Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Geroepe as ʼn rolmodel
Outeur: Le Roux Schoeman
Gepubliseer: 04/09/2018
 


 

Net langer as ʼn dekade gelede was prof Soraya Bardien op soek na ʼn uitdaging.

Haar kundigheid in menslike genetika het reeds gedien as ʼn tipe akademiese paspoort tot studies wat gewissel het van ʼn oogsiekte aan die Universiteit van Kaapstad tot oorgeërfde hartsiektes by die Universiteit Stellenbosch (US) en diabetes aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

Toe wou sy haar eie navorsingsgroep begin. Destyds was dit nie duidelik wat die breinsiekte veroorsaak wat ons as Parkinson se siekte (PS) ken nie en tot vandag toe is daar steeds nie akkurate syfers oor hoeveel Suid-Afrikaners ly aan wat Bardien ʼn “verskriklike siekte" noem nie.

Die ontdekking van ʼn genetiese komponent van die siekte het aan Bardien ʼn geleentheid gebied om haar talente te fokus: “Ons het besef ons moet die genetiese oorsake in die Suid-Afrikaanse populasie (van PS-pasiënte) identifiseer," verduidelik sy.

Bardien het kragte saamgesnoer met prof Jonathan Carr, Hoof van die Afdeling Neurologie aan die US en die Tygerberg-hospitaal. En so het die werk begin wat einde Augustus aan haar die prys as die tweede naaswenner in die kategorie Uitstaande Vrouewetenskaplike by die jaarlikse Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap-toekenningseremonie (Sawisa) in Polokwane besorg het.


 

Vandag is Bardien nie net die hoof van ʼn span wat die oorsake van PS met genetiese ontledings probeer vasstel nie, maar ook ʼn rolmodel in die Menslike Molekulêre Genetiese Laboratorium van die US se Tygerberg-kampus. “Ek moet vir jou wys jy kan baie in jou loopbaan bereik – selfs al is jy ʼn vrou in hierdie land," sê sy.

Van agter ʼn laboratoriumlessenaar laat hoor Amica Müller-Nedebock, wat mitochondriese DNS in Suid-Afrikaanse PS-pasiënte bestudeer, die volgende oor Bardien: “Ek het verlede jaar oor 'prof' gelees en haar werk het my regtig geïnteresseer. Dit het my geïnspireer om hier vir die PS-groep te kom werk."

Bardien het in Athlone op die Kaapse Vlakte grootgeword. Sy het van kindsbeen af geweet sy sou ʼn wetenskaplike word. Haar liefde vir die vakgebied het so toegeneem dat sy haar werk met ʼn stokperdjie vergelyk. Haar rol het vanselfsprekend verander sedert sy by die akademie betrokke geraak het, vertel sy. Laboratoriumtyd het afgeneem soos wat lessenaartyd en oorsigverantwoordelikhede toegeneem net: “Ons was oor die jare heen die gasheer vir vyf na-doktorale genote en vyf doktorale studente, en minstens 20 honneurs- en meestersgraadstudente het by ons gegradueer," vervolg sy.

Bardien se mediese missie is vanselfsprekend nie ʼn kitskuur nie. “Ons probeer al 20 000 gene van die genoom ondersoek om die een met ʼn defek te vind en dit is regtig soos om ʼn naald in ʼn hooimied te probeer vind."

Op ʼn besige onlangse werksdag het Bardien steeds die tyd probeer vind om ʼn geskikte plek te vind om haar Sawisa-sertifikaat op te hang. Dit kan moontlik ʼn plekkie vind naas ʼn treffende foto van haar wat 20 jaar gelede tydens ʼn gevaarlike staptog in die Heksrivierberge geneem is. “Ek hou altyd daarvan om na daardie foto te kyk en te dink hoeveel daarbuite so opwindend en angswekkend is, maar uiteindelik oorkom jy dit." 

Onderskrifte

Banierfoto: Prof Soraya Bardien in die laboratorium waar sy die hoof van die Navorsingsgroep oor Parkinson se siekte is.

Insetsel: Prof Bardien by ʼn masjien wat gebruik word om genetiese defekte te bespeur in DNS wat van pasiënte bekom word. 

Video en fotos: Le Roux Schoeman