Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kunsliefhebber bemaak meer as R1 miljoen vir beurse
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 08/08/2018

Die naam Henk Seymore sal voortleef danksy ’n erflating van R1 169 834,14 wat hy vroeër vanjaar aan die Universiteit Stellenbosch (US) nagelaat het.​

Seymore, ’n individuele donateur aan die US, is in Januarie vanjaar oorlede en het bykans sy hele boedel vir beurse nagelaat. Soos bepaal in sy testament, sal die Universiteit hierdie vrygewige bemaking gebruik om beurse, wat bekend sal staan as Henk Seymore-beurse, aan studente binne die Departement Visuele Kunste toeken.

Volgens mnr Hugo Steyn, Bestuurder: Individuele Skenkings aan die US, was Seymore nie ’n Matie-alumnus nie, maar het hy wel ’n groot liefde vir die visuele kunste gehad. Seymore, afkomstig van Riebeek-Wes, was self ook ’n kunstenaar in sy vrye tyd en werksaam in die advertensiebedryf voor sy aftrede.

“Die Universiteit is baie dankbaar en beskou hierdie erflating as ’n geskenk vir ’n volgende generasie,” het Steyn gesê. “Erflatings het weliswaar die potensiaal om lewens te verander en hier het ons nou ’n sprekende voorbeeld,” het hy bygevoeg.

Volgens Steyn sal die Henk Seymore-beurse heel moontlik reeds vir volgende jaar toegeken word.

Prof Elizabeth Gunter, voorsitter van die US se Departement Visuele Kunste, het gesê hulle is baie dankbaar vir hierdie skenking en sal beslis die fondse aanwend soos wat Seymore wou gehad het.

  • Vir meer inligting oor erflatings, kontak Hugo Steyn by tel 021 808 3615, of per e-pos by hugos@sun.ac.za.