Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ithemba-beursfonds – ʼn reddingslyn vir FGGW-studente
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 18/07/2018

“My lewe is vir ewig verander! Nou is ek gemotiveerd om harder as ooit te werk. Baie dankie dat julle hierdie beurs aan my toegeken het. Ek sal julle nie teleurstel nie."

Hierdie bedankingsbriefie van ʼn MB,ChB II-student is ʼn enkele voorbeeld van die verskil wat die Ithemba-beursfonds in studente se lewens maak. Sedert die fonds in 2015 by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) gestig is, is meer as R1.3 miljoen se beurse aan 27 voorgraadse studente by die fakulteit toegeken.

“As deel van die Fakulteit se volgehoue pogings om ons waardes te verwesenlik en ons visie te bereik om gesondheid en gelykheid te bevorder in Suid-Afrika en verder, werk ons fluks om toegang tot gehalte onderrig te bevorder en studentesukses te verseker," sê die FGGW-dekaan, Prof Jimmy Volmink.

“ʼn Mens kan redeneer dat maatskaplik-ekonomiese ongelykheid tans die grootste uitdaging in Suid-Afrika is, en dit is duidelik sigbaar in ons studente se daaglikse lewens. Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat talentvolle en toegewyde jong studente se pad na sukses deur finansiële struikelblokke versper word," sê Volmink.

Die Universiteit Stellenbosch se voormalige rektor, prof Russen Botman, het die visionêre HOOP-projek van stapel gestuur wat die universiteit op koers gesit het om van die land se belangrikste kwessies aan te pak, soos byvoorbeeld die uitwissing van armoede en toestande wat daarmee verband hou en die bevordering van menslike waardigheid, gesondheid, demokrasie en menseregte.

In die gees van prof Botman se HOOP-projek, het die FGGW die Ithemba-beursfonds van stapel gestuur. Alhoewel 'ithemba' verskeie betekenisse in isiZulu en isiXhosa het, heg ons die volgende betekenis daaraan: 'verwagting', 'geloof', 'vertroue' en 'hoop'. Die Ithemba-beursfonds bied finansiële ondersteuning aan studente wat nie kwalifiseer vir befondsing van die Universiteit, regering en/of private entiteite nie.

“Ithemba is ʼn gepaste naam vir prof Botman se nalatenskap aangesien die fonds hoop bied aan studente wat andersins nie hul studies by die fakulteit sou kon voortsit nie," sê Volmink. “Die FGGW volhou die bevordering van ʼn kultuur van vrygewigheid en mededeelsaamheid wat alreeds op ons kampus bestaan. Deur hierdie pogings word bevoegde gesondheidsberoepslui opgelewer, wie op hul beurt ander se lewens verbeter en bydra tot ʼn beter gemeenskap." 

Die Ithemba-beursfonds word befonds deur bydraes van fakulteit-personeel, ouers en alumni.

​Skenk vandag: http://www.sun.ac.za/english/faculty/healthsciences/Pages/Donate.aspx of kontak Jasmine Erasmus by jasminae@sun.ac.za.