Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Goed beplande onderhoudskedules keer beurtkrag
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 06/07/2018

Met die winter in volle swang, is beurtkrag die laaste ding wat Suid-Afrikaners wil hê. Maar soos ons die afgelope klompie jare gesien het, kan Eskom op enige tyd beurtkrag aankondig en ons daaglikse roetine deurmekaar krap.

Een manier om die risiko van beurtkrag te voorkom of te verminder, is om 'n behoorlike en gepaste skedule vir die onderhoud van kragopwekkingseenhede in plek te hê, sê dr Jancke Eygelaar, 'n sake-intelligensie konsultant by Decision Inc. in Midrand, Johannesburg. Hy het onlangs sy doktorsgraad in Bedryfsingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch behaal.

Eygelaar sê die vermoë van 'n kragverskaffer soos Eskom om in die vraag na energie te voorsien, kan beduidend beïnvloed word deur die onverwagse onklaarraking van kragopwekkingseenhede. Die vermoë van sulke opwekkingseenhede kan dalk gekompromiteer word gegewe hoe lank die kragverskaffer al in bedryf is.Jancke Eygelaar.JPG

Hy meen die doeltreffende skedulering van hierdie beplande onderhoud aan kragopwekkingseenhede is 'n groot uitdaging is vir enige kragverskaffer.

“In die meeste gevalle is dit baie duurder om kragopwekkingseenhede wat onklaar geraak het te herstel as om beplande voorsorgmaatreëls vir onderhoud te tref. Die onderhoud van verouderende kragopwekkingseenhede word egter dikwels afgeskeep weens ʼn groot aanvraag na energie en ʼn stelsel met lae kapasiteit, soos ons in die geval van Eskom gesien het."

Eygelaar sê sy studie het die aanvraag wat ʼn stelsel moet hanteer, sowel as ander faktore, in ag geneem en probeer om voorkomende onderhoud aan kragopwekkingseenhede wat nie optimaal funksioneer nie te skeduleer. Hulle het 'n groter kans om onklaar te raak, wat daartoe kan lei dat beurtkrag geïmplementeer word omdat daar nie in die vraag na elektrisiteit voorsien kan word nie.

Eygelaar het as deel van sy doktorale navorsing twee nuwe skeduleringskriteria voorgestel wat onderhoudskedulering kan optimaliseer. Die eerste kriterium behels dat die waarskynlikheid dat 'n kragopwekkingseenheid onklaar sal raak verlaag word, terwyl die tweede die klem plaas op ʼn verhoging van die verwagte energieproduksie tydens 'n skeduleringsperiode.

Hy het die effektiwiteit van hierdie twee kriteria ontleed deur hulle toe te pas op 'n werklike gevallestudie gebaseer op die Eskom-kragstelsel.

“Beide hierdie kriteria kan help dat 'n kragstelsel nie onklaar raak nie. Deur hierdie aspek van kragopwekkingseenhede in ag te neem wanneer voorkomende onderhoud geskeduleer word, kan beurtkrag en kragonderbrekings moontlik heeltemal vermy word."

“Die voorgestelde skeduleringskriteria sal na verwagting help om die kans dat beurtkrag geïmplementeer moet word te verminder deur beplande onderhoud op so ʼn wyse te skeduleer dat kragopwekkingseenhede nie onklaar raak nie  ̶  iets wat ʼn skielike daling in die beskikbare energiekapasiteit tot gevolg mag hê."

Benewens die skeduleringskriteria, het Eygelaar 'n gerekenariseerde besluitsteunstelsel ontwikkel wat 'n operasionele bestuurder van goeie beplande onderhoudskedules vir kragopwekkingseenhede kan voorsien soos gebaseer op die twee skeduleringskriteria. ʼn Besluitsteunstelsel help die gebruiker om ingeligte besluite te neem en komplekse probleme te identifiseer en op te los.

Eygelaar sê sodra die noodsaaklike toevoerdata (bv. spesifikasies oor aanvraag en opwekkingseenhede, die nodige mannekrag, ens.) in die gespesifiseerde formaat voorberei is en na die databasis oorgedra is, kan die besluitsteunstelsel gebruik word om goeie onderhoudskedules vir die spesifieke kragstelsel se opwekkingseenhede aan te beveel. Dit word gedoen deur 'n grafiese gebruikerskoppelvlak (oftewel graphical user interface) wat die operateur toelaat om die besluitsteunstelsel van die nodige data vir die bestaande probleem te voorsien, en dan die relevante uitset te verkry.

“Die besluitsteunstelsel sal werknemers voorsien van inligting rakende beskikbare kapasiteit van die stelsel en die aanvraag wat die stelsel moet hanteer gedurende die skeduleringsperiode, asook inligting oor die mannekrag wat nodig is vir die duur van onderhoudsperiode."

Eygelaar sê kragverskaffers wat beperkte stelsels het en nie altyd weet watter kragopwekkers om te onderhou nie, kan baat vind by sy navorsing.

Hy voeg by dat kragverskaffers die bevindinge kan gebruik vir die identifisering van sleutel-opwekkingseenhede wat in die nabye toekoms onklaar kan raak en daartoe kan lei dat die stelsel nie gedurende die onderhoudsperiode in die aanvraag kan voorsien nie.

  • Hooffoto: Kragsentrale (Krediet: Pixabay).
  • Foto 1: Dr Jancke Eygelaar by sy gradeplegtigheid. Fotograaf: Anton Jordaan.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Jancke Eygelaar

Decision Inc.

Midrand, Johannesburg

Sel: 072 926 2437

E-pos: jeygelaar92@gmail.com

      UITGEREIK DEUR

​Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za