Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Couper erken vir leierskap in landelike gesondheid
Outeur: Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 21/06/2018

Prof Ian Couper, internasionaal gerekende kenner op die gebied van landelike gesondheid, is op die 15de Wêreldkonferensie oor Landelike Gesondheid met 'n leierskapstoekenning bekroon. 

Gesondheidsberoepslui van oor die wêreld is by hierdie geleentheid in Nieu-Delhi, Indië, vir hul bydrae tot die ontwikkeling van landelike gesondheidsorg vereer, met Couper die enigste een uit Afrika. 

“'n Volslae verrassing," is hoe hierdie 56-jarige sy jongste toekenning beskryf. Hy is tans direkteur van die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en beskou dit as erkenning vir die werk wat daar gedoen word om ʼn verskil in landelike gebiede te maak. 

Meer as 1 000 belangstellendes het die konferensie bygewoon. Dis veral opwindend dat soveel jong dokters en studente na vore tree en leiersrolle in landelike gesondheid die wêreld oor inneem, sê Couper. 

Hy self is reeds die afgelope 22 jaar internasionaal by landelike gesondheid betrokke. Hy glo die nege jaar wat hy in 'n afgeleë landelike gemeenskap in die noorde van KwaZulu-Natal kon deurbring, het in wese sy loopbaan gedefinieer. Dit was daar wat hy in 1996 die geleentheid gekry het om sy eerste Wêreldkonferensie oor Landelike Gesondheid by te woon. “Dit het my laat besef dat die uitdaging om landelike gesondheidsorg te voorsien, nie net 'n Suid-Afrikaanse probleem is nie en dat lande van mekaar kan leer." 

Voortspruitend daaruit was hy die volgende jaar medestigter van die Landelike Doktersvereniging van Suider-Afrika (RuDASA). 

Voordat Couper die pos by Ukwanda opgeneem het, was hy 13 jaar lank aan die Universiteit van die Witwatersrand verbonde, onder meer as hoof van die Wits Sentrum vir Landelike Gesondheid. Oor die jare het hy sterk internasionale bande opgebou. Buiten dat dit tot vele buitelandse besoeke gelei het, was hy besoekende akademikus aan verskeie buitelandse instellings. 

Kyk mens na landelike gesondheidsorg in die algemeen, is 'n groot knelpunt vir gesondheidsberoepslui toegang tot spesialiste en ander kollegas, maar ook toegang tot toerusting, tegnologie en die vervoer van pasiënte, sê Couper. Bykomend daartoe speel die beskikbaarheid van onderwys vir kinders en werkgeleenthede vir eggenote 'n rol. 

Maar uiteraard is daar groot belonings. “Jy werk nie net met getalle nie. Jy leer die mense ken, jy maak 'n verskil, en jy kan dit sién omdat jy so nou betrokke by die landelike gemeenskappe is. Daar is ook die bevrediging van 'n span gesondheidskundiges wat nou saamwerk." 

Sy wens is dat Uwanda op sy internasionale bande sal voortbou en as voorbeeld en baken van landelike gesondheidsorgopleiding en -ontwikkeling vir Afrika sal dien.

 

Onderskrif (hooffoto): Prof Ian Couper.

​Onderskrif (insetsel): Prof Ian Couper ontvang 'n leierskapstoekenning tydens die 15de Wêreldkonferensie oor Landelike Gesondheid.