Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Het Jan Marais Fonds skenk meer as R10m aan US
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 08/08/2018

​Studente wat beurse benodig, asook verskeie projekte aan die Universiteit Stellenbosch (US) sal eersdaags voordeel trek uit ’n finansiële inspuiting van meer as R10 miljoen wat die US vanjaar van die Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF) ontvang.​

Van hierdie R10-miljoen-skenking is R5 miljoen geoormerk vir noodfondsbeurse, terwyl R5 180 000 uitgehou word vir US-projekte, ingesluit Matie Gemeenskapsdiens, Botaniese Tuin, Regskliniek en die Universiteitskoor. Die noodfondsbeurse word deur die loop van 2018 volgens die riglyne van die toekenning aan verdienstelike Afrikaanssprekende voorgraadse en nagraadse studente wat daarvoor kwalifiseer, toegeken.

“Dit is altyd verblydend om skenkings te ontvang waarmee ons ’n wesenlike verskil kan maak – des te meer so in ons Eeufeesjaar – en boonop van een van ons skenkers wat selfs die bestaan van die US verseker het,” sê die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers.

“Die lank bestaande verhouding tussen die US en die Het Jan Marais Nationale Fonds bly ons altyd by. Ons vennootskap kan immers meer as 100 jaar teruggevoer word tot 1915, toe Jan Marais – die US se eerste amptelike skenker – £100 000 bewillig het om die Universiteit Stellenbosch amptelik tot stand te bring.”

Die HJMNF skenk jaarliks meer as R25 miljoen aan universiteitsprogramme, skole, hospitale, kultuurprojekte, welsynsorganisasies en verskeie ander projekte in veral Stellenbosch. Deur sy betrokkenheid by onder meer die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en steun aan uitvoerende kunstenaars strek die hulp van die Fonds ook landswyd.

Volgens prof De Villiers kry die Universiteit ’n kragtige hupstoot deur hierdie vrygewige skenking van die HJMNF. “Donateurs speel ’n belangrike rol om te verseker dat die US ’n gevestigde instelling met ’n uitnemende prestasiegeskiedenis in ál drie sy kernfunksies bly. Hulle help ons om hoër onderwys van uitnemende gehalte te voorsien en wêreldklasgegradueerdes te lewer wat bereid én bevoeg is om ’n sterk Suid-Afrikaanse ekonomie te help bou.”

Prof De Villiers beklemtoon verder die belangrikheid van beursbefondsing en sê dat beursvoorsiening aan studente in finansiële nood ’n voorrangsaak vir die US bly, afgesien van die regering se aankondiging in 2017 dat alle universiteitseerstejaars uit huishoudings met ’n jaarlikse inkomste van minder as R350 000 finansiering sal ontvang.

“Ons moet steeds die realiteit in die gesig staar en dit sluit in ’n tekort aan fondse vir studente wat nie vir staatshulp kwalifiseer nie. Dit is studente hierdie wat reeds in hul tweede jaar van studie is, die sogenaamde ontbrekende middel-studente, met ’n huishoudelike inkomste vanaf R600 000, sowel as nagraadse studente,” voeg hy by.