Die aanleer van kommunikasievaardighede
gaan waarskynlik 'n toenemend
belangrike plek in die mediese
kurrikulum van die Universiteit Stellenbosch
(US) inneem.
Dr Elize Archer, wat aan die Sentrum
vir Gesondheidsberoepe-onderwys
(SGBO) aan die Fakulteit Geneeskunde en
Gesondheidswetenskappe (FGGW) verbonde
is, gaan danksy ’n universiteitsgenootskap oor
die volgende drie jaar kyk na maniere om
hierdie vaardighede in die kurrikulum in te bou.
Archer het aan die einde van 2016
die eerste doktorsgraad verwerf vir die
SGBO, wat in 2006 tot stand gekom het.
Boonop was sy een van net 14 doktorale
gegradueerdes wêreldwyd wat gekies is
om in Helsinki, Finland, haar bevindinge op
die jaarlikse kongres van die Vereniging vir
Mediese Onderwys in Europa voor te lê. Dié
geleentheid word deur verteenwoordigers van
nagenoeg 90 lande bygewoon.
Vir haar doktorsgraad het Archer gefokus
op die wyse waarop pasiëntgesentreerdheid in 'n mediese kurrikulum aangeleer word. "Holistiese sorg was nog altyd
vir my belangrik," sê Archer, wat 'n
verpleegagtergrond het. Sy was vroeër
in die privaatsektor by intensiewesorgopleiding
betrokke en het daarna by
die FGGW se Simulasie en Kliniese
Vaardigheidsentrum gehelp om die mediese
kurrikulum te struktureer. Hoe meer sy in die
internasionale wêreld betrokke geraak het by
gesondheidsberoepe-onderwys, hoe meer het
sy in die konsep van pasiëntgesentreerdheid
belang gestel – vandaar die onderwerp van
haar doktorale studie.
Volgens haar het literatuur
getoon dat mediese studente se
kommunikasievaardighede dikwels afneem
soos wat hulle met hul kursus vorder. Van hulle
word met verloop van tyd sinies, brand uit
en ontwikkel 'n verlies aan empatie. Hoewel
daar internasionaal wyd oor hierdie kwessie
gepubliseer word, was daar plaaslik nog nie 'n soortgelyke studie wat spesifiek op medies
gefokus het nie.
In haar ondersoekende studie het Archer
60 sesdejaar-mediese studente in fokusgroepe
van 6 tot 8 en daarna ook enkele spesialiste
betrek. "Ek wil egter vir geen oomblik sê
medies is die enigste sondebok as dit by
swak kommunikasievaardighede en sinisme
kom nie," benadruk sy. "Dis ’n siekte in
gesondheidsberoepe."
Vir die doel van haar studie het Archer
pasiëntgesentreerdheid in twee komponente
verdeel, naamlik "omgee" en "deel". Volgens
haar behels omgee nie net dat 'n dokter
luister nie, maar ook dat pasiënte voel hulle
word gehoor. "Deel" dui op 'n gedeelde
verantwoordelikheid. "Die pasiënt moet
ingelig word, verstaan waaroor die siekte en/of behandeling gaan, en eienaarskap daarvan
neem." Dis eintlik 'n paradigmaskuif in baie
situasies, sê Archer, en dit vereis vaardighede
van 'n dokter om hierdie gesprek te voer. "Maar uiteindelik het my studie getoon
ons mediese studente is nié goed hiervoor
toegerus nie."
Baie faktore speel hierin 'n rol, waaronder
persoonlikheid, seleksiekriteria en 'n
komplekse kliniese omgewing wat nie juis
bevorderlik vir pasiëntgesentreerdheid is nie. "Wat doen jy byvoorbeeld wanneer jy besef jy
móét tyd met 'n spesifieke pasiënt deurbring,
maar as gevolg daarvan vererger jy die
omstandighede vir die 60 wat nog buite in die
gang sit en wag?"
Daarbenewens studeer sommige studente
om die verkeerde redes medies, sê sy prontuit. "Oor die afgelope klompie jare het vele
studente al vir my gesê hulle hou daarvan om
die liggaam te verstaan; hulle wil uitwerk wat
fout is met iemand, maar hulle wil nie van 'n
pasiënt se daaglikse probleme hoor nie."
Ironies genoeg wys navorsing hoe meer
empatie iemand toon, hoe groter is die
geneigdheid om uit te brand. Dis hoekom
sommige mediese studente hulself afsny en in
die proses afgestomp voorkom. "Maar dis nie
reg teenoor die pasiënte nie en dis ook nie reg
teenoor die mediese student nie," benadruk
Archer. "Dis hoekom ek en 'n paar ander
rolspelers tans kyk of ons vir hulle konkrete
vaardighede kan leer, wat selfbewussyn sal
insluit. Jy moet vir jouself kan sorg om vir
andere te kan sorg."
Dis 'n komponent wat wel reeds vanaf die
eerste jaar aandag kry, maar teen die latere
jare – wanneer die studente meer kliniese
opleiding kry – verlore begin gaan.
Nog 'n belangrike aspek is rolmodellering
en norme. "Die seniors besef nie watter uiters
belangrike rol hulle hierin speel nie," sê Archer. "Daarom moet ’n kurrikulum wat aangepas
word om studente te bemagtig, hand aan hand
met personeelontwikkeling gaan. Die dosente
moet bewus gemaak word van hul rol en hulle
moet bewustelik 'n voorbeeld stel."
Gesimuleerde pasiënte is een manier
waarop die uitdaging van die assessering van
kommunikasievaardighede internasionaal die
hoof gebied word. Dit kom daarop neer dat
vrywilligers teen betaling opgelei word om die
rol van 'n spesifieke pasiënt, byvoorbeeld 'n
diabeet, te vervul. Op grond van die student
se interaksie met hierdie "pasiënt" kan
laasgenoemde self en/of 'n dosent wat insit,
terugvoer aan die student gee.
Hoewel kommunikasie allerweë as 'n sagte
vaardigheid beskou word, is die insluiting
daarvan in die kurrikulum volgens Archer nie
onderhandelbaar nie. "Die publiek soek nie net
meer kennis en vaardighede van 'n dokter nie,
maar ook die regte ingesteldheid."
Onderskrif: Dr Elize Archer
Foto: Damien Schumann