Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tegnothon skep ’n entrepreneursgees op kampus
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie (Rozanne Engel)
Gepubliseer: 14/08/2018

Al ooit gewonder hoe die lewe sou wees as jy jou kos by die Neelsie kon bestel terwyl jy nog iewers anders is?

Verbeel jou 'n beter studentelewe met fantastiese mobiele funksies wat jy en jou vriende op 'n drafstap kan gebruik om meer, vinniger en veiliger gedoen te kry. Vir baie ondernemings en instellings is dit ook deesdae belangrik om hulle kliënte ononderbroke betaalstelsels of kommunikasie-ervarings te bied en hulleself so van hulle mededingers te onderskei.

Daarom daag Innovus jou en jou span uit om te kom wys wat in julle steek in 'n tegnothon (hackathon) van 17 tot 19 Augustus by die LaunchLab op Stellenboschkampus. Die tema van die geleentheid is finansiële tegnologie.

Die tegnothon word geborg deur Entersekt en Capitec, en word gereël deur Innovus in vennootskap met die LaunchLab en die Universiteit Stellenbosch (US).

Innovus is op soek na 40 talentvolle studenteprogrammeerders, -ontwerpers, -bouers en -ingenieurs wat skeppende idees kan ontwikkel en uitruil om bedryfsverwante probleme op vernuwende maniere op te los. Die geleentheid sal begin met 'n aanbieding van verskillende probleme deur die twee bedryfsborge, en aan die einde van die naweek kry die spanne geleentheid om hulle oplossings voor te lê. Die innoverendste span met die beste oplossing wen 'n prys ter waarde van R25 000.

Volgens Nolene Singh, bestuurder van tegnologieoordrag en kommersialisering by Innovus, is die doel van die tegnothon om 'n entrepreneursgees op kampus te ontwikkel en 'n entrepreneursbewussyn te skep. “Innovus en die LaunchLab wil nog méér blink idees na hulle programme vir sakeontwikkeling en -steun lok deur entrepreneursbystand te bied en 'n innovasiekultuur onder studente in alle US-fakulteite te skep. Om 'n suksesvolle innovasiekennisstreek in die Stellenbosch-omgewing te skep en te handhaaf, moet ons die entrepreneurs- en innovasiekultuur op die US-kampus versterk."

Deelnemers sal gedurende die tegnothon mentorleiding van die US se bedryfsvennote en -borge Entersekt en Capitec ontvang. Boonop kan dit tot werksgeleenthede vir graduandi en parallelle loopbaanontwikkeling vir jong navorsers lei en ook 'n positiewe impak op die plaaslike ontwikkelaarsgemeenskap hê deur die uitruiling van innoverende idees en onderlinge skakeling.

Studente wat daarin belang stel om vir die tegnothon in te skryf het die volgende vaardighede nodig:

  • Mobiele programmering (iOS, Android of Cordova)
  • 'n Basiese begrip van hoe om SDK's en API's (SOAP) te gebruik
  • Die kreatiwiteit om eenvoudige dog bevredigende ervarings te skep

Studente sal ook die volgende tegnologieë moet kan gebruik:

  • Alexa-stemdiens
  • Bluetooth-bakens (“beacons")
  • QR-kode- of staafkodelesers
  • NFC-bewyse (“tokens")

Slegs US-studente kan deelneem en aansoeke sluit vanmiddag (14 Dinsdag 2018).

Gaan na http://bit.ly/SUFintechathon om in te skryf.​