Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maak die strewe na geluk jou loopbaan
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 03/09/2018

Matie alumna en sakevrou Adéle Smith het studente by 'n onlangse Loopbaankafee van die Afdeling Alumni-betrekkinge aangeraai om te strewe na geluk indien hulle  ’n sukses van hul loopbane (en dus hul lewens) wil maak. 

Met verwysing na Simon Sinek se woorde – “om hard te werk vir iets waarvoor ons nie omgee nie, word stres genoem; om hard te werk vir iets waarvoor ons lief is, noem jy passie" – het Smith die 320 studente by die geleentheid aangeraai om “heelhartig [hul] God-gegewe passies, gawes en talente te omhels wat [hul] bydrae op hierdie aarde uniek en waardevol maak".

“Vertrou jou intuïsie of aanvoeling wanneer jy voel jou passies ontvlam iets binne jou, die goed wat jou letterlik aangryp. Soos die hare op jou nek wat regop opstaan (op 'n goeie manier), of die knop in jou keel of hoendervleis, of jou hart wat aan die klop gaan. Die goed wat endorfiene, dopamien en serotonien deur jou are laat bruis, en jou onoorwinlik laat voel wanneer jy daarmee besig is," het Smith, wat in 1997 'n BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal het met Sielkunde en Duits as hoofvakke, gesê.

“My werkondervinding die afgelope 20 jaar het my geleer dat ons te min aandag gee aan ons intuïsie en aanvoeling wanneer dit kom by ons geluk of passies. Te veel van ons ignoreer of onderskat dit wat geluk betref want, ironies, dink ek, ons is bang vir wat dit mag beteken. Ons fokus op GOED. Die rekeninge, die huur, om in te pas, om nie in te pas nie, by die reëls hou, om ander nie in die steek te laat nie. Wat ook al die rede mag wees, kies ons om eerder ons eie geluk buite rekening te laat, om die bose kringloop voort te sit.

“Dit het my byna 20 jaar gevat om te besef dat dit oukei en nodig is om te herontdek, om my passies, gawes en talent te voed en te ontwikkel, sonder die skuldgevoel, twyfel en angs. En, raai wat, ek kan steeds die rekeninge betaal en by Woollies koop: ek is mal oor daardie “Eet vir Minder as R150 aanbiedinge!," sê sy grappenderwys.

Smith het 20 jaar se ondervinding opgebou in diverse bedrywe waar sy verskeie poste beklee het, soos Operasionele Bestuurder en Direkteur, MH Direkteur, Menslike Kapitaal Bestuurder, hoof van Menslike Hulpbronne en Hoof van Korporatiewe Maatskaplike Belegging (CSI) vir groot multinasionale en korporatiewe maatskappye soos Lufthansa Lugdiens, Dialogue Groep, Ackermans Groep, en mees onlangs, Foschini Groep. Sy het ook verskeie korporatiewe programme voltooi deur die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) en Duke University Corporate Education.

Na sy haar graad by die US gekry het, het sy by 'n wynproe-sentrum by Neethlingshof Wynlandgoed net buite Stellenbosch gewerk.

 


​“Pas afgestudeer, of miskien omdat ek op Stellenbosch gebore is, was wyn toe my passie (en is dit steeds, bygesê). Dat ek vlot Duits gepraat het, het waarskynlik gehelp dat ek daardie eerste pos gekry het. Wat kan beter wees as om puik wyne wat toekennings wen elke dag te proe en daarvoor betaal te word!?"

In 1999 het sy aangesluit by Lufthansa Lugdiens as ʼn oproepsentrum-besprekingsagent en het haar Duits-vaardigheid benut om die wêreld vol te reis. Binne ʼn oogwink was sy die hoof van Operasies in Kaapstad – een van sewe besprekingsentrums wat oproepe neem van oor die wêreld. Daarna was sy betrokke by die loodsing van drie nuwe Lufthansa-besprekingsentrums in Berlyn, Istanbul en Toronto.

