Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Siyakhula en Visie 2040
Outeur: Charl Linde
Gepubliseer: 31/07/2018

​Met die bekendstelling van die Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 20192024 het die Rektor en Visekanselier prof Wim de Villiers 'n kragtige nuwe visie vir die Universiteit Stellenbosch uiteengesit, een wat studente 'n transformerende ervaring by 'n soepel, aanpasbare en responsiewe instelling bied. Dit beklemtoon verder die vaardighede wat in 'n voortdurend veranderende wêreld nodig is; juis die vaardighede wat deur dialoog en gesprekke in die Siyakhula Transformasieleierskap-en-bevoegdhedeprogram gekoester word.

Die program, wat deur die Transformasiekantoor in vennootskap met die Eenheid vir Gelykwaardigheid, die Eenheid vir Gestremdhede en Menslike Hulpbronne aangebied word, is met die oog op Sosiokulturele Bewustheid, Leierskap en Intergroepbetrokkenheid, sowel as Sosiale Innovasie ontwerp. Die werkswinkels wat aangebied word, akkommodeer alle skedules en behels 'n dialoogsessie van twee uur, 'n eendaagse sessie, en 'n volle driedaagse werkswinkel. Die temas sluit in die Universiteit se visie en transformasie, dekolonisasie, sowel as konflik- en bemiddelingsbestuur. Die inhoud kan volgens elke afdeling se spesifieke behoeftes of belangstellings aangepas word.

Siyakhula beteken “ons groei" en is bedoel vir alle personeellede. 'n Personeellid het ná haar ervaring by 'n opleidingsessie die volgende kommentaar gelewer: “Ek het dit baie insiggewend gevind. Die niebedreigende wyse waarop die werkswinkel gefasiliteer is, het tot 'n gemaklike vloei van idees gelei, wat ek baie verfrissend gevind het. Ek werk al 17 jaar vir die US, maar hierdie werkswinkel was sonder twyfel die waardevolste opleiding wat ek in dié tyd gehad het, dit moes lankal gebeur het. Dis regtig jammer die Universiteit het so lank gewag om 'n ontwikkelingsgeleentheid soos hierdie vir sy personeel aan te bied. Dit het my kop oopgestel om nuwe maniere te oorweeg waarvolgens ek dinge kan doen."

Die volgende driedaagse werkswinkel is geskeduleer vir 7 tot 9 November 2018 en kan bespreek word via Sun-e-HR, terwyl die korter sessies volgens die afdelings se beskikbaarheid gereël kan word. Vir meer inligting kontak gerus vir Monica du Toit by mdt2@sun.ac.za of vir Grizelda Adams by grizeldaa@sun.ac.za.