Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die menslike toekoms, en universiteite in 'n post-waarheidsera
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 13/08/2018

Prof Steve Fuller, 'n wêreldbekende sosioloog van die Universiteit van Warwick in die Verenigde Koninkryk wat in wetenskap- en tegnologiestudie spesialiseer, bied vandeesweek twee openbare lesings by die Universiteit Stellenbosch (US) aan. Die lesings handel onderskeidelik oor wat op die spel is in 'n post- teenoor 'n transhumanistiese toekoms (14 Augustus, 16:00-18:00, STIAS-herehuis) en of universiteite 'n post-waarheidsera kan oorleef (16 Augustus, 13:00-14:30, Lokaal 468, Letteregebou).

Sy eerste praatjie is getiteld “The Politics of Prefixes: What's at Stake in a 'Post-' versus a 'Trans-' Human Future?" en sal deel uitmaak van die US se Sentrum vir Komplekse Sisteme in Transisie se gespreksreeks oor die Antroposeen. Sy tweede lesing, “Can Universities Survive the Post-Truth Era?", is op sy beurt deel van die seminaarreeks oor die indeksering van transformasie van die US se Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie. Laasgenoemde seminaarreeks verken tans die tema van universiteitstransformasie met die doel om in die dringende behoefte aan kurrikulumhervorming, kritiese pedagogie en institusionele transformasie in die Suid-Afrikaanse hoër onderwys te voorsien.

Fuller is oorspronklik in die dissipline van geskiedenis en wetenskaplike filosofie opgelei, en beklee die Auguste Comte-leerstoel in sosiale epistemologie in Warwick se Departement Sosiologie. Hy het reeds meer as 20 boeke die lig laat sien, waarvan die mees onlangse een die toekoms van die mensdom, die universiteit en die intellektuele lewe oor die algemeen ondersoek. Volgens dr Lloyd Hill van die US se Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie konsentreer Fuller se werk oor “sosiale epistemologie" op die omstrede en al hoe vaer grens tussen die natuur- en sosiale wetenskappe. Sy jongste werk gaan veral oor die snelle en gelyklopende vooruitgang in die nano-, bio-, info- en kogno-tegnowetenskappe, en oor wat dít beteken vir hoe ons menswees verstaan. 

Volgens Fuller sal hy in sy eerste praatjie gesels oor die dinge waaroor hy die afgelope dekade in sy boeke skryf – die naderende vertakking in die pad na die mensdom se gesamentlike toekoms, oftewel “Mensdom 2.0". “Verskeie kontemporêre ontwikkelings – van state se onvolhoubare welsynsbegrotings tot antropogeniese klimaatsverandering tot revolusionêre deurbrake op bio-, nano- en infotegniese gebied – wys baie duidelik daarop dat die menslike toestand soos ons dit in die moderne era ken op die punt staan om aansienlik te verander. 'Posthumanisme' en 'transhumanisme' is straks die vernaamste twee vertakkings in die pad. Eersgenoemde sal die mens in die geheel as primêre lokus van waarde verplaas, terwyl laasgenoemde die mens se teenwoordigheid onbepaald sal versterk," verduidelik Fuller.

“Posthumaniste glo die humanisme het te ver gegaan, terwyl transhumaniste weer meen dit het nie ver genóég gegaan nie. Die politieke verskille wat dít impliseer, strek van links na regs oor die volle ideologiese spektrum wat die Westerse politieke landskap die afgelope twee eeue reeds kenmerk. Ek sal in my praatjie die implikasies van hierdie verdeling verken, én hoe dit dalk opgelos kan word."

In sy lesing oor universiteite in 'n post-waarheidsera sal hy aandag skenk aan die “geneigdheid om 'post-waarheid' op minagtende wyse as die gevolg van populistiese anti-intellektualisme te beskou" of as 'n “tydelike wending in die lot van akademici en ander elite wat te lig bevind is ná die Brexit-stemming en Trump se verkiesing". “Ek glo albei beskouings van die post-waarheidstoestand is verkeerd. Op grond van my jongste boek, Post Truth: Knowledge as a Power Game, reken ek dat die post-waarheidstoestand gekom het om te bly, ongeag wat met Brexit of Trump gebeur – en dat dit in sekere sin nog altyd 'n werklikheid was. In die besonder behoort ons hierdie epistemiese dilemma as deel van die groeipyne van die demokratisasie van kennis te beskou – 'n onafwendbare gevolg van wat in wese die afgradering van kennersoordeel is. Ek sal in my praatjie gesels oor watter gevolge dít inhou vir hoe universiteite hulleself herposisioneer."