Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe departementshoof aangestel in Fakulteit AgriWetenskappe
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 21/06/2018

Dr. Brink van Zyl is aangestel as die nuwe departementshoof van die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Veekundige Wetenskappe.

 

“Die landbousektor benodig deesdae uiteenlopende vaardighede, asook praktiese én tegniese kundigheid. Dit is die soort studente wat ons moet toerus vir die toekoms."

Só sê Dr. Brink van Zyl, nuwe departementshoof van die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Veekundige Wetenskappe.

Die dae dat 'n student gaan boer sodra hy of sy die skool verlaat, is lank reeds verby – die bedryf het heeltemal verander en daarmee saam die manier hoe opleiding verskaf (moet) word. Deesdae moet feitlik elke segment van die landbousektor die jongste tegnologie en insette van verskeie vakdissiplines inspan om ekonomies lewensvatbaar te bly, sê hy.

Dr. Van Zyl, 'n boorling van Kimberley, het vroëer sy doktorsgraad en MBA aan die US verwerf. Hy is die afgelope jaar verbonde aan die universiteit as dosent. Dr. Van Zyl het meer as 25 jaar ondervinding in die privaatsektor, onder meer wat betref uitgebreide veeboerdery en aanvullende voeding. Hy was voorheen werksaam by AFGRI Veevoer as herkouer-spesialis en tegniese bemarkingsbestuurder en by Transvaal Suiker Beperk (Molatek Animal Feeds) as verkoopsbestuurder.

Dr. Van Zyl sien uit na die uitdagings van die pos. Hy het 'n akademiese invalshoek op sake en glo sy ervaring in die privaatsektor sal handig te pas kom in sy nuwe rol. “Ek wil onder meer fokus daarop om nouer met die (landbou)sektor saam te werk," het hy gesê. “Ek beskou dit as 'n belangrike deel van my taak hier om jong professionele kundiges op te lei wat suksesvol die oorgang kan maak vanaf 'n student na die werksomgewing."

Die landbousektor het ingewikkeld geraak, het Dr. Van Zyl gesê.  Dit hou verband met hoe tegnologiese en ander ontwikkelings wat op landbou van toepassing is, grootskaalse omwenteling meegebring het.

Landbouproduksie sal die volgende 40 jaar waarskynlik moet verdubbel om in die groeiende aanvraag na kosprodukte, insluitende proteïenbronne, te voorsien. Die landbousektor moet ook toenemend aanpasbaar wees in 'n wêreld wat snel verander. Hieroor het Dr. Van Zyl gesê: “Die daarstel van voedselsekerheid te midde van uitdagings in die sektor maak ons navorsing krities belangrik vanuit 'n ekonomiese en ontwikkelingsoogpunt."

Hierdie veranderinge het 'n beduidende invloed op opleiding en navorsing. Dr. Van Zyl verduidelik dit soos volg: “Die veranderende konteks en nuwe uitdagings in hoër onderwys en die landbousektor noodsaak ons om anders ons aanbod en onderrig te dink."

Die departement, een van die oudstes in die land, is daarom aan die voorpunt wat betref die gebruik van nuwe tegnologieë om veekundige en verwante bedrywe te help vernuwe.

“Ons lei nie meer soseer landboupraktisyns op nie maar professionele wetenskaplikes, wat ook met sukses tot boerdery kan toetree en of in bedryfsverwagtinge kan voorsien," het hy verduidelik. Studente wat graad kry in die departement werk, onder meer, as konsultante, entrepreneurs, tegnici, landbouvoorligtingsbeamptes, in produk-ontwikkeling of as bestuurders in veekunde en verwante bedrywe. Hulle word onderrig in die studie van die voeding, teling, fisiologie en produksie van plaasdier- en wildspesies, insluitende wild- en akwakultuurspesies.

 

Landbou-onderrig is van die duurstes aan 'n tersiêre instelling (naas medies en  ingenieurswese) omdat gespesialiseerde fasiliteite en heelwat praktiese ervaring word benodig. Dit noop universiteite om toenemend vennootskappe met die privaatsektor te sluit, met betrekking tot beide opleiding en navorsing. Dr. Van Zyl glo universiteite gaan voortaan daarom al hoe meer op hul self aangewese wees om finansiering vir navorsing te verseker.

 

Oor die komende paar jaar wil Dr. Van Zyl poog om nouer bande met die (landbou)sektor te fokus. “Dit is van sleutelbelang dat ons toepaslike opleiding verskaf en navorsingsuitsette lewer wat die ekonomiese lewensvatbaarheid van landbou in ons streek en elders op die vasteland kan help verseker."