Dit was geen verrassing nie dat haar natuurlike aanleg om met enigiemand te gesels vyf jaar later gesorg het dat sy ʼn Operasionele Direkteur by The Dialogue Group geword het waar sy meervoudige oproepsentrumspanne in Durban, Johannesburg en Kaapstad bestuur het. Die groep het meer as 2 000 werknemers gehad en die groeiende kontaksentrum- en besigheid-uitkontrakteringsbedryf van daardie tyd.

Sedertdien het sy daarin geslaag om haar passie vir tale, kommunikasie, besigheid en mense en hul ontwikkeling te omskep in ʼn handelsmerk wat haar gehelp het om die verskillende paaie wat sy moes reis oor die jare met selfvertroue te loop en die verskillende hoede wat sy moes dra met gemak te dra.

Smith, die ma van twee dogters, Zoë (9) en Mia (13), besit ook The Daily Coffee Café in Kuilsrivier saam met haar man (van die afgelope 17 jaar) en sakevennoot, Nate. ʼn Tweede Daily Café en ʼn splinternuwe restaurantkonsep is ook op die horison. Die Smith-egpaar is ook direkteurs van Accelerating the Business Case for Change, oftewel, ABC² Consulting, hul besigheidstrategie- en menslike hulpbron-agentskap wat in 2017 gestig is nadat albei die besluit geneem het om die korporatiewe wêreld vaarwel te roep en ʼn nuwe entrepreneuriese hoofstuk in hul lewens te begin.

Sy is ook ʼn Assosiaat by Legitimate Leadership, 'n Johannesburg-gebaseerde onderneming en leierskapsadviseur wat saamwerk met sakeleiers wêreldwyd deur werkwinkels en ʼn wye reeks intervensies te fasiliteer wat spanne en organisasiekultuur transformeer. Dit word gedoen ten einde die wyse te verbeter waarop organisasies mense lei en besigheid doen in vandag se ontwrigtende en dikwels onvoorspelbare sakewêreld.

“Ek is passievol oor leer, koffie, goeie kos, musiek en die kunste, en dit is die dinge wat ons in ons lewe en ondernemings inweef, of dit nou by The Daily Café of enige van ons sosiale verantwoordelikheidsprojekte is, soos For The Love of It en funksies van EWE (Everyday Women Empowered). Ons geniet dit om vreugdevolle spasies en verskillende platforms te skep wat aan gevestigde, nuwe, of opkomende kunstenaars en ons gemeenskappe ʼn stem en ʼn geleentheid bied om te leer of iets dikwels vir die eerste keer te doen."

Tydens haar praatjie het sy ook sommige van die hoogtepunte en laagtepunte van haar loopbaan en persoonlike lewe waarmee sy te make gekry het, gedeel.

Terwyl Smith kom uit wat as ʼn middelklasfamilie beskou sal word in haar eie gemeenskap, het sy van ʼn jong ouderdom geleer om die waarde van haar eie stem te ontdek en daarin te glo, veral in ʼn gemeenskap in die oorgang ná apartheid. Sy het 5 verskillende primêre en hoërskole bygewoon in ʼn tyd toe die meeste skole 'slegs blankes' was: “regtig moeilik wanneer jou eie mense en gemeenskap na jou kyk asof jy 'uitverkoop' het deur na 'wit' skole en private skole te gaan". Later het sy gekies om by US te studeer op haar tuisdorp, kort nadat dié instelling sy deure geopen het vir alle rasse.

“Ek het nog altyd ʼn sagte plek gehad vir Stellenbosch as my tuisdorp. Die universiteit in die vroeë 90's was hoegenaamd nog nie ʼn getransformeerde ruimte nie. Baie goeds het egter gevloei daaruit dat ek in daardie tyd daar was, want ons het geskiedenis gemaak. Ons was aan die begin van ʼn uwe era voor 1994 met interaksie met ander rasse as gelykes en somtyds selfs uitgaan oor die kleurlyn. Dit was soms baie vermaaklik!"

“Die kleurgrens was baie ooglopend by Universiteit Stellenbosch toe ek daar studeer het, met 'Kleurlinge' was saam in een ry saamgedrom het en wit studente in ʼn ander ry met baie oop rye tussen ons in die groot lesingsale of die Neelsie. Ek het nie veel swart Suid-Afrikaanse studente gesien nie, maar besoeke aan UWK en UK se kampusse het my oë oopgemaak vir die ongelykhede van daardie tyd."

