Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoofdirekteur: Terugblik oor vier jaar by Maties Sport
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 20/08/2018

In Augustus – Vrouemaand – het Maties Sport se hoofdirekteur, Ilhaam Groenewald, haar vierde jaar by die Universiteit Stellenbosch (US) gevier. Haar kontrak se hernuwingdatum is in 2019, en sy sal baie graag haar werk hier wil voortsit en alle pogings van die afgelope vier jaar sien vrugte afwerp.

“Vier jaar klink dalk lank, maar ons het die eerste 18 tot 24 maande bestee om Maties Sport te herskik. Dit beteken ons programme is inderwaarheid maar twee jaar oud en ons Hoëprestasie- (HP) en Rekreasie- en Aktiewe Leefstyleenheid begin nou eers floreer. Ek sal hulle graag van krag tot krag wil sien gaan," sê sy.                          

“Maties Sport is baie meer geïntegreer met die Universiteit as toe ek aangestel is, te danke aan die verhoudings wat ons met die bestuur, dekane en fakulteite gebou het. Ons is nie meer net die mense 'aan die anderkant van die Eersterivier' nie. As gevolg van ons verbeterde media- en kommunikasiestrategie, weet meer mense van ons en verstaan wat ons doen. Ek is vreeslik trots op die vordering wat ons in ons HP, Rekreasie- en Aktiewe Leefstyl-, en Media en Kommunikasie-eenheid gemaak het."      

Maties Sport is aan die einde van 2017 in die diep kant ingegooi toe Steinhoff sy borgskap onttrek het en hulle werk tans saam met verskillende rolspelers om die situasie aan te spreek.

“Ek, prof Stan du Plessis (bedryfshoof van die US), die US se Ontwikkeling- en Alumniverhoudingekantoor, en die US se bedryfsinteraksie- en innovasiemaatskappy Innovus werk nou saam hieraan en dit is as 'n sleutelprestasiegebied geïdentifiseer. Ons herdink tans die fondsinsamelingstrategieë met klem op die waardeproposisie rakende die investering in hoëprestasiesport, spesifiek wat betref beurse en ondersteuningsprogramme."              

Alhoewel 2018 uitdagend was, was daar hoogtepunte ook.            

“Een hoogtepunt was toe ons die Varsitybekertoernooi in die US se eeufeesjaar gewen het, terwyl nog 'n hoogtepunt ons sportkodes se uitstekende USSA-uitslae in Julie was."            

Met die oog op die toekoms, wil Ilhaam graag sien dat die HP-sportkodes soos sokker en atletiek beter presteer.       

“Ons het nuwe bestuurders en afrigters aangestel en het nuwe werwingstrategieë geïmplementeer. Ek laat drie jaar toe vir veranderinge om geïmplementeer te word; ek glo ons sal eers in 2020 resultate sien.

“Maties Sport volg 'n holistiese benadering wanneer dit by ons studente-atlete se akademiese en sportontwikkeling kom. Enige studente-atleet wat na die US toe kom, sal altyd eerste 'n student en tweede 'n atleet wees. Ons uitstekende HP-model sal nie vir ons oornag resultate gee nie, maar ons momentum is aan die toeneem. Ons het topgehaltefasiliteite, 'n pragtige omgewing en 'n sterk administrasie. Die US het sedert 2016 sy investering in Maties Sport verhoog – die universiteit se leierskap glo in ons."                 

Ilhaam se droom is om 'n verskil in die Suid-Afrikaanse sportomgewing te maak ten opsigte van leierskap.             

“Ek het sakebestuur studeer voordat ek sportbestuur studeer het en my passie is om hierdie twee gebiede bymekaar te bring. Ek glo die US is 'n ruimte waar dit kan gebeur, en vandaar die droom om 'n Sentrum vir Sportleierskap te vestig. Ons moet geleenthede skep om ons personeel te bemagtig om die besigheid van sport te verstaan en ons moet die rol wat tegnologie in die toekoms gaan speel, verstaan en benut."   

As Hoofdirekteur: Maties Sport, President van Universiteitesport Suid-Afrika (USSA) en 'n lid van SARU se uitvoerende raad, funksioneer Ilhaam in 'n omgewing wat deur mans gedomineer word, en merk sy op dat die situasie wat vroue betref, gestagneer het.           

“Wanneer ek na vergaderings toe gaan, word dit deur mans gedomineer. Ek glo daar is sterk en bevoegde vroue daarbuite – hulle word net nie die geleentheid gegee om in die posisie te wees waar ernstige besprekings en besluitneming plaasvind nie."               

Sy raak dit baas deur seker te maak dat sy goed ingelig en goed voorbereid is.             

“Ek sou nie verantwoordelikhede aanvaar het as ek nie geglo het ek kan dit hanteer nie. Ek plaas soms egter soveel druk op myself dat ek nie tyd afneem nie. Daar is goeie dinge daar buite wat dit vir 'n mens moontlik sou kon maak om verfris terug te kom en te floreer."

​Foto: Hoofdirekteur Ilhaam Groenewald saam met van haar kollegas by Maties Sport.