Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
BRICS-universiteite kan ontwikkelings-uitdagings help oplos - Minister Naledi Pandor
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 05/07/2018

Universiteite in Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika (die BRICS-lande) kan armoede, werkloosheid en ongelykheid in die ontwikkelende wêreld help verminder.

Só het die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nadeli Pandor, op Donderdag (5 Julie 2018) by die Universiteit Stellenbosch (US) gesê. Sy het die openingsrede gelewer by derde jaarlikse konferensie van die BRICS-universiteite-netwerk wat vanaf 5-7 Julie by die US plaasvind.

Die konferensie, met die tema “Unlocking BRICS Universities Partnerships: Postgraduate Opportunities and Challenges", is organiseer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding en die US - een van 12 Suid-Afrikaanse universiteite in die netwerk.

Pandor, ʼn ontvanger van ʼn Meestersgraad in Algemene Taalwetenskap (1997) en ʼn eredoktorsgraad van die US (2013), het gesê universiteite in die BRICS-lande het die potensiaal om ontwikkelingsuitdagings aan te spreek.

“As ons doeltreffend en doelgerig saamwerk, kan ons ons doel om ʼn invloedryke agent vir groei, ontwikkeling en ontdekking te word bereik. Ons het enorme potensiaal om die bestaande en goeie politieke en ekonomiese bande tussen ons lande te versterk."

“Dit is moontlik dat ons ons gesamentlike pogings kan gebruik om by ons kolleags in ander sektore aan te sluit ten einde siektes te beveg."

“Ons kan ʼn formidabele eenheid word vir kennisproduksie en die uitreik van kennis oor die vyf lande heen. Ons kan ʼn katalisator word vir die ontwikkelende werêld en die akademiese verhouding wat in die BRICS-lande bestaan fundamenteel verander."

Pandor het BRICS-universiteite aangemoedig om meer te doen in terme van innovasie, die kommersialisering van hul werk, internasionale publikasie en die getal PhDs.

“Onderwys is ʼn belangrike area van samewerking binne BRICS weens die baie ontwikkelingsuitdagings wat ons onderskeie lande in die gesig staar."

Pandor het gesê sy hoop Suid-Afrikaanse universiteite maak ten volle van BRICS-universiteite-netwerk gebruik en streef na samewerkingsooreenkomste vir navorsing en die uitruil van studente.

Ander sprekers

Ná Pandor se openingsrede het verteenwoordigers van die ander BRICS-lande die afgevaardigdes toegespreek.

Mr Gustavo Brechesi Servilha van die Brasiliaanse Department van Onderwys het gesê die BRICS-universiteite-netwerk het sy land gehelp om ʼn beter idee te kry van wat universiteite in ander BRICS-lande doen.

“Ons het die BRICS-samewerking in onderwys en wetenskap nodig omdat ons dieselfde probleme soos kubersekuriteit, armoede en klimaatsverandering het," het prof Maxim Khomyakov, Vise-Direkteur van die Higher School of Economics-universiteit se St. Petersburg-kampus, gesê. Hy het bygevoeg dat BRICS-universiteite moet saamwerk om studente toe te rus met interkulturele vaardighede wat deur die arbeidsmark benodig word.

Mnr Daoyu Wang, eerste sekretaris (onderwys) by die Chinese Ambassade in Suid-Afrika, het genoem dat die BRICS-universiteite-netwerk help om van die uitdagings in die BRICS-lande aan te spreek.

“Hoër onderwysinstellings behoort die geleentheid te gebruik om samewerking tussen die BRICS-lande te versterk."

Mr Sukhbir Sandhu van die Department van Menslike Hulpbronne-ontwikkeling in Indië het gevra dat universiteite meer moet doen om die mobiliteit van studente in BRICS-lande te bevorder.

Prof Hester Klopper, Vise-rektor: Strategie en Internasionalisering aan die US, het in haar verwelkomingstoespraak (klik hier vir toespraak) gesê universiteite in die BRICS-lande is ideaal geplaas om op globlale vlak die kwessies en uitdagings wat ons gesamentlike en individueel raak aan te spreek.

“As universiteite is dit ons rol om hierdie uitdagings in navorsingsprobleme en akademiese programme te omskep sodat ons kan help om oplossings te vind en die wêreld ʼn beter plek te maak en mensekapitaal vir ʼn gevorderde samelewing te ontgin."

Met verwysing na die US se BRICS-vennootskapsfonds en die werk van die instelling se sentrums van uitnemenheid en navorsingsleerstoele, het Klopper gesê “ons het baie raakpunte met die kern navorsingstemas van die BRICS-universiteite-netwerk."

Prof Ahmed Bawa, Uitvoerende hoof van Universiteite Suid-Afrika, het die konferensie geopen en beklemtoon dat die BRICS-universiteite-netwerk ʼn kragtige impetus verskaf vir die ontwikkeling van nuwe kennisproduserende netwerke in die BRICS-lande en help só om die geopolitiek van kennis en kennisproduksie te hervorm.

  • Hooffoto: Minister Naledi Pandor spreek die afgevaardigdes the delegates.
  • Foto 1: Mnr Daoyu Wang, Dr Diane Parker, Minister Naledi Pandor, Mnr Gustavo Brechesi Servilha, Mnr Sukhbir Sandhu en Prof Maxim Khomyakov by die konferensie. Fotograaf: Hennie Rudman