Jare later in 'n veranderde gemeenskap vind sy dat baie maatskappye steeds sukkel en miljoene Rande spandeer om individue en diverse spanne professionele persone, oor alle dissiplines, meer betrokke te kry, beter en meer effektief te laat saamwerk, en idees te laat deel in die belang van besigheid.

“Ek moedig julle aan om julself dikwels in ander se skoene te plaas en 'n myl in daardie skoene te stap. Jy, soos hulle, kry elke dag die geleentheid om 'n verskil maak, waarde toe te voeg, by te dra en daaruit te leer.

“Jy sal mense uit alle vlakke van die lewe en van alle generasies raak loop; moenie vashaak en jou in jou eie onkunde koester deur slegs een beperkte perspektief te hê nie, wanneer jy die wêreld deur soveel verskillende lense kan sien."

In 2014, 'n week voor haar 40ste verjaarsdag, het Smith uitgevind dat Nate Hodgkin se Limfoom het. Danksy behandeling is Nate nou 3 jaar in remissie. 'n Paar jaar later, op 19 November om 8vm, het sy die verpletterende nuus ontvang dat haar broer, Dugald Cloete (ook 'n Matie en voormalige MFM omroeper), 'n massiewe aorta-aneurisme beleef het daardie oggend en gesterf het op die ouderdom van 38.

“Hy was en is my sielsgenoot en ek het soveel van hom geleer; hy het 'n oorvloedige lewe gelei en het die keuse gemaak om elke dag gelukkig te wees."

Dit is egter die wye reeks ongelooflike mentors binne die korporatiewe wêreld, sowel as haar eie progressiewe, dinamiese en uitgesproke gesin, haar ouers en oorlede broer, wat haar geïnspireer het in daardie selfsverpletterende oomblikke.

“My raad aan julle 21 jaar later, as ek terugkyk na 1997 toe ek gesit het waar julle nou sit is… om nie dit wat jou regtig gelukkig maak te ignoreer of onderspeel nie. Verken dit. Laat loop daarmee. Jy het net een lewe. Maak dit jou beste een!"

Die Loopbaankafee is in 2016 geloods deur die Alumni-betrekkinge Kantoor om ʼn platform te bied waar alumni met die universiteit kan skakel op ʼn ander wyse deur hul tyd en vaardighede te bied om huidige studente te help voorberei vir die loopbaan wat hulle verlang. Vanjaar het die BA Studentekomitee (BASK) met Alumni Betrekkinge saamgewerk as deel van hul eie missie om huidige studente bloot te stel aan gevestigde professionele persone sodat hulle beter kan voorberei vir hul toekomstige loopbaan.

“Dit was die derde Loopbaankafee sedert die Alumni-betrekkinge Kantoor dit vir die eerste keer gekonseptualiseer het en die Loopbaankafee in 2016 geloods het. Sedertdien het ons nie net groei gesien in bywoning deur studente nie, maar ook groeiende belangstelling van daardie studente om meer te leer oor die soort sagte vaardighede wat hulle eendag sal benodig in die werkplek, soos konflikbestuur, openbare redevoering en effektiewe kommunikasievaardighede. Sommige van die studente wat ons kafees bywoon het voorheen gewerk en het teruggekeer na die universiteit om hul studies voort te sit, maar selfs daardie studente praat van hoe uitdagend dit is om die eerste keer die korporatiewe wêreld te betree en te vind dat hulle te min inligting en sagte vaardighede het om hul pad in hul loopbane te vind," sê Shaun Stuart, Alumni Betrekkinge Bestuurder.

“Die belangrikste is dat ons ʼn pad oopgemaak het vir ons alumni om betrokke te raak by aktiwiteite by hul alma mater. Nou, bykomend tot monetêre skenkings, kan hulle ook van hul tyd en talent gee en die volgende geslag van die Suid-Afrikaanse werksmag voorberei op ʼn diverse omgewing waar van hulle vereis sal word om sagte vaardighede te hê om vooruit te gaan."