Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Geïntegreerde jaarverslag nou beskikbaar
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 17/08/2018

​'n Eksemplaar van die US se geïntegreerde jaarverslag – wat die Raad op 18 Junie goedgekeur het – is voor die sperdatum van 30 Junie by die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding afgelewer. Die res van die gedrukte oplaag het in Julie by ons aangekom, en 'n pdf-weergawe is reeds sedert Junie op die jaarverslag-blad van die Universiteit se webtuiste beskikbaar (klik hier).

Die verslag is 'n ryke bron van inligting oor hoe die US dit regkry om 'n verantwoordelike korporatiewe burger te wees wat terdeë bewus is van sy impak op die samelewing, die ekonomie en die natuurlike omgewing.

“Alhoewel die verslag van 2017 hoofsaaklik oor die afgelope jaar se aktiwiteite handel, kyk ons ook 'n bietjie verder terug in die geskiedenis met die oog op ons eeuwording as universiteit in 2018. Lees dit gerus – dis toeganklik en sal jou trots maak om met die US verbind te wees," sê die redakteur, Mattie van der Merwe.

“Ons bring hulde aan die US se pioniers deur hulle portrette telkens langs die huidige bestuur s'n te plaas. 'n Kantkolom in die fakulteitskleure verskyn op die regterkantste bladsye as simbool van ons strewe na uitnemendheid in al ons kernbedrywighede. Die statistieke in die verslag word ook deurgaans in hierdie kleure aangedui om te toon hoe ver die fakulteite en administratiewe afdelings al met die Universiteit se strategiese doelwitte gevorder het (sien p. 7 van die Geïntegreerde Jaarverslag 2017)."

  • Klik hier om die pdf-weergawe van die jongste Geïntegreerde Jaarverslag (2017) af te laai (23MB). Navigeer die publikasie deur op die inhoudsopgawe se bladsynommers te klik.
  • Die Verslag is ook in gedrukte formaat beskikbaar. Vra gerus een aan by mvanrooy@sun.ac.za of by 021 808 9923. ​