Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vroue-wetenskaplikes maak skoonskip by WISA-toekennings
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 24/08/2018

In 'n eerste vir die Universiteit Stellenbosch, het drie van die instelling se voorste vroue-wetenskaplikes Donderdag (23 Augustus 2018) skoonskip gemaak by die jaarlikse Suid-Afrikaanse Vroue in die Wetenskap (WISA)-toekenningsgeleentheid wat in Polokwane gehou is.

Dr Evodia Setati (Instituut vir Wynbiotegnologie) was die wenner van die kategorie: Uitstaande Vroue-wetenskaplike in Natuurwetenskappe en Ingenieurswese, terwyl prof Karen Esler (Departement Bewaringsekologie en Entomologie) en prof Soraya Bardien (Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika) onderskeidelik tweede en derde in dieselfde kategorie geëindig het.

Die toekenningseremonie was deel van die Departement van Wetenskap en Tegnologie se viering van Vrouemaand. Die tema vir WISA 2018 was leveraging science, technology and innovation to enhance inclusive growth and development. Volgens die organiseerders wil hierdie toekennings erkenning gee aan vrouewetenskaplikes en -navorsers wat as rolmodelle vir jonger wetenskaplikes en navorsers dien. Dit wil ook jong opkomende vrouenavorsers en -wetenskaplikes aanmoedig en beloon.

Setati, ʼn senior navorser by die Instituut vir Wynbiotegnologie in die Departement Wingerd- en Wynkunde, is met die WISA-toekenning bekroon vir haar werk oor die mikrobiese ekologie van wingerd- en fermentasie-ekosisteme, en hoe dit deur boederypraktyke beïnvloed word. Haar navorsing het bygedra tot 'n beter verstaan van mikro-organismes in Suid-Afrikaanse wingerd en wynfermentasie en die moontlike bydrae daarvan tot die chemiese en sensoriese eienskappe van wyn.

Setati het gesê​ die toekenning "is vir my 'n teken van progressie, dit beteken dat ek uiteindelik die vrugte van my arbeid pluk en vir my werk beteken dit meer blootstelling aan potensiële medewerkers, veral van histories benadeelde instellings. Dit is 'n belangrike erkenning vir die relevansie en impak van my navorsing."

Setati het reeds ʼn gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang en spog met verskeie  portuur-geëvalueerde artikels in gesaghebbende internasionale vaktydskrifte. Sy het ook as studieleier vir baie nagraadse studente opgetree. Setati is 'n lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Mikrobiologie, asook die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Wyn- en Wingerdkunde. Verder dien sy as kommissaris van die International Commission for Yeasts, 'n trustee op die Pioneer Foods Education and Community Trust, en subredakteur van die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Wyn- en Wingerdkunde.

Prof Karen Esler is vereer vir haar navorsingsuitnemendheid in ekologie, insluitend die herstel van ekosisteme, en indringerbiologie. Sy is ook 'n NNS-gegradeerde navorser en word as 'n voorste kenner op hierdie gebied beskou. Sy het ook baie nagraadse studente begelei.

"Ek voel geëerd om onder die wenners te wees. Navorsing is lonend en opwindend en as ek kan voortgaan om vroue in hoër onderwys bevorder deur as rolmodel vir ander op te tree, sal ek tevrede wees," het Elser gesê​.

Esler was die skrywer of medeskrywer van meer as 160 portuur-geëvalueerde akademiese tydskrifte en het ook enkele boeke en boekbydraes die lig laat sien. Sy het toekennings ontvang van onder meer die Landbou-ekonomie Vereniging van Suid-Afrika, Waternavorsingskommissie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI).

Esler is die Afrika-mederedakteur vir 'n gesaghebbende bewaringsvaktydskrif Conservation Biology en dien tans as resensieredakteur vir die Intergovernmental science-policy platform for Biodiversity and Ecosystem Service (IPBES) se globale evaluering. Sy is reeds geruime tyd die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger by die International Society for Mediterranean Ecology en was ook die eerste vrouepresident van die Suid-Afrikaanse Genootskap van Plantkundiges.

Bardien, internasionaal bekend vir haar navorsing oor Parkinson se siekte, het 'n toekenning ontvang vir haar werk oor die genetiese oorsake en meganisme onderliggend aan hierdie toestand in Suid-Afrikaanse pasiënte. Sy is ook 'n NNS-gegradeerde navorser wat wyd in gesaghebbende portuur-geëvalueerde vaktydskrifte gepubliseer het en baie nagraadse studente begelei het. Bardien spog ook met ʼn boekbydrae en ʼn patent.

Sy is die voorsitter van die Suider-Afrikaanse Mensgenetika-vereniging en dien op die beheerkomitee van die Suider-Afrikaanse Menslike Genoomprogram, en die Komitee van die Afrika-genootskap van Mensgenetika. Bardien was ook ʼn lid van die NNS-spesialiskomitee vir die gradering van Suid-Afrikaanse navorsers (in die kategorie Gesondheidswetenskappe).

  • Foto: Prof Soraya Bardien (tweede van links), dr Mathabatha Setati (middel) en prof Karen Esler (tweede van regs) saam met van die organiseerders by die WISA-toekenningsgeleentheid.