Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kinders met veelvoudige middelweerstandige TB kan behandel word
Outeur: Michelle Rochford Galloway
Gepubliseer: 21/08/2018

Die uitslae van ʼn groot, internasionale sistematiese oorsig wat in die joernaal PLOS Medicine verskyn het, toon dat kinders met veelvoudige middelweerstandige TB (MDR-TB) suksesvol behandel kan word. Die studie is gebruik om die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se riglyne vir die behandeling van MDR-TB in kinders in te lig.

Die studie, wat deur ʼn samewerkende groep internasionale navorsers gedoen is, het ʼn sistematiese oorsig en meta-analise ingesluit van pasiënte-data oor die kliniese eienskappe en behandelingsuitkomse van 975 kinders in 18 lande. Die resultate het getoon dat 78% (764 van 975) van die kinders suksesvol behandel is met tweede-linie MDR-TB middels.

“Na raming onwikkel 32 000 kinders jaarliks veelvoudige middelweerstandige TB (weerstandig teen die twee hoofsaaklike TB-middels, isoniazid en rifampicin). Behandeling vir MDR-TB is van langduur en behels middels wat meer toksies is. Hierdie regimen is dikwels moeilik om te verduur, veral in kinders, weens die langdurigheid van die behandeling, die toksisiteit van die middels, en die tekort aan kinder-vriendelike formulerings," het een van die outeurs, prof Anneke Hesseling van die Desmond Tutu TB-sentrum aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch gesê. "Tot op hede het ons min geweet oor die optimale behandeling van hierdie kinders. Daarom verskaf hierdie oorsig lewensbelangrike inligting oor die moontlike uitkomste en baie goeie nuus vir die TB-veld."

“Daar is te min voorbeelde van navorsers wat hul uitslae deel vir die openbare voordeel, en dit is presies wat hierdie globale span navorsers gedoen het – dit het verseker dat ons alle gepubliseerde en ongepubliseerde bewyse van die behandeling van kinders meet MDR-TB kon opvang. Die soektog het 2 772 verslae opgelewer, en uiteindelik was 33 studies geskik vir insluiting," het dr Tamara Kredo, ʼn mede-outeur en Senior Spesialis by Cochrane Suid-Afrika gesê. Cochrane is ʼn interne navorsingseenheid van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad.

Behoefte vir MIV-behadeling

Die oorsig het ook getoon dat daar ʼn dringende behoefte vir MIV-behandeling is in kinders met MIV en TB ko-infeksie. TB-behandeling was minder suksesvol in kinders met MIV wat nie antiretrovirale behandeling (ARB) ontvang nie.

“Behandeling was slegs suksesvol in 56% van kinders met bakteriologiese bevestigde TB met MIV ko-infeksie wat nie ARB saam met hulle MDR-TB behandeling ontvang het nie," het Hesseling gesê. “In vergelyking met 82% van kinders met MIV wat wel ARB tydens MDR-TB behandeling ontvang het."

“Dit beklemtoon die dringende behoefte vir ARB in hierdie kinders, en behoort ʼn prioriteit te wees in ons omgewing waar die koers van MIV en TB ko-infeksie baie hoog is," het sy bygevoeg.

Daar is ook bewys dat wanvoeding behandelingsuitkomste beïnvloed het en beklemtoom die behoefte vir aggressiewe oplossings.

Tweede-linie middels wat per inspuiting gelewer word en hoë dosisse isoniazid het met behandelingsukses verband gehou. Alhoewel, heelwat kinders met nie-ernstige siekte het goeie uitkomste behaal sonder dat hulle tweede-linie inspuitbare middels ontvang het.

“Dit wil sê dat kinders met nie-ernstige siekte moontlik gespaar kan word van die meer toksiese middels," het Hesseling gesê.

“Verdere werk is nodig oor die effek van individuele middels op behandelingsuitkomste," het Kredo bygevoeg. “Alhoewel hierdie uitslae gebruik is om die WGO se riglyne op te dateer, is verdere bewyse nodig om die behandeling van MDR-TB in kinders wêreldwyd in te lig en te bestuur. Hierdie werk verskaf ʼn beter begrip van die moontlike sukses vir behandeling, die moontlikheid dat party kinders minder intensiewe en minder toksiese regimens kan ontvang, en begrip van die risiko faktore vir swak uitkomste in verskeie omgewings, wat belangrik is in die ontwerp van toekomstige behandelingsregimens."