Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Sampie se beurs-nalatenskap
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 08/08/2018

As geliefde en legendariese dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US) het prof Sampie Terreblanche baie jongmense as denkleiers help vorm, en nou, danksy die Sampie Terreblanche-beursfonds, sal dié ontslape veteraan‑ politieke ekonoom en akademikus steeds studente kan inspireer.​

Die Sampie Terreblanche-beursfonds het onlangs tot stand gekom nadat “prof Sampie”, soos hy bekend gestaan het, R250 000 vir beurse in sy testament bemaak het. Dié beurse sal aanvanklik beskikbaar wees vir behoeftige en verdienstelike nagraadse studente in Ekonomie wat voorgraadse vakke soos Politieke Wetenskap, Filosofie en Geskiedenis geslaag het.

Sy kinders het ook onderneem om tot die beursfonds by te dra.

“Ons pa se lewenslange toewyding aan die akademie bly vir ons ’n inspirasie. Sy kinders wil daarom graag deur die jare die fonds aanvul om sy wens te vervul dat ongelyke toegang tot nagraadse studie sal verminder,” sê sy dogter, Christelle Terreblanche.

Prof Terreblanche, wat in Februarie vanjaar op die ouderdom van 84 oorlede is, se akademiese loopbaan by die US het oor die helfte van die 90 bestaansjare van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe gestrek. Met sy uittrede aan die einde van 2011 het hy ’n ononderbroke loopbaan van 54 jaar as dosent in Ekonomie afgesluit. Talle vooraanstaande ekonome het al hulle sukses aan dié vernuwende denker en geliefde professor toegeskryf.

Prof Sampie het ook bekendheid verwerf vir sy betrokkenheid by partypolitiek. Hy het deurentyd in kommissies en rade gedien en het só tot Suid-Afrikaanse beleidmaking bygedra. Nadat hy in 1987 uit die voormalige Nasionale Party bedank het, het hy een van dié party se felste kritici geword. Hy was ’n stigterslid van die toenmalige Demokratiese Party en dié party se eerste ekonomiese adviseur, maar het ná ’n jaar uit die partypolitiek getree. Talryke boeke, waaronder die bekende A History of Inequality in South Africa: 1652–2002, hoofstukke in boeke, asook artikels in koerante en vaktydskrifte het uit sy pen gevloei.

Prof Terreblanche het verskeie eerbewyse ontvang vir sy lewenslange bydrae tot Ekonomie as studieveld en vir die leidende rol wat hy gespeel het om ons begrip van die politieke ekonomie en ekonomiese geskiedenis van Suid-Afrika te verdiep.

In 2015 het prof Terreblanche ’n eregraad van die US ontvang vir sy uitsonderlike bydrae as diepsinnige ontleder van Westerse sosiaal-ekonomiese stelsels, sy klem op sosiale verbetering vir almal in talle rigtinggewende publikasies, sy vreeslose voorspraak vir die beëindiging van apartheid en ongelykheid in Suid-Afrika, en sy onuitwisbare impak op menige ekonomiestudent as ’n inspirerende dosent.