mosambiek, Swaziland en Lesotho.

Hy het verskeie ontnugterende patrone en tendense geïdentifiseer, insluitend die feit dat leerders in al ses lande op 'n laer vlak as die internasionale gemiddelde presteer in internasionale onderwysevaluerings. Prof. Van der Berg het verskeie kwessies uitgelig, onder meer hoë uitvalkoerse, herhalingsbeleide (veral herhaling sonder voldoende ondersteuning), afstand van hoofsentra af, verskuiwings na uitkomsgebaseerde kurrikulums en onderwyseraanbod en -opleiding.

“In Suid-Afrika het ons eintlik nogal goed gedoen om te verseker dat leerders in die skool bly en hoër grade slaag. Dit weerspieël egter nie die gehalte van onderrig nie," het hy gesê.

'n Belangrike beleidsarea wat baie aandag geniet het by die konferensie en ook by 'n paneelbespreking bespreek is, was die vasstelling van maatstawwe vir leesvaardighede in Afrika-tale. Die swak toestand van wiskunde-onderrig is ook uitgelig in 'n aanbieding oor 'n ingryping op Graad R-vlak wat onderwysers se kennis beduidend verbeter het, maar 'n baie klein impak op leerders se leerproses gehad het.

Foto: Prof. Paul Glewwe, dr. Abhijeet Singh en prof. Servaas van der Berg.

Fotograaf: Anton Jordaan, SSFD