Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studentebefondsing steeds krities, sê Rektor vir vennote
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 08/08/2018

​Ons benodig steeds u ondersteuning. Dit was prof Wim de Villiers se boodskap aan donateurs by twee sake-ontbytgeleenthede vroeër vanjaar in onderskeidelik Johannesburg en Kaapstad waar hy die privaat sektor aangespoor het om vennootskappe met die Universiteit Stellenbosch (US) te volhou.​

“Die primêre doel van hierdie geleenthede was om die Universiteit se standpunt in verband met die Presidensiële aankondiging van 16 Desember 2017 rondom gratis hoër onderwys en die werklike impak wat dit gehad het en steeds op studente en instansies het, te verduidelik,” sê Sarah Archer, Direkteur van Fondswerwing in die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge.

Prof De Villiers het aan albei gehore gesê befondsing vir studente bly noodsaaklik en donateurs se ondersteuning aan ’n aansienlike groep studente is steeds nodig. “Onlangse ontwikkelings rondom die kwessie van gratis hoër onderwys het vrae laat onstaan oor die voortgesette belegging van ons vennote. Dit volg op die aankondiging deur oudpresident Jacob Zuma dat ten volle gesubsidieerde gratis hoër onderwys en opleiding vir arm en werkersklas Suid-Afrikaners vanaf 2018 ingefaseer sal word,” sê hy.

Volgens prof De Villiers is daar drie redes waarom dit nie beteken die private sektor kan nou ophou om hoër onderwys finansieel te steun, veral deur beurse nie.

“Eerstens is daar vrae oor die staat se vermoë om hierdie intervensie volhoubaar op die lang termyn te finansier, soos deur die Heher-kommissie aangedui, maar wie se verslag verontagsaam is. Verder is daar kommer oor die praktiese implementering van die stelsel, vanweë voortgesette probleme met die administrasie van staatsbefondsing aan instellings sowel as direk aan studente. Tweedens, nie alle studente wat finansiële steun benodig kom in aanmerking vir staatsbefondsing nie, om verskeie redes. En derdens ervaar studente wat staatshulp ontvang steeds ’n tekort. Die persepsie is dat die regering se ondersteuning volkoste is, maar daar is beperkings op elke komponent van universiteitskoste, en dit lei tot gapings wat studente nie self kan oorkom nie.”

Volgens De Villiers beteken die gapings in befondsing dat daar steeds te veel studente met verlammende skuld gradueer, wat hul oorgang na die werkswêreld ernstig belemmer. “Die regering se bydrae dek basies slegs die klasgeld van studente, maar studente moet ook êrens woon, of sorg dat hulle by die klasse uitkom, hulle moet eet, en boeke en data koop om toegang tot inligting te verkry. Hierdie kostes word dikwels oor die hoof gesien, maar geen student kan daarsonder oorleef nie,” sê hy verder.

Prof De Villiers het donateurs wat ’n belangrike rol gespeel het in die US en sy studente se sukses daarna bedank. “Donateurs is die lewensaar van ons instelling en ons bedank almal wat gehelp het om die Universiteit Stellenbosch te vorm en sy reputasie as ’n wêreldklas- akademiese instelling te vestig.”