Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-wetenskaplikes ontvang gesogte nasionale toekennings
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 29/06/2018

Twee van die Universiteit Stellenbosch (US) se voorste navorsers is op Donderdag (28 Junie 2018) met gesogte Nasionale Wetenskap en Tegnologie Forum (NWTF) / South32-toekennings vereer. Hierdie jaarlikse toekennings erken, vier en beloon uitnemendheid in Wetenskap, Ingenieurswese, Tegnologie (SET) en Innovasie in Suid-Afrika.

Prof Resia Pretorius van die Departement Fisiologiese Wetenskappe het die TW Kambule-toekenning ontvang vir haar navorsinguitsette oor die afgelope ses jaar terwyl prof Coenrad Fourie van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese met die prys vir innovasie, navorsing en ontwikkeling deur spanne, individue of organisasies weggestap het​ .

Pretorius, 'n wenner van die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DWT) se Vroue in die Wetenskap-toekenning in 2017, is vereer vir haar ontdekking van die verband tussen inflammasie en nie-infeksie siektes soos Tipe 2-diabetes, Parkinson se siekte en Alzheimers. Sy het getoon dat klein hoeveelhede molekules in die selwande van bakterieë in die bloed beland waar hulle bloedstolling veroorsaak wat tot siektes kan lei​. Dit dra by tot chroniese inflammasie wat deel is van baie sogenaamde nie-aansteeklike siektes.

Pretorius word internasionaal hoog aangeslaan en het ook ʼn gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang. Sy het reeds 247 artikels in hoë-impak internasionaal-geakkrediteerde tydskrifte soos Lancet en New Scientist gepubliseer en spog met 8 boekbydraes. In 2017 is vyf patente wat uit haar navorsing gespruit het geregistreer. Pretorius was en is ook die studieleier van baie jong MSc- en PhD-kandidate, onder wie verskeie jong vroulike Afrika-studente.

Prof Coenrad Fourie het ʼn innovasietoekenning ontvang ter erkenning van die baanbrekerswerk wat sy maatskappy SUN Magnetics (Edms) Bpk doen op die gebied van geïntegreerde stroombane in supergeleidende superrekenaars. Fourie is die direkteur en stigter van die maatskappy. Sy span, bestaande uit ingenieurs en nagraadse studente, het ingenieurswesemetodes en sagteware-instrumente ontwikkel wat die ontwerp en verifikasie van baie grootskaalse geïntegreerde supergeleidende stroombane moontlik maak. Geïntegreerde supergeleidende stroombane word gebruik in energie-doeltreffende superrekenaars, kwantumrekenaarsisteme en kwantumsensors​

Voordat Fourie SUN Magnetics gestig het, het hy sagteware genaamd “InductEx" ontwikkel wat die korrekte uitleg van geïntegreerde stroombane in supergeleidende superrekenaars verifieer. Hierdie sagteware word deur fisici en ingenieurs regoor die wêreld gebruik. Onder SUN Magnetics se kliënte tel die rekenaarreus IBM en die wêreld se voorste metrologie-instituut: die Nasionale Instituut vir Standaarde en Tegnologie in Boulder, Colorado in die VSA. SUN Magnetics dra deur middel van sy dividende by tot die US se finansies.

Fourie is ook ʼn NNS-gegradeer navorser en het verskeie artikels in eweknie-geëvalueerde internasionale vaktydskrifte gepubliseer. Hy was en is ook die studieleier van nagraadse studente.

Fourie is mede-redakteur van die IEEE Transaksies op Toegepaste Supergeleiding, en dien op die Internasionale Adviesraad van die Internasionale Supergeleidende Elektroniese Konferensie.

  • Foto: Proff Resia Pretorius (voorste ry, tweede van links) en Coenrad Fourie (voorste ry, derde van links) saam met ander US-personeellede (waaronder finaliste) by die toekenningsgeleentheid.